Vandag is Opstandingsdag

Vandag is Opstandingsdag, die belangrikste dag op die Christelike kalender. Dís tog waaroor die Christelike geloof gaan, dat God die wêreld só liefgehad het dat Hy Sy enigste Seun gestuur het om mens te word, ‘n totaal menslike lewe te lei, die aarde as mens te bewandel, en gekruisig te word terwyl Hy geen sonde gedoen het nie.

Maar dis nie waar dit geëindig het nie, daar by die kruis waar ‘n klomp verslae mense staan en kyk het hoe die persoon op wie hulle gehoop het, gekruisig word en sterf nie. By die kruis waar ‘n klomp mense hul hoop op ‘n nuwe koning wat hulle sou bevry van die onderdrukking wat hul beleef het nie.

Genadiglik het dit nie daar gestop nie en kon God se genade juis sigbaar word toe Jesus die Sondag opgestaan het uit die dood en vir nog 40 dae op die aarde beweeg het en aan verskeie mense verskyn het.

Dis dáárdie uiters besondere Sondag wat ons jaar vir jaar herdenk, waarop ons wat in Hom glo, se geloof gevestig is, want het Jesus nie opgestaan uit die dood nie, het ons nie iets gehad om te glo nie. Genadiglik hét Hy opgestaan, geleef, en is juis dít die hoop wat ons het, dat ons ook ewig sal leef in die hemel, nes Hy. Wát ‘n vooruitsig!

Lat ons egter nooit vergeet dat die Golgotapad wat Hy gestap het, geen maklike pad was nie, dat dit uiters uitmergelend was, dat Hy ook, behalwe die bespotting, ‘n doringkroon op Sy kop gehad het, gegésel is én toe Hy amper nie meer kon regop staan nie, nog Sy eie kruis moes dra. Daarna moes Hy Sy lewe aflê vir sondes wat Hy nooit gepleeg het nie, sodat ons kan lewe.

Dit was geen ligte prys nie, maar uiters duur en juis daarom moet ons oppas om dit nie goedkoop te maak op enige manier nie. God se genade ís groot, soos hierdie gebeure bewys, God gee vir ons geweldig baie kanse, Hy wil graag hê ons moet almal die geskenk aanvaar, maar as ons nie hierdie geskenk aanvaar nie, as ons Hom gaan bly verwerp, gaan ons ongelukkig een dag, wanneer dit te laat is, bitter spyt wees.

God is egter ‘n ware Heer en sal Hom nooit op enige persoon afdwing nie, Hy gee die keuse vir elkeen van ons om self te besluit wat ons wil doen.

Mag ons as Christene, nooit hierdie prys wat Jesus betaal het, verwater nie. Mag ons altyd onthou hóé groot die prys was en mag ons Hom altyd eer daarvoor.

Toortsie

Toortsie by Finesse: Op die spore van die meesters met Uber

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

7 thoughts on “Vandag is Opstandingsdag

  1. Al het hy oo die stoep sy Bybel in flarde gelees, en huisgodsdiens gehou, was Paasfees en Kersfees was die enigste tyd wat my Pa binne die kerk besoek het. Hy en ons destydse dominee het oor niks saamgestem nie. Vir ons as kinders wat moes Sondagskool bywoon was dit verspot lekker om my Pa ook in die kerk te hê en het ons altyd na die feestelikheid uitgesien.

    Liked by 2 people

      1. My Pa het Kerk toe gegaan, vir sekerlik vir homself, en elke keer teruggekom en bevestig daai dominee is ‘n poepol. 😝 Die dominee het nét dweep en lyding en sonde en als swartgallig en mislik uit die Bybel voorgehou. Dan heeltyd bakhand gestaan en geld bedel terwyl hy die weduwees effe te veel getroos het en lekker blink mercedes rondgery.

        Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!