askies

Hierdie storie gaan oor ‘n kombersie. ‘n Askieskombersie. Want sien, van sy eerste steek af vra hy “askies”, want hy is nie die gewone kombers met orde en struktuur en als wat reg is nie. Nee, hy is skeef. Niks pas by niks nie. Groot blokkies. Klein blokkies. Skewe blokkies. Reguit rye.

???????????????????????????????Die storie het eintlik begin by my dogter wat wou hê ek moes vir haar ‘n kombers hekel. In die gewone “granny square” patroon. Kleure is gekoop, en ek sou dit hekel op pad Lesotho toe verlede jaar. Ek vra haar: “Met watter kleur moet ek dit omhekel.” Sy antwoord: “Ma gaan NIE op ma se eie wol koop nie, dan wil ek nie die kombers hê nie.” Ek het die wol nodig, want ek wil so ver as moontlik hekel terwyl ons toer. Ek koop toe navy, soos sy wel aangedui het, maar toe ek by die huis kom is die navy wol swart. 😦 Soos ek hekel, stuur ek foto’s per sms. Nee, dis nie wat sy wil hê nie. Ek sê, dis heeltemal reg, ek hekel hierdie een sommer vir die kleinkind wat toe op pad was. Net mooi toe ek met die laaste ry besig is, sien Sus dit. “Maar ek hou hiervan!”. Jammer, jou kans is verby! En terloops, die kombers wat jy wil hê, gaan jy sommer self hekel ook!!

Een nag was my man nie by die huis nie, en 12 uur besluit sus: Nou is die tyd om te leer hekel. Maar almal weet mos hoe dit in die begin gaan: Die spanning is nie altyd reg nie. Die blokkies is nie almal ewe groot nie! Dis mý werk om die blokkies aanmekaar te toor. Op ‘n stadium besef ek: Ek gaan dit nie regkry nie. Maar ek wil beslis hê dat dit wel in ‘n kombers gebruik word. Dis toe dat ek besluit om ‘n kombers te hekel waar niks pas nie. Van dag een af is die mense wat dit sien, se reaksies iets om te aanskou. sommige wys hulle afkeer. Ander is meer taktvol. “Nee man, jy kan beslis beter doen as dít!” “ja, ek kan”…

“Sjoe…, ek sal die eindresultaat wil sien, want nou sien ek net een groot blok en ‘n klomp goetertjies…. ”

Hierdie askieskombers was vir my die bevrydendste ding om te maak. Vry van enige reëls. Vry van “dit moet net só gedoen word”. En ja, ek weet dis nie die mooiste wat ek al in my lewe gemaak het nie, maar dit maak glad nie saak nie. Want met hierdie kombers het my dogter leer hekel, en saam met haar nog ‘n klomp vriende ook. Soveel mense het help hekel hieraan. Soveel sentiment. Nou is kombersie klaar gehekel, maar daar is nog derduisende draadjies wat ingewerk wil word. ???????????????????????????????En hier is een van die spesiale blokkies wat ‘n spesiale mens gehekel het. Hy lyk weer heel anders as die res. ??????????????????????????????? En hier, liewe vriende, is die askieskombers, skeef, krom, bont, maar ék is mal oor hom en na my mening hoef hy vir niks en niemand askies te vra nie. ???????????????????????????????

askiestogtoorts

(fluister…. ek dink daar is min dinge wat my persoonlikheid meer weerspieël as juis hierdie kombersie!!) 🙂

21 thoughts on “askies

    1. Ag dankie Krista. Ek hou ook van hom. Maar ek vermoed pappa gaan op die ou end onder hom sit. Hy sal nie daarvoor vra nie, maar hy sal nie nee dankie sê nie. Dis lekker groot, en sal hom toemaak daar voor die TV en die kaggel.

      Like

  1. Dit is mos nou ‘n kombers met geskiedenis…. en hy gaan nog baie geskiedenis maak ook!!! Ek sê hoeka mos ‘n mens moet uit jou boksie klim om te groei 🙂 Natuurlik moet hy nie askies vra nie!!!

    Like

  2. Die verskil tussen hierdie kombers en die reguit ( gewone, vervelige) komberse, is dat hierdie een in kunswerk is! En jy is heeltemal reg om te voel dat jy nie weer “reg” wil hekel nie, want sien, jy het nou in ‘n kunstenaar ontwikkel – iemand wat sy eie oorspronklike goeters ontwerp – niks reguit en reelmatig meer nie! Die kombers is absoluut pragtig, baie mooier as die reguit weergawes.

    Like

  3. Ek love dit! Alles moet nie so reg en korrek en 100% wees nie…. Ek het ook so ‘n gehekelde kombers wat my pa se ma nog gemaak het en is mal oor dit!

    Like

  4. ek het lanklaas so ‘n mooi kombers gesien! en ek stem met seegogga, dis ‘n kunswerk. pragtig. jislike toorts, as ek nie nou die berg van eksamens voor my gehad het nie, sou ek self nou geïnspireer gevoel het om te leer hekel (hoekom het ek nooit belangstel toe my ouma nog gelewe het nie??).

    Like

  5. al wat ek sien as ek na daai kombersie kyk is warmte!!!!!

    dit is die liefde wat daarin is wat dit so pragtig en unniek maak, laat my nou dink aan een van Dolly Parton se liedjies, my Coat my mama made for me of iets soos daai

    Like

  6. Soos die groot ‘teoloog’ Leonard Cohen sing:
    “Ring the bells that still can ring
    Forget your perfect offering
    There is a crack in everything
    That’s how the light gets in.”

    Like

  7. so lees ek in n ou ou sarie van kameelsteek en probeer en sowaar!! lekker om te doen en anders. ek gee klas in Clarens in die Vrystaat…. hak en steekgogga

    Like

Gesels saam, asseblief!