Verskillende grade

Ek wil sommer vandag gesels oor verskillende grade van ‘n woord. Byvoorbeeld verskillende grade van lag. Jy kan net stilweg glimlag, of breed glimlag dat dit jou oë bereik, of jy kan oopmond lag, luid en uitbundig.

Kwaad. Jy kan liggies vies wees vir iemand, effens frons en dit waai gou oor. Of jy kan kwaad wees dat jy sommer vir ‘n hele dag loop en grom, of jy kan woedend wees dat jy voel om die persoon te lyf te gaan. Almal van hulle het ‘n ander betekenis wat betref die graad daarvan. Minder of meer.

‘n Woord wat deesdae baie maklik en buite konteks gebruik word, is skel. Dit het te doen met dieselfde kwaadword hierbo. Jy kan vir iemand op ‘n mooi manier sê wat jy dink, of jy kan dit ‘n bietjie beklemtoon dat die persoon besef jy bedoel wat jy sê. Jy kan ‘n bietjie raas om dit duidelik te toon, of jy kan behoorlik raas. Skel is vir my die uiterste vorm van raas. Dan het jy beheer verloor, jy gaan tekere soos ‘n viswyf.

Ongelukkig ken baie mense nie meer die verskillende grade van ‘n woord nie en is ‘n vriendelike aanmaning in hulle oë al skel. Jy rek nog net jou oë, dan word dit skel genoem, en skel is so ‘n lelike woord. ‘n Skelwoord, nes hy sê.

Die ouer vermaan liggies die kind, of hy gee hom ‘n ligte raps op die boud. Of die persoon rand die kind behoorlik aan dat hy amper ‘n wrak is agterna, maar ‘aanrand’ word sommer van die begin af gebruik, het ek ook al gesien.

Niks wat ek hier skryf, sal dit verander nie, maar dis vir my hartseer dat ons taal so verarm het, dat mense deesdae so maklik sommer die uiterste vorm gebruik terwyl daar ‘n ryke verskeidenheid van mooi woorde is wat presies kan beskryf wat die werklike gevoel is.

My probleem is dat ek soms sien hoe iemand van iets verskriklik ergs beskuldig word, terwyl dit glad nie is wat die geval was nie, bloot omdat die beskuldigde se taal gebrekkig is, of om watter ander rede ookal.

Nou ja, ek wou sommer net my hart uitpraat.

Toortsie

19 thoughts on “Verskillende grade

  1. Dis so waar. Mens luister net na jongmense op tv om te besef hoe armoedig hul taalgebruik is.As iemand sê iets is “amazing” , wil ek opgooi. Ek glo nie iemand ken meer die regte woord nie. Soos jy sê, die verskillende grade van ‘n woord se betekenis sal beslis nie aan sulke swak taalgebruikers bekend wees nie.

    Liked by 2 people

  2. Ek weet die Kapenaars is lief vir die woord skel, maar ek hoor dit al meer op die platteland ook.

    En dit is waar wat jy sê. Mense neem vreeslik gou aanstoot en dit is erg. Ons kan maar net ons bes probeer om ons bedoelings mooi te laat oorkom. X

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!