‘n Vriendelike goeiemôre

Sonell het hierdie op haar Facebook gesit:

Dalk het my geskriffie vandag nie regtig met hierdie pragtige woorde van Sonell te doen nie, maar dit maak nie regtig saak nie. Sy skryf ‘n baie waar ding.

Ek moet julle iets vertel: So verskriklik lief ek vir mense is, trap ek tog soms klei in verhoudings. Dalk trap ek nie meer klei as ander nie, maar ek is geweldig sensitief daarvoor as daar iets skeefloop en ek kan my vir jare daaroor kasty. Ernstig kasty en dít is juis ‘n kenmerk van my persoonlikheidstipe. Dalk is dit omdat ek so eerlik en reguit is en dus op tone trap?

Maar opregte vriendelikheid en sommer met enige persoon gesels, is nét so natuurlik vir my. Dis my wens om lig uit te straal. Hoe toevallig dat ek juis ‘n liggie gekies het as my skuilnaam!

As ek in die dorp stap, maak ek ‘n punt daarvan om almal vriendelik te groet. Goeiemôre. Soveel keer is die reaksie baie meer as wat ek terugverwag.

‘n (Vreemde) tannie werk in haar tuin. ‘Goeiemôre’, sê ek sommer in die verbyloop. ‘Goeiemôre, hoe gaan dit?’ ‘Dit gaan goed dankie. Met tannie? Tannie is darem fluks” Skaambly sê sy, ‘ag, ek probeer maar.’ ‘Tannie se tuin is pragtig.’

Ek stap verby ‘n kleurlingdame. Sy lyk besonder mooi en ek sê dit vir haar. Sy vertel my dis haar verjaarsdag en ek en sy omhels mekaar net daar in die straat. Die hele ou gesiggie straal, skamerig, maar so liefdevol.

In my vinnigloop stap ek verby ‘n swartman, hy lyk redelik ingedagte. ‘Good morning’. Vriendelik kom die antwoord, ‘Good morning, how are you?’ Ons praat nog ‘n paar woorde en hy gee my die oopste, vriendelikste glimlag.

‘n Tannie wat ek redelik goed ken, staan met ‘n snoeisker in die hand voor haar huis. Ons praat ‘n paar woorde en sy vertel my hoe mooi haar man gesterf het en dat dit vir haar so kosbaar was.

Iemand stop by my en wil net seker maak of ek vir die oefening stap en of ek dalk hulp nodig het.

Hierdie dinge gee vir my energie. Dit vra niks van my nie, behalwe ‘n vriendelike goeiemôre. Niks meer nie, maar ek kry soveel meer terug.

My pa het altyd gesê, ‘groet die mense, dit kos jou niks’, maar hoe sal ek ooit weet of daardie groet nie dalk juis die ding is wat die ander persoon op daardie oomblik broodnodig het nie?

Toortsie

Kyk watter aanhaling staan net mooi vanoggend in my dagboek: ‘Do not wait for leaders; do it alone, person to person. ‘ -Mother Teresa. En dan wil ek hierby voeg: ‘Wees jy die leier, maak jy die verskil. ‘ – Toortsie 😊

28 thoughts on “‘n Vriendelike goeiemôre

  1. Ek beny mense soos jy Toortsie! Ek wens ek kon so wees. Mense dink (verkeerdelik) dat ek ‘n snob is, maar dis so ver van die waarheid af. Ek kan net (ongelukkig) nie geselsies maak met mense nie. Ek voel te ongemaklik-vreemd-skaam om dit te doen. 😆

    Liked by 2 people

    1. Ag, onthou ons is almal uniek. Ek is seker jy het pragtige eiensakappe. Jy hoef nie geselsies te maak nie. Glimlag sommer net vriendelik vir mense wie se oog jy vang. Ag, ek is seker jy doen dit. 😊

      Liked by 2 people

  2. Dit is vir my ook die lekkerste lekker om met vreemdes omgang te hê. My kinders kon dit nooit verstaan dat ek sommer so met vreemdes praat nie. Ek is dankbaar dis my tipe persoonlikheid.

    Liked by 2 people

      1. Dit kos niks om vir n ander persoon te glimlag of te groet nie….en dit bring seën vir albei. Ek staan verlede Sondag en wag dat die stroom mense wat in die eerste diens was uitkom. ‘n Vrou pragtig aangetrek is tussen die klomp. Ek glimlag vir haar en sê sy moet tog onthou om my klere volgende Sondag vir my terug te bring. Sy slaan haar arms om my nek en fluister die klere het sy in Switzerland gekoop. Ek vertel haar hoe mooi sy lyk en haar gesig straal. Een minuut van jou tyd en jy laat ‘n ander persoon straal.

        Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s