Reëls

Ons het ‘n rukkie terug almal geskryf oor speletjies. Bordspeletjies.

Vir my is dit belangrik dat daar by die reëls gehou word en sou ‘n mens, weens omstandighede of eie keuse, die reëls buig, dit bespreek word sodat almal daarby kan baat. Die maklikste manier om my te verloor, is om die reëls keer op keer, na hartelus te verander.

Ook in die werklike lewe is dit vir my glad nie moeilik om reëls te volg nie. As iets ‘n reël is, is dit ‘n reël en jy hou daarby, tensy ek in my hart oortuig is dat dit ‘n belaglike reël is.

Daar is vir my niks so verwarrend, as wanneer die spelreëls van die lewe sommerso verander nie, sonder kennisgewing, sonder om my in te lig nie. Dis dan wanneer ek in die moeilikheid beland, omdat ek volgens ou reëls werk en die nuwe reëls bevraagteken.

En dit laat my dink, as dit vir my, ‘n volwassene, wat maklik aanpas, verwar, hoe moet dit nie ons kinders verwar as dit wat vandag reg is, skielik môre nie meer reg is nie, en andersom? Hoe moet hul dan weet hoe om op te tree as die reëls gereeld bly verander?

Ek wonder ook, wat leer ons ons kinders as ons die spelreëls keer op keer verander, as ons inkonsekwent is? Leer ons vir hulle dat ons onbetroubaar is? Of leer ons vir hulle dat dit maar reg is om die spelreëls van die lewe te verander soos wat die wind draai? Leer ons vir hulle dat dit aanvaarbaar is as ons nie ons woord hou nie?

Ek glo regtig daarin dat ons vir onsself baie moeite en verdriet spaar deur konsekwent te wees, selfs al is dit in die begin moeilik.

Soos die Bybel sê: ‘Laat jou ja ja wees en jou nee nee. ‘

Toortsie

5 thoughts on “Reëls

  1. Ek lees spelreël het verander maar ek weet nie WAAR nie? Ek spel soos ek geleer is en basta met die res. Oooooo ek is mos onseker oor spelling die laaste tyd…. dus gaan niemand weet of dit reg of verkeerd is nie 😊

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!