Verwildering

Spreuke 29:18: ‘Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ‘n volk; dit gaan goed met elkeen wat die wet van die Here onderhou.’

Soos ek deur Kronieke lees en die stories van die konings van Juda volg, kan ek nie anders nie as om raak te sien dat as die koning vir God dien, die volk volg, en as die koning die pad byster raak, val die land se mense.

Nou kan ons maklik agteroor sit en vingers wys: Kyk hoe gaan dit in ons land. Kyk die chaos in die parlement. En ons kan ons handjies vou, want as dit is hoe húlle te kere gaan, hoekom sal óns nou moeite doen.

Dis net daar waar ons die fout maak! Want elkeen van daardie konings wat weer vir God gedien het, selfs nadat die een wat hul voorganger was totaal gefouteer het, kon dit doen omdat daar iemand was wat hul kleintyd die regte pad geleer het en omdat hul raadgewers gehad het wat God dien.

Die ding is, elkeen van ons is ‘n leier op een of ander gebied. Jy is dalk ‘n voorsitter by een of ander vergadering, of dalk het jy ‘n kind, jy is dalk die pa van jou huis. Dalk is jy, selfs in ‘n plakkerskamp, iemand na wie ander kom vir raad. Dalk is jy ‘n spanbestuurder, of die voorman van ‘n werkspan.

As leiers het ons die verantwoordelikheid om ons bes te doen, die Here te dien, en ook ander só te lei tot opbou van die Koninkryk en van hulself.

En voel jy dalk dat jy glad nie ‘n leier is nie, dat jy nêrens iets kan aftiek waar jy voel jy iemand lei nie? Word dan een! Werk aan jouself dat jou optrede só raak dat ander jou sal wil volg. Dalk is dit net mooi jy wat by die werk die voorstel moet maak en begin om soggens gou eers saam ‘n stukkie uit die Bybel te lees en te bid.

Saam kan ons ‘n verskil maak, deur net dit wat God aan ons toevertrou het, te versorg.

Onthou, waar die Woord van God nie gehoor word nie, verwilder die volk. Ons kan dit omkeer. Dis in ons mag!

Daily prompt: Aware. We must be aware, we must wake up, that we are not caught unprotected in the dark!

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Ek is nie ‘n minimalis nie.

Toortsie by Pinterest

 

5 thoughts on “Verwildering

Gesels saam, asseblief!