Ek maak mense kwaad

Vandag gaan mense my seker wil afslag oor hierdie stuk. Ek is van die mense wat nie aftrek op die geel streep dat ander van agter af kan verby kom nie. Selfsugtig, né? Ja, ek trek wel af as dit regtig oop pad is en jy ver voor jou kan sien. Teen ‘n blinde bult? Ek is jammer. Ek trek NIE af nie.

Ek ry sover moontlik die spoed wat aangedui word. 120 op ‘n 120 pad. Ek hou nie die verkeer op nie. Die jaagduiwels moet maar verbykom waar die pad dit toelaat en dit veilig is.

Die probleem is, trek jy ter wille van een persoon wel af, kom die karre net eenvoudig van agter af verby, of dit veilig is, of nie. Hulle druk verby en gee nie ‘n snars om vir jou veiligheid nie. Is daar dan skielik iets voor jou in die pad, kan jy nie uitswaai nie, want hier is ‘n kar langs jou, vasgedruk tussen jou en aankomende verkeer. ‘n Kar wat REGTIG NIE DAAR HOORT NIE. Vir ‘n paar sekondes hou almal asem op en wonder, gaan daar nie ‘n botsing kom nie en dankie, Vader, die kar is verby en almal is weer veilig.

Wat my net so irriteer is die karre wat wel uit die goedheid van hulle hart aftrek op die geel streep. Plaas dat hulle net aanhou om hulle spoed te ry. Ek sal self verbygaan waar dit veilig is. Hulle ry dan gewoonlik stadiger en ook nog op plekke waar ‘n mens nie ver vorentoe kan sien of dit veilig is nie.

Ek verkies om binne die padreëls te bly. ‘n Mens mag slegs aftrek as jy ver genoeg vorentoe kan sien, ek kan nou nie onthou hoe ver nie. Verder mag jy NIE op ‘n sperstreep verbysteek nie. So maklik soos dit! En sou jy op ‘n sperstreep wil verbysteek en jou kar indruk tussen twee ander karre, soms selfs drie, omdat daar van voor af ook iemand besig is om teen ‘n sperstreep verby te streep, is dit jy wat die wet verbreek, nie ek nie. Ek verkies om van ‘n tweebaanpad ‘n tweebaanpad te hou en dit nie ‘n drie- of vierbaanpad te maak nie.

Hier is net te veel mense wat ons paaie onveilig maak, ek gaan nie bydra daartoe nie. En terloops, as ek met jou op die selfoon praat terwyl ek bestuur, weet dat ek afgetrek het om jou nommer te skakel en dat ek oor die ‘speaker phone’ praat. Ek praat met die blou ogie deur middel van die radio. Geen selfoon in sig nie, hy lê in my handsak, besig om te laai.

Veilig bestuur

Toortsie

46 thoughts on “Ek maak mense kwaad

  1. Dis onwettig om in die geel sperstreep te ry en ek stem heeltemal saam met jou. As ek by die spoed hou, moet die haastige Hansie maar wag totdat hy verby kan jaag. Nou die dag het iemand in die vinnige baan op die snelweg, heen en weer geslinger oor die pad. Toe ons aan sy linkerkant verbygaan, sien ek hy is besig om te tik op sy selfoon!!
    Oe, die totale gebrek aan dissipline is ‘n simptoom van dieperliggende probleme in ons samelewing!

    Liked by 1 person

      1. Die feit dat jy sê mense gaan kwaad wees oor jou pos, wys hoe vêr heen ons is. As mense kwaad is oor iets wat duidelik ‘n wet of ‘n reël is, wys dit op ‘n inherente gebrek aan insig en dissipline.

        Liked by 2 people

  2. Weet jy, ek is ook ‘n pyn in die dinges as dit kom by padreëls. Wens almal kan ook net daarby hou.

    Dit klink dalk simple, maar ek glo as jy jou nie steur aan iets so eenvoudig soos padreëls nie dra jy by tot die verval van ons land. Almal moet NET hulle klein deeltjie doen en dinge sal dan net effe makliker gaan.

    Maar nee. Sommiges glo mos reels is daar om gebreek te word. En buitendien, as jy nie by die padreëls hou nie is jy niks beter as die jaagduiwels en taxis nie.

    Liked by 1 person

    1. Absoluut. Ook ek oortree soms, op baie gebiede, dis menslik, maar ek probeer my bes. Die kanniewarriehouding maak ons medepligtig. Dan mag ons nie kla oor die verval as ons doelbewus meedoen nie.

      Liked by 1 person

  3. Stem! Toortsie vir minister van Veilige Paaie…. dis omdat almal hulle eie reëls maak dat ons paaie so slagveld geword het. Soos die klomp verkeer wat die agfgelope paasnaweek op die snelweg van Pietersburg af, in die teenoorgestelde pad se baan gaan ry het…..dat daar nie ‘n geweldige ongeluk was nie is my dop se deksel….

    Liked by 2 people

  4. Behalwe vir die ooglopende veiligheidrisiko én die feit dat dit teen die wet is, verkies ek persoonlik dat iemand NIE oorskuif na die geel lyn toe wanneer ek van agter aankom nie, vir ‘n baie meer praktiese rede. Al die padgemors versamel buite die ryvlak in die geel streep, en dus het ek wat agter jou ry ‘n baie groter kans om ‘n klip of iets dergliks teen my voorruit te kry van onder jou voertuig se wiele as wanneer jy in die ryvlak hou, en jy het natuurlik ‘n baie groter risiko vir ‘n pap band.
    As jy my regtig ‘n guns wil doen, gee my net ‘n indikasie met jou flikkerlig indien jy kan sien die pad voor jou is skoon en ek veilig verby kan kom.

    Liked by 2 people

    1. Jy noem hier ‘n baie waar ding. Ek kry stuipe as mense soms van die teerpad af trek en dan regtig klippe gooi. Ek bedoel nie om te stop nie, maar om vir my te laat verbykom. Dit geld natuurlik nie vir plaasimplemente nie, want hulle moet wel aftrek sodat ander kan verbykom

      Like

      1. Jy bedoel soos die ou wat met sy groot 4×4 bakkie tot reg op my klein karretjie se stomp stert ry, sodat ek net die tande van sy voorste grill in die spieël kan sien? Ek laat hom verbykom en dan ry ek reg agter hom, net so onder sy regterhandse spieëltjie, sodat hy die heeltyd kan sien hoe wuif en glimlag ek vir hom. Is daar iets wat jou meer beangs sal maak as ‘n gryskop ou tannie se grynslag in jou spieël – myl na myl?

        Like

  5. Hulle kan maar so kwaad wees as wat hulle wil – solank jy, ons en hulle veilig by ons bestemming aankom. Ons vat baie die langpad, en my hare rys elke keer oor die onnoselheid wat ons langs die pad raakloop…

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!