Ek bly

Ek skryf hierdie bloginskrywing na aanleiding van ‘n nuwe Facebookgroep wat gestig is, #I’m staying. Die doel van hierdie groep is om positiwiteit te bevorder en hoop te bou vir ons in Suid-Afrika.

Wanneer ek hierdie skryf, wil ek dit beklemtoon dat ek geen probleem het met enige persoon wat besluit het dat sy heil buite die grense van ons land lê nie. Om te gly of te bly is elke persoon se eie besluit. Ons het egter jare gelede besluit om te bly en die beste daarvan te maak.

Dalk is die keuse van bly of gly vir my makliker omdat dit hier waar ek woon, dit nog relatief goed gaan.

Ons dorp, ons gemeenskap, is bekend as ‘n ‘omgeegemeenskap’ waar die mense vir mekaar omgee. Ja, hier is ook maar jakkalsies wat foeter waar hulle nie moet nie, maar hier is oorwegend ‘n mooi gesindheid tussen ons mense.

Ek bly omdat ek lief is vir ons mense, ek hou van die vriendelikheid van ons mense, ek hou daarvan om Afrikaans rondom my te hoor. Ek hou van kuier saam met my vriende.

Ek bly, want ons is lief vir braai. En RSG. En stap saam met die stapklub, of saam met my honde. Of my man.

Ek bly omdat my kinders en kleinkinders nog in hierdie land woon en ‘n toekoms hier sien. Ek bly omdat hier baie van my familie is.

Ek was in die afgelope paar maande twee maal in ‘n hospitaal en ek is opgewonde oor die vriendelike, professionele diens wat ek elke keer ontvang het. Ja, dit was in ‘n privaathospitaal, maar dit was in hierdie land van ons.

Ek bly, want my ma en skoonma is hier in ‘n ouetehuis en kry uitstekende versorging.

Ek bly omdat ons besigheid hier is, omdat ons nog hier ons daaglikse brood verdien.

Ek bly omdat ek hier my geloof mag uitleef sonder die vrees vir vervolging. Ek bly omdat hier aktiewe bybelstudiegroepe is waarby ek kan inskakel, ook by die kerk betrokke kan wees.

Ek bly sodat ek ‘n verskil kan maak. ‘n Positiewe verskil. Nie net aan myself nie, maar ook aan hulle om my.

Ongelukkig weet niemand wat die toekoms inhou nie. My wens is dat ek nog lank hier sal kan bly, immers vir die res van my lewe.

Toortsie

23 thoughts on “Ek bly

  1. Goeiste, ek was ook twee keer in die hospitaal en wou daarna ‘n kernoorlog begin. Nie knoppie druk nie maar die ding self gaan gooi. En dis ‘n blonde blou-oogkind van “n ander oom wat my dit wou laat doen. As sy maar net gepak het……met stetoskoop en al.

    Versorging van pasiënte op elke.vlak was pateties. My eie ma is 2016 skielik dood na sulke behandeling in ‘n peperduur privaathospitaal. Mense is maar mense. Toe dit te laat is, het hulle haar Panorama toe karwei, toe dit reeds hopeloos is. Oor mediese sorg kan jy nie in SA bly nie. Self kans gehad om noukeurig na te gaan hoe ‘n 112% dividend uit ander se siektes uitbetaal is. Onmenslik.

    2001 is ons ‘n kwartakker op ‘n idilliese, skoon, misdaadvrye eiland aangebied. En hulle bou die 3sl 2badk huis by die lagoon. Palmbome, piesangs en papegaaivis. Dan kom $500,000 hervestigingstoelaag, nuwe groot Toyota, 64k diginetlyn en ‘n stewige maandelikse inkomste.

    Ons bid en ons bly, gaan deur louter hel.

    Maar bly die bly ons.

    Nog sewe hompe dik, galsterige hel.

    Maar bly die bly ons.

    Of jy bly of gly, Openbaring voorspel groot marankas regoor die aarde.

    Maar nou pak die kinders my kleinkinders in ‘n tas en maak reg om te vlieg. Nie oor Theewaterskloofdam nie maar oor die groot blou dam. Waar hulle kwartakker wag.

    En ons bly en sien moeilikheid oral aankom. God voorspel nie verkeerd nie. Maar iemand moet agterbly.

    Al is dit net om die kraanvoëls te voer. Groete aan Perth.

    Liked by 2 people

    1. Ai, ou Pete, besluite, besluite, besluite. Hoe sal ons ooit weet wat die heel beste besluit is? Ek is seker dat jy vrae in jou hart het oor julle destyds gekies het om eerder te bly. Maar hoe sal ons weet hoe dit sou gaan as julle wel gegaan het?

      Like

      1. Ons sal nooit weet nie. Wat ons wel weet, is wat ons hier gekry het: Job se ellende, Jeremia se put, so gaan dit aan. Om boonop nie te KAN/MAG verdien nie terwyl my vrou haar afsloof 20km plus per dag 365 dae van die jaar. En die neefs koop karre, huise, helikopters, braai. En staar by ons verby in die Waterfront maar gaan vertel dan in Mosambiek hoe lief Jesus vir daardie mense is. Dis my swart oomblik. Ek is vandag g@tvol van die gesukkel.

        My kkeinkinders twee jaar laas gesien. Hulle woon 19km ver, my seun in dieselfde straat. Hom op 4 Junie 2017 gesien.

        Ek was 13 Desember 2017 laas by my Pa. Hy sit alleen in die ouetehuis 120km ver. 178km met die trein. 248,000km met my beursie.

        As ons gegaan het, sou dit nie anders gewees het nie.

        Liked by 1 person

      2. Maar toe bloedjong dokters mens disrespekteer en minagtend behandel, toe strip ek my mos binnewaarts. Ons is almal van dieselfde nasie en staan naak gestroop onder die stort. Sonder rangkentekens, “glad rags” of stetoskope. Niemand hoef homself iets groots te verbeel nie.

        Ons is deur verskeie Christen-Afrikaners uitgebuit en het alles verloor, behalwe ons ou klere. In 2014 begin ek saamwerk aan projekte in al nege provinsies. My sakeplanne bring reuse beleggings. Die vennote loop weg met tiene miljoene en ek kry nie eens ‘n brood nie. Vergeet nog van my een persent fooi. Dit was my aftreegeld. Hy bid elke dag en handel volgens Skrif wat hy kry. Wonder waar hy gelees het om my R15m te vat.

        Rondom ons braai almal.

        Liked by 1 person

  2. Ons moet ook bly.. ek dink daar is meer van ons in Gatvolgesukkel se bootjie maar ons het geen ander keuse as om net hier te bly nie. Maar die wat gly ….voorspoed vir julle. Niemand weet ooit regtig waar wat gaan gebeur nie. Dalk sal dit net meer draaglik wees as jou omgewing jou bekende area is…soooo Toortsie..ek bly

    Liked by 3 people

  3. My kinders het 7 jr heerlik in Holland gewoon. Maar hulle hart was in SA. Nou is hulle sl 4 jr lank terug om te bly. En het geen behoefte om te gly nie. Elke liewe land het sy eie probleme. Dit gaan nie oorsee soveel beter as hier nie.

    Liked by 1 person

  4. Ek bly net oor ek MOET bly, ek het nie ‘n keuse nie. Maar soek nog elke dag ‘n manier om te kan gly. Hierdie land voel nie eers soos my land nie. Die mense nog minder. En dis my probleem. Soos Plasie sê, as die land mens se menswees begin aantas moet jy dalk begin dink om te gly. En dis waar ek is.

    Liked by 1 person

  5. Baie om dankbaar voor te wees. Daar is altyd twee kante aan n saak. As dinge teen mekaar opgeweeg word en dit ballanseer is dit goed om te bly. As die negatief meer as positief is moet mens besluit om te gly. Alles hang tog maar van omstandighede af en hoe jou siening en gevoel is. Jy is gelukkig in n posisie om jouself gelukkig en positief te hou. Dit sal uitwerk op einde.

    Liked by 1 person

  6. Moeilikste ding in my om aan te dink- weird want ek is al 18 jaar uit land uit, steeds SA paspoort. En ek dink en wonder en worry. Ek het baie verloor, ek het baie gekry, ek haat daai vrees, die gedagtes. Maar Afrika se stof lê dik om my hart en wil nie los nie. So ek het besluit geniet dit net, moet nooit hoop verloor nie en dinge werk soos dit moet. Elke keer as ek hartseer raak soek ek 3 goed wat mooi is, wat my gelukkig maak. Ek weet net ek mis en droom Afrika, selfs na 18 jaar,🌻🌻🌻

    Liked by 2 people

Gesels saam, asseblief!