Hospitaal – NaNoWriMo2019

Met my rug wat my elke oggend laat wakker kreun en self aan die strek raak, kan ek nie help om te onthou van Dr du Preez in Worcester nie. Of hy werklik ‘n dokter was, weet ek nie, ons het aanvaar hy is ‘n dokter. Hy was ‘n chiropraktisyn. 

As jy een maal ‘n rug het, het jy altyd ‘n rug, dit is nou maar ‘n feit. Ek het ook baie self bygedra tot die seer rug, besef ek nou. Swaar goed opgetel, ek was mos sterk. En nie lui nie. Onnodig gerek om goed wat hoog is by te kom, ek doen dit steeds, maar dink nie dat dit regtig ‘n faktor is nie. Ek kan vir geen oomblik dink dat my gehardlopery in marathons enigsins goed was vir my rug nie, daardie gestamp is net te erg. En dan, die vlegselpeloton. 

Bredasdorp het ‘n dogtersdrilpeloton gehad. ’n Vlegselpeloton. Mnr Eps Joubert het ons afgerig en ons het aan kompetisies deelgeneem. Ons het vrek goed gedoen, maar kon net nooit vir Montagu wen nie. Ons ander groot kompetisie was Zwaanswijk. Dan het ons altyd ‘n naweek in Gordonsbaai gaan bly en gaan deelneem aan die kompetisie in die Kaap. Baie skole het deelgeneem en vandag nog, as ek sekere Kaapse skole se name hoor, onthou ek dit van daardie tyd. Ons het altyd tweede gekom. 

Ongelukkig was daardie gestamp regtig nie goed vir ‘n rug wat klaar nie so lekker is nie. Soms het dit, as ons klaar is, gevoel of my rug gegiet is in gips, so styf was dit. Die einste mnr Joubert het Dr du Preez aanbeveel en so het ons ryery Worcester toe begin. 

Dit was ‘n geruk en gepluk van eerste water, ons het sommer gepraat van die ruk-en-plukdokter. Die gepluk op die bed het nog gewerk, maar as hy nou heeltemal klaar was, moes ek op ‘n stoel sit en dan het hy my nek gepluk. Ek het later bang begin raak, so bang hy beskadig my nek. Dit het regtig gehelp en ek het baie beter gevoel daarná. Die ryery het net te erg geraak. 

Om fondse in te samel, het ons skool ‘n wakkerblykompetisie gehou. Ek dink nog dit is van die beste en maklikste maniere om fondse in te samel, jy betrek die hele dorp. Selfs mense wat nie so baie kan gee nie, maak ‘n bydrae omdat die konsep toelaat dat iemand min geld kan gee. 

Toe ek jare later by Bedford skoolgehou het, het ek ook ‘n wakkerblykompetisie gereël om fondse in te samel vir die matriekafskeid. Ons het goeie fondse ingesamel, genoeg vir die matriekafskeid se begroting, maar ek is ‘n swak delegeerder en het nie genoeg gebruik gemaak van die ander onderwysers om my te help om die kinders wakker te hou nie. Teen Saterdagaand was ek en die kinders ewe moeg. Ek kan onthou dat ons iewers die Saterdag pannekoek gebak het.

Ons moes vir 36 uur wakker bly, van die Vrydagoggend sesuur tot die Saterdagaand sesuur. Ons staan mos almal sesuur die oggend op om reg te maak vir skool en is die heeldag by die skool. Dan bly ons daar tot die Saterdagaand. Die Vrydag is maklik, ons is nog almal wakker. Vrydagaand hou ons groot braai daar by die skool en dans en lawaai die hele nag deur. Saterdagoggende, so van drie uur af, is die groot uitdaging om die kinders dan nog wakker te hou en ek kan nie onthou wat die onderwysers alles uitgedink het om dit te doen nie. Elke uur is roll call gedoen om te sien of daar nog nie ‘n kind weggeraak het nie. Of daar nie wel iewers iemand ‘n uiltjie geknip het nie, kan ek ook nie belowe nie. 

Almal wat wou deelneem, en dit was omtrent die hele skool, het borgvorms gekry waarop mense jou kon borg per uur wat jy wakkergebly het. Een sent per uur, of ‘n rand ‘n uur, of hoeveel ookal. Die sleg van dit is dat die kind weer na die tyd al die fondse wat beloof is, moes gaan insamel. Gelukkig was daar baie mense wat reken dat jy dit in elk geval sal doen en dan sommer al in die begin geld gegee het. 

Verskillende mense het verskillende maniere om wakker te bly. Almal neem dit sekerlik ook nie ewe ernstig op nie. Ek sal nooit vergeet van die seun wat vuurhoutjies tussen sy wenkbroue en wangbene ingedruk het om sy oë te probeer oophou nie. Of dit gewerk het, weet ek nie. 

Vir my om wakker te bly, moet ek besig bly. Hoe moeër ek raak, hoe aktiewer raak ek as ek moet wakker bly, sekerlik tot groot irritasie van ander. Maar ek het my ingeskryf vir so ‘n kompetisie, ek moet dit mos maak! Want as die slaap my eers gewen het, is dit verby! Ek dink darem dat ek teen die Saterdagmiddag ook erge pap wiele sou hê. Iewers deur die nag het ek skeef getrap. Mnr du Plessis is met my hospitaal toe. Ek het ‘n ligament verrek. Die res van die tyd is ek toe hoppetiehop. Niks te ernstig nie. 

Ek was nog klein toe ek een keer ‘n graat in die keel gekry het. ‘n Visgraat. Ek dink ek het die aand in die bed geëet. Sou ek siek gespeel het, of sou ek sommer net lus gehad het om in die bed te eet?  Wie eet vis in die bed? ‘n Kleine stukkie graat het in my keel beland en vasgesit. Dit was nou ‘n storie, hoor! My pa moes my inbring hospitaal toe sodat die dokter dit kon uithaal. 

Om te dink dat my pa later jare dood is as gevolg van ‘n stukkie been wat hy per ongeluk ingesluk het. Bees briscut. Borsbeen. Die stukkie been het ‘n gat in sy slukderm gemaak wat sy dood veroorsaak het. Dit was ‘n lang proses van baie pyn en pogings om hom te help. 

Ek was in sub B toe my mangels uitgehaal is. Sjoe, die nul per mond was verskriklik! Of hulle in daardie jare net baie strenger was en of dit normale prosedure na ‘n mangeloperasie was, weet ek nie. Vir die eerste dag mag ek nie eers vloeistof ingeneem het nie, net my mond uitspoel met daardie pienk water. Dan het ek maar so effens gesluk daaraan. Dag twee mag ek darem water gedrink en seker ‘n bietjie jellie geëet het. 

Dit was egter nie net ‘n mangeloperasie nie, maar sommer ‘n tande-operasie ook! Daar was chaos tussen my tande op daardie stadium van my lewe, my tande was in ‘n verskriklike toestand. Ek het geweldig tandpyn gehad. Een dag het my ma-hulle met my Hermanus toe gery, tandarts toe. Bredasdorp het nie toe ‘n tandarts gehad nie. Ek het vir die man gesê watter tand pyn, sê nou maar, die regterkantste kiestand. Hy voel hy weet beter en trek die linkerkantste kiestand! Waar in jou lewe het jy al van so iets gehoor? Daarná het ek geweier om weer my mond oop te maak vir ‘n tandarts en met my mangeloperasie is my botande toe sommer op ‘n streep getrek.

Ek moes ‘n hele paar dae in die hospitaal bly, anders as nou wat hulle ‘n mens so vroeg as moontlik ontslaan. Dit voel dan nou vir my of ek toe net so lank in die hospitaal gebly het as wat ek nou na my histerektomie gebly het? 

Dalk is dit in alle laerskole so, maar die lekkerte van hospitaal toe gaan as jy in Laerskool Ouplaas was, was dat die hele skool vir jou briefies geskryf het en prentjies geteken het. Dit is in ‘n groot koevert gesit en by die hospitaal afgelewer. Dis nou ‘n lekker manier van siek wees, of hoe? 

Die hoogtepunt van die mangeloperasie was dat my ma toe vir my ‘n bed in hulle kamer gesit het en ek toe vir baie lank sommer daar geslaap het, tot lank na die mangels al gesond was. Ai toggie, in daardie tyd kry ek toe die bewys van iets wat ek nog heeltyd vermoed het: Die tandemuis! Ek vang toe die tandemuis op heterdaad! Skokkend. Of, hoekom anders sou my ma in die aand met haar handsak in die huis rondloop?

Ek kan eerlik sê dat ek nie regtig in die tandemuis of Vader Krismis geglo het nie, maar het wel darem gewonder daaroor. Was dit regtig, of nie? Daar was egter ‘n ander storie wat my ook uitgeboul het. In my hart het ek geweet dit kan nie wees nie, babatjies word dan gebore en ek sien mos as tannies swanger is. Tog was ek nie seker oor hierdie een nie. Het my pa-hulle my regtig in die duine gevang? ‘n Klein bobbejaantjie? Was dit regtig my ouma se Fox Terrier hondjie, Buksie, wat my gevang het? En het hulle my regtig skoongeskrop in die seeppot? Ek wonder nou nog!

En dit laat my nou aan ‘n ander hondestorie dink. Oubaas. Hy was ‘n Pointer en al baie oud. Toe verkoop my pa hom aan ‘n oom in die Transvaal. Daar word ewe ‘n kaartjie om sy nek gebind waarop ‘Oubaas’ staan, want hy sou met die trein ry Transvaal toe. Ons het Oubaas gegroet en goeie wense toegewens vir sy reis. Terwyl ons die dag skool toe is, het my pa hom stasie toe geneem. Ek wonder darem, na watter stasie toe is Oubaas geneem? Dat ek nou sowaar op amper sestig jarige ouderdom ‘n ander werklikheid moet besef! My pa sou mos nooit vir ons jok nie, of hoe?

Toortsie

43 thoughts on “Hospitaal – NaNoWriMo2019

  1. Oom Eps baie goed geken. Hy en Pa was vriende. Pa het vir 19 jaar WP se skuts afgerig, insluitende die latere Springbok Bisleyskur Gavin Finch. Pa en Oom Eps het altyd oor skietpunte gestry ten spyte van die vriendskap.

    Die Du Preez-spreekkamers was in ‘n lieflike ou huis in die sierlike, historiese Kerkstraat.

    Kyk hoe vat jy my nou veertig, vyftig jaar terug.

    Liked by 1 person

  2. Wou nog sê: ons was net seuns in die skool en julle meisiekinders het vir ons soos engele gelyk. Montagu was baie goed, ja! Maar julle was self uitstekend in my jare 75 tot 79. Calvinia se Karoomeisies het uitstekend geskiet. Min dinge so mooi soos ‘n prima vlegselpeloton. Volpunte.

    Liked by 1 person

          1. Saam met my was ‘n Viljoen maar ek kan nie onthou vanwaar hy was nie. Ek was aan hulle almal blootgestel van einde 1968 af, baie om te onthou. Ouplaas is waar nou weer??

            Like

                  1. Hehehe ek vermoed ek het ook sulkes. Seinheuwel het minstens twee weerstelsels, vra die vlieëniers en paragliders. Een van my Weermagmakkers boer of het geboer tussen Malgas en Infanta. Kemp.

                    Like

            1. Die skokke was meestal in die nag. Ek weet van een aand wat ins wel wakker was. Ek was byna histeries. Nou herinner jy my weer aan iets wat ek nog moet byskryf! Van die aardbewings!

              Like

              1. Een Sondag op Gouda sit ek in ‘n bloekomboom op ‘n dwarstak so drie meter bo die grond. Kyk na die Riebeeck’e se kant toe en sien die aarde aankom soos golwe op die see. En ek klou vir lewe en dood. Altesaam vier oordag beleef maar meeste snags, ja.

                Like

  3. Hierdie herinneringe bring talle van myne ook terug. My vyf-jarige kleinseun het onlangs sy eerste tand verloor. Hy was blykbaar opgewonde oor die besoek van die tandmuis – sy kennis het van ander kinders by die kleuterskool gekom. Ek het lekker gelees.

    Like

Gesels saam, asseblief!