Sommer oor rekenaars en die woordjie, gelukkig

Ek het my werksrekenaar by die huis vergeet, maar daar is soveel geluk by die ongeluk, soos:

Dat ek gelukkig my persoonlike rekenaar ingepak het en selfs sy kragdraad onthou het.

Dat ek die vorige aand kos verwerk het en dus nie elke ete voor die kospotte hoef te staan nie.

Dat hier ‘n voertuig beskikbaar was sodat ek die nodige rekenaarwerk in die stal kon doen. Dat hier gewoonlik Teamviewer beskikbaar is en ek dan sommer in die huis kan sit en werk.

Dat, toe die sleutelbord van die stal se rekenaar skielik nie meer wou werk nie, dit net stof was wat maklik uitgeskud kon word.

Dat ek die nodige intekenbesonderhede vir hierdie werk wat ek moes doen, uit my kop uit ken.

Dat, terwyl ek daar in die stal was, dit begin reën het. Stortreën. Soveel so dat my man die bakkie vir my nadergetrek het sodat ek nie sopnat reën nie.

Dat daar mense is wat bereid is om in die reën die melkkoeie te gaan haal. Dat daar koeibehuising is waar die koeie kan bly in slegte weersomstandighede.

Dat die droë boom wat die wind omgewaai het, net effens in die pad lê en ek sonder moeite kon verbykom.

Dat die pad nie só glad was dat dit onbegaanbaar is nie.

Vir die sloot water wat hier loop, al is dit sleg dat nie ver hiervandaan nie dit uiters droog is.

Dat ons ‘n houtstoof in die kombuis het wat vanaand die huis lekker warm gaan maak en waarop ons ‘n potjie gaan maak. Dat ons kos het om te eet.

Dat die Here vir ons sorg, Lig is wat vir ons skyn, tree vir tree.

Toortsie

9 thoughts on “Sommer oor rekenaars en die woordjie, gelukkig

Gesels saam, asseblief!