Die windpomp

By Finn's Place in die Drakensberge.
By Finn’s Place in Drakensberge

Hierdie week se uitdaging gaan oor Windpompe.

Windpompe was so deel van die plaasomgewing dat ons nooit enige aandag aan hulle gegee het nie.  Vanuit kinderoë gesien was hulle werk om die sementdam vol water te hou, sodat ons kan swem.  Hulle het rustig hulle gang gegaan, en ons, ons s’n, tot op daardie netelige dag dat ek en ‘n vriendin – wat vir die vakansie saam met my plaas toe is  – besluit het dat die platvorm daar doer bo naby die groot wiel, na ‘n lekker kuierplek lyk.  Ons het teen die windpomp se trappies uitgeklim en met ons bene al swaaiend in die lug op die platvorm gesit en uitkyk.  Dit was heerlik om so hoog in die lug te sit, en ek was skoon verwonderd dat niemand vroeër daaraan gedink het om dit te doen nie.

Ons ingenomendheid was egter van korte duur.  My oupa, ‘n sagmoedige man wat ek tot op daardie stadium van my lewe nog nooit kwaad gesien het, of sy stem hoor verhef het nie (nie eers teenoor die volk nie,) het met ‘n gesig vol woede, en oë wat vuur spoeg teen die windpomp se trappies uitgeklim.  Verbaas het ek na die lat in sy hand gekyk, en na die kwaai stem geluister.  “WAT soek julle twee daarbo? klim dadelik af, of ek voeter julle daar af!!”  Met die woorde slaan, slaan hy in die lug na ons bene.  Hy hoef nie ‘n tweede keer te praat nie, soos blits skarrel ons af grond toe.  Eers onder bedaar my oupa en verduidelik vir ons die gevaar van dit wat ons gedoen het.  “Ek sidder om te dink wat met julle kon gebeur het as die wind gedraai, en die wiel julle beetgekry het.”  Dat hy so kwaad was omdat hy oor ons veiligheid begaan was het ek nie verstaan nie.  ‘n Windpomp wat vir my tot op daardie stadium net iets was wat vir water gesorg het, het meteens ‘n onding geword.

Dit is dan op ‘n windpomp wat ek met die harde kant van liefde te doen gekry het, maar ek moes eers grootword om dit te verstaan.

Nagedagte: Die windpomp op die foto is nie die een waarteen ons uitgeklim het nie 😆

19 thoughts on “Die windpomp

    1. Vandag, met kleinkinders van my eie, verstaan ek dit net te goed!!! Was ek die grootmens in die verhaal sou ek seker soos ‘n tierwyfie tekere gegaan het.

      Like

  1. Ek het vroeer jare my pa (as meisiekind wat eintlik n seun moes wees) gehelp op ons windpomp op te rig op ons boorgat wat nog n ou handpomp gehad het. Kannie glo dat ek dit gedoen het nie maar nou ja as jy aangese word om te help moet dit gedoen word!

    Like

    1. Liewe land vrou dit is sowaar ‘n prestasie!!! Dink nie veel vroue kan spog dat hulle ‘n windpomp help opsit het nie 🙂 Jy het toe nie die platvorm gaan uittoets deur daar te gaan sit en lees of iets nie? Dit is nou my humor vir die dag 😆

      Like

      1. Nee jong na die oprig het ek nie lus gehad om naby die gedoente te wees vir n lang tyd nie. Het in 2010 draai gaan maak waar die windpomp is en hy is wraggies steeds daar en werk nog ook. Dink as ek reg onthou was dit in 1963 toe ons dit opgerig het!

        Like

    1. En hier is jy sommer my tonic vanoggend… die rede hoekom ek so vroeg, vroeg lag. Jy sal nou nooit weet of dit nie miskien die een was nie 🙄

      Like

Gesels saam, asseblief!