Pondoland dag 5

Pondoland Dag 5
Dag 5 van ons staptoer het sy eie uitdagings gebring. Ons was ernstig gedruk vir tyd weens persoonlike verpligtinge wat meegebring het dat ons reeds half 8 weggespring het. Let wel: Weggespring met ‘n spoed wat skrik vir niks. Ons stap om die dag se afstand in ‘n rekordtyd af te handel. Ek het juis die vorige aand dit met die gids gereël en hy het verstaan, én só gereageer, dat ons haastig is.

Kyk, ek stap baie by die huis, met baie bulte daarby ingesluit, maar regtig, bulte soos hierdie het ek nog nêrens teëgekom nie. Mens begin ewe moedig met ‘n bult, net om
‘n entjie later jouself in die laagste moontlike rat in te ruk. Onthou, dis die Wildekus. Mens kan nie heeltyd langs die see loop nie, dis hoë rotse. Afgronde, met branders wat teen die rotse breek. Dan moet jy bo-oor die baie steil en hoë koppie tot by die volgende baaitjie, waar die sand jou weer kou, net om wéér bo-oor te moet gaan.

Op ‘n stadium het ons ‘n keuse: Bo-oor, of ‘n korter, maar baie gevaarliker pad. Ons kies die korter roete. Haastig, onthou julle? Dit gaan heel goed, tot ons skielik moet af teen ‘n steil afdraend, met nie eintlik iets om aan vas te hou nie , en die klippies is glad. Beweeg jy net effens, begin daardie klippies gly. Op ons boude is ons daar af, die laaste
stuk het ek soos ‘n krap hande-viervoet daar afgeskuif. Net om weer by steil rotse af te klim en dáár die volgende uitdaging te kry: Dis hoogwater. Jy wag dan tot die brander terugtrek en hardloop so vinnig jy kan voor die volgende brander kom! Adrenalien pomp op sy beste!

Op ‘n stadium het ek gevoel dat genoeg genoeg is wat die bulte aanbetref, toe ons skielik ‘n lang sandstrand sien met Port St Johns aan die einde daarvan! Iewers was daar ‘n hele skool dolfyne in die branders…

‘n Klein bootjie het ons vir oulaas oor die rivier geneem, en nee wat, dit was nie só erg nie… Dalk nie… Maar wraggies!
Maar beslis die moeite werd om te doen.

Groete
Toorts

10 thoughts on “Pondoland dag 5

  1. Sjoe dit klink of jou liggam beslis baie moes deurmaak. Tog klink dit of dit die moeite werd was want ek dink om so heeltemaal iets anders te doen is belangrik vir liggaam en gees. Amazing wat jy reggekry het!

    Liked by 1 person

      1. Dis goed om te stap. ek stap ook baie. Ek kom wel agter dat dit nie meer so vinnig gaan as wat ek sou wou nie . Steeds dit is belangrik om te beweeg

        Like

Gesels saam, asseblief!