Hoe het julle ontmoet

Hoe het jy en jou man/vrou mekaar ontmoet? Hoe het jy en jou beste vriendin mekaar ontmoet?

Op skool was ons ‘n driemanskap. Die eerste dag in standerd twee wat ek in die dorpskool ingestap het, het die een vriendin haar oor my ontferm. Ons het end-uit maats gebly, mekaar bietjie verloor in ons grootmensjare en toe ons mekaar nou weer raakloop, aangegaan waar ons laas gestop het. Vriendin 2 het later in die skool gekom en iemand het haar sowaar teen my gewaarsku! Kan jy nou meer! Op ‘n stadium moes ons toe ‘n klavierduet saam speel en tot vandag is ons steeds maats.

Kort na ons troue het my man vir sy dorp rugby gespeel. Die Saterdagmiddag was daar ‘n wedstryd. Iemand wat hy geken het, is die week net voor ons getroud. My manlief het vir my gesê ek moet sy vrou gaan groet, sy is die vrou op die pawiljoen met die rooiste lippies. Daar was seker maar nie baie vroue op die pawiljoen nie, maar ek het reguit na haar toe gestap en ons het begin gesels en gesels steeds voort ná al die jare.

In my studentejare was daar een aand ‘n sokkie in ons koshuis. Die onbekende manlief het by die deur ingekom en vir my gevra vir ‘n dans. Ek was vies want ek het my oog op iemand anders gehad! Wel, die res is geskiedenis, ons dans steeds lekker saam!

Nou toe! Jou beurt! Vertel! Hoe het julle ontmoet?

Toortsie

10 thoughts on “Hoe het julle ontmoet

  1. Het al ‘n blog elk oor Pauline en Deslyn geskryf. Pauline die eensame pleegsorgdogtertjie wat ek in graad 1 jammer gekry het en gesê het sy moet saam met my en ander maatjies speel… en toe is ons tot matriek toe maats. Deslyn wat ek op sestienjarige ouderdom ontmoet het… slegte invloed in my tienerjare op my gehad… maar my beste vriendin tot met haar dood op 48 jarige leeftyd. My man… nie vir kinderore bedoel nie… of eerder oë 😉

    Like

  2. Ek het my Manlief by die kerkbasaar ontmoet – my pa se boetie was vriende met Manlief se kollega en hulle het die besigheid ge-orkestreer. My beste vriendin op skool het ek in Pre-primêr op die swaaie by die skool ontmoet. Deesdae sien ons mekaar maar min maar as ons die dag bymekaar is tel ons bloot die drade op en gaan weer aan!

    Liked by 1 person

  3. Ek was die nuwe dogtertjie in die klas toe ek in die middel van St 3 van Louw Geldenhuys Laerskool na Fairland Laerskool geskuif het. Toe sit Juf Kotze my langs Gerrit, slim, goeie atleet, dimpels en hy het besluit hy hou van my. Hy het dit op ‘n snaakse manier gewys; ‘n streep met sy liniaal in die middel van die bank getrek en my verbied om my arm oor die streep te laat gaan en my geterg saam met sy maats. en agter my gesit op die bus op die Skukuza toer en vir my Winegums gekoop. Standerd 5 was ons saam in ‘n bende Die Rooi Duiwels en het ons kennetjie gespeel en kleilatfights gehou teen ander seunsbendes in die Potugese tuine en by die kwarriegate waar die snelweg nou is. Ek is koshuis toe en hy Seunsskool toe. In matriek het sy vriend hom gedare om my uit te vra en ons is saam matriekafskeid toe. Saam geswot en nou 37 jaar getroud.

    Liked by 2 people

  4. Wat ‘n lekkerte om so in die verlede te gaan kuier! Ek was baie introvert en menssku op skool en het net een maatjie gehad. Sy het ander belange gekry en toe het ek ‘n nuwe vriendin gekry. ‘n Volle ekstrovert wat my gewys het hoe lekker die lewe eintlik kan wees! In matriek het sy my laat weet dat daar ‘n outjie is wat haar heeltyd uitvra en sy hou nie eintlik op daardie manier van hom nie. Sy moet egter na sy huis toe gaan, want hy het ‘n “double tape-deck” en baie musiek. Wil ek nie maar saamkom nie? Ek trek toe my mooiste klere aan en ons twee gaan toe af na die man se huis – ha-hamm 🙂 En daar sit ek met my mond vol tande en hy en my vriendin gesels die hele 3 ure tot ons huis toe is. Nie ek of hy juis baie beïndruk met mekaar nie. En wat doen Vriendin? Sy bel my en sê die man is dolverlief op my en wil my graag weer sien, en sy bel hom en sê ek is dolverlief op hom – ek sit nou alleen by die huis en hoop heeltyd hy moet my bel en vir my musiek bring en vir my kom kuier 🙂 . En dit was die begin van die wonderlikste tyd in my lewe. En hier sit ons 26 jaar later, 22 daarvan so gelukkig getrouden met twee allerpragtige kinders. En ‘n hart vol dankbaarheid vir hierdie vriendin wat so skelm was en eintlik ‘n “perfect match” gemaak het! Ek het ongelukkig kontak verloor met haar en is baie spyt daaroor.

    Like

  5. Ek het ‘n paar beste vriendinne. Mouns en ek het die eerste dag van Technikon begin gesels en klasvriende geraak. Oor die jare het ons uitmekaar geseil, want ons lewens het hulle eie gang gegaan, maar na 20 jaar is ons hartsvriendinne en het ons ‘n besondere band.
    Yollie se seuntjie Chris en Engel was van die ouderdom van 3 maatjies by die kleuterskool. Eventueel het ek agtergekom dat Yollie ook ‘n ma is wat tuis is in die middae, en het ek haar en Chris oorgenooi vir tee en cremora tert. Ons is nou al vriendinne vir 7 jaar. Alhoewel sy nou in die Kaap bly is nog baie “close” en verlang ons dood na mekaar!
    Ek en Judes het vriende geword in Engeland. In ons eerste woonstel was daar net twee woonstelle op elke vloer en Judes en haar man het toevallig oorkant ons gebly. Ons vier het ongelooflike goeie vriende geraak. Toe hulle verhuis Australie toe het dit vir my gevoel soos dood in die familie. Amper 18 jaar later is hulle ook al ‘n rukkie terug in Johannesburg en kuier ons soveel as moontlik oor en weer.
    Manlief het my raak gesien voor ek hom regtig raak gesien het. Ons het gewerk by dieselfde firma en ek was die een wat altyd gratis rugby kaartjies uitgedeel het. Een van sy vriende was eintlik erg op my so dus was ek “verbode vrugte. Maar toe Manlief besef ek stel nie belang in sy vriend nie, het hy my stadig inkatrol!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!