Wat sal ek hierdie post noem?

Waar begin ek? Dat ek vet voel? En vet raak? Want ek is besig om die hele kaaskoek wat bedoel was vir gister se VLV, alleen op te eet.

Want sien, Maandagaand toe ek die kaaskoek amper klaar gemeng het, sien ek dat daar ‘n eierdop in beland het. Hoe, weet ek tot nou toe nog nie. En wat vreemd is, dit was net die een helfte. Waar is die ander helfte? Ek moes toe inderhaas iets anders maak. Gelukkig was daar spinasieblare in die tuin, bacon in die vrieskas, kaas in die yskas en twee pakkies sampioene wat ek gekoop het met die gedagte aan die kinders se kuier die afgelope naweek wat ons nie gebruik het nie. En ek ‘score’ toe die kaaskoek! Die eerste blokkie eet ek versigtig, nou het ek al skoon vergeet dat daar moontlik iewers nog ‘n stukkie eierdop mag skuil. Ek dink in elk geval ek het die enigste stuk wat daar was, betyds gesien. Maar sê nou net een van die VLV-dames het ‘n stukkie daarvan gekry? Skande op die huis! Dít sou mos nooit deug nie! Dat die Toortsie sowaar eierdopkaaskoek VLV toe bring? Nog nooit as te nimmer nie!

Werk julle knope vas met die hand? Of, as julle ‘n knoop verloor het, bly dit maar verlore? Of het julle nie klere met knope nie? Die laaste paar jaar is ek nie meer so oulik wat herstelwerkies aanbetref nie. Op die plaas het my naamimasjien sommer altyd daar op die tafel onder ‘n doek gestaan en kon ek iets regmaak. Veral toe ek nog baie klere gemaak het, was my reëling dat ek nie iets nuuts mag maak as daar stukkende goed was nie. Stukkende goed eerste. Wel, ek hét lui geraak en Johna het ‘n rukkie my stukkende goed heel gemaak. Toe vertel iemand my van die Indiër daar by Checkers wat klere regmaak. Man! Hy het ‘n uitstekende kliënt in my!

Maar toe stuur die ouetehuis nou die dag ‘n sak vol bloesies van my ma wat knope moet kry. Tyd om my naaimasjien uit te haal. Ek moet juis my borduurlap omstik voor ek daaraan kan begin werk. En die denimtoppie wat ek geknip het van die lap wat verlede jaar se denimbaadjie moes wees vir die kompetisie, moet steeds gestik word. Wat ek eintlik wou sê, weet julle hoe lekker stik ek knope vas? Sommer tjoeftjaf. Jy moet net mooi kophou. Dis nou vir plat knope met twee gaatjies. Of vier gaatjies. Steekwydte ongeveer op 2 tot 2 en ‘n half. Lengte op nul. Gebruik die stopvoetjie (darningfoot), mik eers versigtig en dan … whala!

Ek het weer die Engelse Toortsie e-boek depubliseer. (wat is die woord?) Want om een of ander rede het slegs die eerste ses items in die inhoudsopgawe se skakels gewerk. Wat ek anders gedoen het met die ander? Geen idee nie. En dis donkiewerk om dit op te stel. So nou het ek weer donkiewerk gedoen en al die skakels afgehaal. (Of amper) Ek kry nie klaar nie en gaan dit nou maar weer probeer. In die Word dokument het hulle almal gewerk, ek het hulle oor en oor getoets, maar nou ja, in e-boek formaat is daar toe probleme.

O ja, ek beleef toe ook vanoggend die storm. Eers op pad Struisbaai toe die reën. En toe ek moes afklim by my bestemming, toe blits dit verwoed. Julle weet nie hoe bang ek vir blitse is nie! Maar ek moes op my tande byt, uit die kar spring en hardloop om in die gebou te kom. Al wat ek kon doen, was skree: “Here, help my!” En toe begin die hael sekondes later. So iets het ek nog nie gesien nie. Onthou, ons hier in die Kaap kry nie sulke hael nie. Golfbalgrootte. En ek staan ek aanskou hoe dit hop op ons kar. Dit lyk darem nie of die kar seergekry het nie. Hoor hier, hier is mense met groot skade. Ons kan net dankbaar wees.

Toortsie

23 thoughts on “Wat sal ek hierdie post noem?

  1. Hierdie beskrywing is so goed: dit is ‘n venster in die lewens van so baie van ons so ek het lekker gelees. Ek het van die groot storm by Struisbaaip die radio gehoor – hier het ons 5mm gekry binne tien minute en toe is die wolke weg.

    Liked by 1 person

  2. Ek werk ook nie graag knope aan nie, maar my ma het geglo handvaswerk is sterker as met ‘n masjien. so ek het dit ooit op die masjien leer doen nie. maar ek werk eerder ‘n knoop aan as wat ek ‘n ritssluiter instik. dis nou vir my ‘n nagmerrie.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!