Saterdag trou Jay. Ek is bly vir hierdie tweede kans wat sy in haar lewe kry, maar WEER ‘n plaastroue!!! Waar die kind aan haar liefde vir plaas en perde kom weet ek nie – miskien my grootouers se boerebloed wat sterk deur haar are vloei – maar is een plaastroue nie genoeg nie? Die storie loop so.
Jay wou ‘n plaastroue hê. Nie sommer enige plaas nie; nee niks “fancy” nie, dit moet so na as moontlik aan die veld, of sommer in die veld wees. Ook moet dit intiem wees; sy soek nie ‘n klomp vreemde gesigte om haar nie.
So loop ons op ‘n dag die ma van een van Chantè se vriendinne uit ons dae tussen die mielielande raak. Sy bied vir Jay hulle pragplaas se skuur aan, maar dit is nogsteeds te modern. Die vrou se stem is iewat huiwering toe sy vertel van ‘n plaas wat hulle het wat die grond gebruik word vir boerdery, maar verder baie primitief is. Jay kan gaan kyk, en as sy daarmee tevrede is kan sy dit met die grootste liefde as trou “venue” gebruik. Die plaas het nie ‘n woonhuis nie, maar wel twee rondawels; en is ingerig as wegbreekplek vir hulle kinders, en diè se maats.
‘n Paar dae later vat ons die pad plaas toe. Die grondpad na die rondawels toe is nou, maar rybaar. Om deur die rivierloop te kom verg ‘n bietjie meer inspanning, en dan begin die pad stelselmatig klim, en hoe hoër ons klim hoe slegter word dit. Ek slaag ‘n sug van verligting toe die pad by ‘n grasdakgeboutjie doodloop. Die gebou bestaan uit twee rondawels wat met ‘n kort gang verbind is. ‘n Klein badkamer loop uit die gang uit. In die ander muur is daar ‘n kas vol dun sponsmatrasse. Albei deure van die rondawels loop op ‘n nou stoep uit wat een helfde onder grasdak, en die ander helfte oop is, met ‘n boma in die middel van die oop helfte. Voor die stoep is daar ‘n natuurlike dammetjie waarin ‘n paar eende swem. Aan die agterkant is ‘n toegespande kamp waar Koos die Eland rondloop. Hy druk kort-kort sy gesig deur die venster om op die stoep in te sien. ‘n Paar volstruise loop daar rond, en doer in die veld is ‘n murasie of twee. Verder is dit net veld, en Jay is in haar element. “Die karre gaan op hierdie gelykte om die rondawels parkeer,” sê ek, “waar gaan ons die “gazebo” opslaan?” Sy vat ‘n nou voetpaadjie wat opwaarts verby die dammetjie loop, en ons in die veld bring. “Net hier,” sê sy. Ek bekyk die langerige veldgras, en ongelyke paadjie, en frons. “Miskien kan ons ‘n paar klippe so lê dat dit trappies vorm teen hierdie skuinste uit,” stel ek voor, maar sy skud haar kop. “Nee, niks word verander nie, net die aarde en veld soos dit nou is.”
Die dag voor die troue ry Ken met ‘n groot gehuurde sleepwa vol tafels, stoele, en sambrele – Afrika styl gelaai – plaas toe. Marlè hulle volg met ‘n wavrag blomme, en trougoed, en ek bly agter. Die “bruidegom” sal my later die middag kom haal. Ek moet toekyk dat alles wat nog in die motorhuis staan, in die sleepwa gelaai word. Neem ‘n warm onder die kraag bruidegom, ‘n te klein sleepwa vir al die goed, ‘n hoop Ivies – wat Marlè met sorg gepluk het – wat sonder veel seremonie in hoekies en gaatjies ingedruk word; Vrydag verkeer; ‘n afspraak aan die anderkant van Johannesburg waar die bruidegom voor vieruur moet wees, en jy kry ‘n idee van diè middag.
Op die plaas aangekom is dit ‘n miernes van bedrywigheid. So tussen die gewerfskaf deur begin mae grom, en dan kom die besef; niemand het aan die aand se ete gedink nie. Soos Jesus vir sy dissipels gevra het wat het hulle in die lyn van kos, vra ons mekaar nou dieselfde vraag. ‘n Brood, en ses eiers blyk die somtotaal te wees. ‘n Vriendin van Marlè (Carla) – en my sus se dogter kry die taak om elf grootmense, en twee kinders daarmee te voed. Later sou ons hoor dat hulle gebid het vir die vermeerdering van die voedsel. Kenneth – onbewus van die drama rondom die kos – tel ‘n volstruiseier in die veld op, en bring dit saam met hom terug. Daar word om daardie volstruiseier “ge-oe, en ge-aa” asof dit ‘n skat van vele waarde is. Daardie nag slaap ons die slaap van dooies.
Ag ek het nou al te lekker gelees. DAnkie vir die deel
LikeLike
Dankie vir die lees; het hom nou in twee gedeel vir in geval hy te lank was.
Hopenlik hou ons dié Saterdag met minder drama troue. 🙂
LikeLiked by 1 person
Ten minste sal mens dit onthou
LikeLiked by 1 person
Die feit dat ons denims moet aantrek vir hierdie troue, en daar nie stoele nie, maar wel “logs” is om op te sit sê vir my dit gaan nie jou gewone troue wees nie. Ek hou myself hierdie keer baie skaars. Sal Saterdag gaan kyk wat daar aangaan 🙂
LikeLiked by 1 person
Ja, jy sal MOET en kom VERTEL!
LikeLiked by 1 person
Dit maak dit sommer lekker interssant
LikeLiked by 1 person
Ek het nou heerlik saam met julle bruilof gehou.Die vallende skoonma skryf baie oulik!
LikeLike
Dankie perdebytjie 🙂 Ek kan darem eerlik sê dit was nie van te veel wyn dat ek bo-op skoonseun beland het nie. 😆
LikeLiked by 1 person
Ek was eenjaar as jong-nooi op soortgelyke plaastroue in Ceres. Dit was opslag tot op hede die mees romantieste ding wat ek ever beleef het…
LikeLike
Ek weet sowaar nie van romanties nie maar dit was ‘n troue om te onthou.
Ek plaas die tweede helfte later vanmiddag…. dan hou ons troue 😉
LikeLike
Jip. Die bedrywigheid klink vir my presies soos dit moet klink by ‘n plaastroue, en soos ek jou ken, was dit so ‘n sukses, daarom dat sy dit wéér so wil hê. 🙂
LikeLike
Jy spot lekker Toorts. Ek hou my sovêr moontlik uit hierdie saak uit hierdie keer.
LikeLike
Ek sien dit was maar redelik skuins…
LikeLike
Presies my punt. Dit was ‘n redelike klim met daardie voetpaadjie langs boontoe. Gelukkig het niemand van hulle stoele afgegly nie 😆 Van die gaste het nie boontoe gegaan nie maar by die rondawels gewag.
Ek hoor dié Saterdag sit almal op “logs”…. daar is nie eers stoele nie.
LikeLike
Lekker man. Hulle sal stewig sit! 🙂
LikeLike
Aaaaaaah! Ek het dan nou so lekker gesit en lees en daar us dit nou klaar! Ek sien uit na deel 2! 🙂
LikeLike
Ek het hom eers in sy geheel geplaas…. toe dog ek dit is darem te lank; die mense wil sekerlik nie ‘n boek lees nie 😯 Deel hom toe maar in twee. DV vervolg hy vanmiddag.
Altyd lekker as jy inloer Sparkle… sit ‘n “sparkle” in my dag 😉
LikeLiked by 1 person
Ag dis nou sweet 🙂
Sal seker deel 2 lees as ek met die sirkushondtjies gaan stap
LikeLiked by 1 person
Wow – werklik? Dis te pragtig. Ag dankie dat jy dit met ons deel. Dis so spesiaal.
LikeLiked by 1 person
Om so terug te gaan en oor dinge te skryf belewe ‘n mens dit weer intens. Daar is vir hulle twee pragtige kinders uit die huwelik gebore, maar…… Ons as gesin is almal so bly vir hierdie tweede kans.
LikeLiked by 1 person
Baie interessant gewees om te lees. Sien die prentjie voor my. Mens kan nie glo dat sulke geleenthede die langste en beste onthou word. Dit is tog wat n mens maar wil hê is dit nie? Nou moet ek deel twee gaan lees. Ek is bietjie agter met lees.
LikeLike
Jy is bietjie agter met lees… en ek met my skrywe oor Inryfliek. Was dit ‘n skooltaak was ek nou al hoogsbenoud. Hopenlik kry ek vanmiddag kans, anders gee ek maar my taak laat in 😦
LikeLike
Ja wat, daar is nie haas mee nie. Gelukkig kan mens altyd weer byvoeg of edit. Ek gaan ook nog die naweek weer honde oppas. My nuwe stuk is al geskryf want v Vrydag is my internet af tot laat Maandagmiddag
LikeLike