Resepteboek vir Banting Boerekos

Toe ek ‘n bietjie meer as ‘n jaar gelede begin het met Banting, het ek deur my resepteboeke geblaai, ek doen dit steeds, en gesoek vir resepte wat ek steeds kan gebruik, of net ietwat kan verander om dit Banting-vriendelik te maak. Op daardie stadium het ek slegs van Prof Noakes se boek geweet, maar ek kook boerekos, kos vir gewone huisgesinne in gewone huise. Kosse met gewone bestanddele, niks vreemds nie, behalwe dalk ‘n bietjie Xylitol wat ek slegs hier en daar gebruik in die plek van suiker.
Tóé het ek besluit om ‘n resepteboek saam te stel. Die lêer op my rekenaar se naam is “‘n Jaar van Banting“. Intussen het nóg resepteboeke deur ander skrywers die lig gesien.

Deur die jaar het ek deur baie emosies gegaan, soos, hoekom nóg ‘n resepteboek uitgee? Baie van die resepte het ek reeds op my blog geplaas, mense kan dit mos dáár kry.  Hoekom nie? Want my boek is mos van kosse soos wat ék kook? Dalk is daar mense wat nie op blogs wil rondsnuffel vir ‘n resep nie, wat dalk van ‘n boek hou waar als bymekaar is?
Seegogga is ‘n inspirasie, sonder dat sy dit sekerlik eens besef!  Dis sý wat al destyds die saadjie in my kop geplant het. Hoekom nie iets publiseer nie? Omdat ek bang is vir wat ander dink en gaan sê? Een keer met ‘n Pay it Forward-projek hét ek ‘n klein resepteboekieTameletjie Toortsie, saamgestel en sy was só opreg opgewonde daaroor. 🙂 Dankie Seegogga!

Intussen beland daar toe ‘n boek in my skoot: Secrets to Ebook Publishing success”Wát ‘n inspirasie! So met die lees saam begin ek dink: Wat kan ek regtig verloor? Wel, as dit regtig ‘n groot flop is, ‘n bietjie ego… maar wat anders?

So, ek is besig met my boekie, Toortsie se Banting-Boerekos, en dit gaan 50 resepte inhê. Boerekosresepte. Bredies, vleis, sop… daai tipe dinge. 🙂 ‘n Bietjie groente, ens… Ek het nou amper my 50 resepte bymekaar, maar skawe nog ‘n bietjie aan die sous by die beestong. 🙂

Dán begin die groot werk, van elke reseppie toets, dit edit en nogmaals edit … totdat dit dalk hopelik die einde van die jaar as ‘n eboek sal verskyn, dalkies ook as gedrukte boekie.

Intussen is ek besig om soveel as moontlik op te lees van E-boek publikasie, die moets en moenies, en natuurlik die groot ding, HOE om dit te doen! Daar moet ook ‘n mooi buiteblad ontwerp word, een wat op ‘n klein piekiekiekie die oog sal vang tussen al die ander resepteboeke…

Kom ons kyk wat gebeur!

Toorts

Onthou, ek lys alle boeke waaroor ek skryf, by Pinterest. 

Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se Faceboekblad.

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad

En wel, hier is dit nou al weer nog ‘n jaar later! Toortsie se Bantingboerekos het verskyn en is ‘n groot sukses! Die eerste drie oplae is uitverkoop, die vierde oplaag verkoop vinnig en die boek is ook in Engels vertaal,  ‘Toortsie’s Banting Bash’.  Die Toortsies is gedrukte boeke, glad nie e-boeke soos hierbo genoem nie. Dis hier en daar by ‘n winkel beskikbaar, maar die beste is om dit sommer direk by my te bestel deur op hierdie skakel te kliek.  Die boek het 60 maklike en lekker resepte, met gewone bestanddele, in, en ook my storie, hoe ek Banting ervaar, waarmee ek gesukkel het, en ander vrae.

12718121_1537873029840317_5777716569469283944_n