Toortsie se goedvoelstorie nr 12 – Wat ‘n belewenis!

Soos gepubliseer in Finesse se goedvoelblogs.

Wat ‘n belewenis!

foto-by-toortsie-12-belewenis

Ek het my vanaand verkyk aan die wolke toe ek gaan stap het. Ek het die mooiste sonsondergang in ‘n lang tyd beleef.

Eers was dit goud wat tussen die donker, donker wolke deurgeskyn het. Elke donker wolkie het voorwaar ‘n goue randjie! Soos die son gesak het, het die wolke rooier en rooier geword, mens sou sweer hulle is aan die brand. Hier en daar het stukkies son so tussen die wolke deurgeskyn.

Skielik was die son onder en ek moes terugdraai. Nog was het einde niet! Die wolke was in skakerings van ligblou, grys en donkerblou, maar orals het die hoogste dele van die wolke nog ‘n sonstraal gevang, steeds in die rooiste rooi. Hoe lui die gesegde? Rooi in die aand, nat in die môre? Ons hoop so!

Ek was nog my aan die verkyk aan die rooi wat al hoe ligter geword het, die wolke wat al hoe meer die blou kleur van die lug aangeneem het, toe die volmaan vir my loer! Dit het al donkerder begin word en die maan het so saam met my beweeg, ek dink hy is ‘n bietjie vinniger as ek! Soms het ek sommer net gaan stilstaan en ons het vir mekaar gekyk, ek en die maan. Hy het nog presies dieselfde gesiggie wat hy in my kinderjare gehad het, sy gesigsuitdrukking het ook nog nooit verander nie. ‘Ek kyk na die maan en die maan kyk na my. God seën die maan, en God seën my,’ het Joan Walsh Anglund geskryf in ‘n Sakboekie vol Gesegdes wat my ma kleintyd vir my gelees het.

Al hierdie dinge het ek beleef met die wind as die enigste klank in my ore, ‘n voëltjie wat tjirp, twee kraanvoëls wat krys en ‘n kolgans wat iewers raas. Hier en daar ‘n skaap wat blêr. Ek kan nie anders as om te dink: God is hier teenwoordig! Wát ‘n voorreg!

Toortsie

(Naskrif: Hierdie gaan ek mis!) Postaday: Replacement  Yes! That is what it is! I am going to replace this peace and calm for the buzz of the town.

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Is ek te laat vir ‘n nuwejaarswens?

Toortsie by Pinterest

16 thoughts on “Toortsie se goedvoelstorie nr 12 – Wat ‘n belewenis!

    1. Dankie vir die ‘mooi geskryf’. Ek het die moois te woorde vir bloginskrywings as ek gaan stap, maar wanneer ek by die huis aankom, is hulle weg. Hierdie was ook so ‘n geval. Ek het dit dadelik kom neerskryf, maar steeds het dit vir my strammerig gevoel, glad nie so glad en reg soos die oorspronklike woorde nie.

      Like

  1. Nostalgie is my emosie met sononder, my verlang tyd en vrede tyd. Vang jou stap gedagtes vas op n stem opnemer. My gedagtes op die oomblik is altyd beter as my skryf woorde later. Die natuur verkondig die grootheid van God in jubelende kleure en geure.

    Like

  2. As hierdie nou gister gebeur het sou ek glo die Here het jou op hierdie manier afskeid laat neem van die plaas. Tussen die mielielande was daar altyd die pragtigste sonsondergange. ‘n Paar dae voor ons trek stad toe gaan die son onder in ‘n skouspel wat ek nog nooit voorheen gesien het, en tot dusvêr nog nooit weer gesien het nie. Ek het op die motorhuisdak geklim om dit te probeer afneem maar was nie baie suksesvol nie. So het ek totsiens gesê aan ons jare tussen die mielielande.

    Like

Gesels saam, asseblief!