Toortsie se voelgoedstorie nr 21 – Elim

Soos gepubliseer by Finesse Goedvoelblogs iewers ‘n jaar of wat gelede.

Ek en my dogter het in die motor voor Elim se kerk sit en wag dat die orkes moet kom oefen, half 8 die aand.

Elim is ‘n Morawiese sendingstasie. Dit was donker en doodstil, net hier en daar het ‘n straatlig gebrand. Al stemme wat ons hoor was dié uit ‘n klein kafeetjie daar naby. Drie seuns kom speel-speel met ‘n bal verby. Die rustigheid en vreedsaamheid was voelbaar.

Saam met die orkesleier het ons in die groot, wit kerk met die spierwit houtbankies gaan sit en gesels. Ek kon nie anders as om terug te dink aan een aand toe ‘n Elimiet ons genooi het na die Paasnagmaal nie. Die hele week voor Paasfees word voorbereidings getref vir die Paasfees. Een dag stap die hele dorp na die begraafplaas en gaan sit blomme op die grafte. Alle Elimiete wat in die afgelope jaar gesterf het, word onthou. Die huisies word wit geverf vir die Paasfees. Vis word ingelê.

Donderdagoggend voor Paasfees is die kerkdiens en die aand word die nagmaal bedien. Toe ons sterk skemer die dorpie inry, is die strate vol mense op pad kerk toe, die dames in wit geklee, die mans in swart. Kan jy jou die gesig voorstel?

In die kerk sit die dames en mans apart. Een deel van die kerk gevul met spierwit geklede dames, die ander helfte die mans in die swart pakke.
Daar is baie gesing, die een lied ná die ander, terwyl die brood en die wyn bedien word. Hou die lied op, stop die bediening. Sodra die sang weer aangaan, gaan die bediening voort. Op ‘n stadium, in die middel van ‘n lied, staan almal op en begin mekaar groet, en aan die einde van die diens, weer so!

Almal drink uit dieselfde beker wat van persoon na persoon aangegee word. Daar is darem ‘n paar bekers om die bediening te bespoedig.

Wat ‘n belewenis! God is hier teenwoordig!

Toortsie

Toortsie by Finesse: Ek wou so graag groot dinge vir die Here doen.

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

5 thoughts on “Toortsie se voelgoedstorie nr 21 – Elim

    1. Ja. Ek dink by die gewone dienste sit hulle wel bymekaar. In my kinderdae het ons altyd maandelikse eredienste by ‘n buitewyk gehad. Die ou mense het nog apart gesit: tannies links, ooms regs. Dis eers my ouers se geslag wat bymekaar gesit het.

      Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!