Die konflikdonkies

Photo from internet

(I’ve got this picture on the internet )

Hierdie is die ou bekende prentjie van die konflikdonkies. Ek het al in die laerskool daarvan geleer. Die twee donkies sien elkeen ‘n hoop voer waarvoor hulle lus is. Die tou is egter te kort en nie een van die twee kan by die hoop voer uitkom nie. Ná ‘n lang gerem en strem, kom hulle bymekaar en maak saam planne oor hóé hulle hierdie situasie kan probeer oplos.

En dís waar die probleem lê: Deesdae kom ons nie meer by die derde en vierde en vyfde prentjies uit nie.

Eerstens kommunikeer ons nie meer nie. Alles loop uit op ‘n misverstand. Ons besluit eintlik sommer vooraf dat dit in elk geval nie gaan werk nie en bou dan eerder mure om ons. Ons sluit ons af. Ons draai ons rug op selfs ons geliefdes as ons net nie ons sin kry nie, want die lewe gaan om ek, ekke en EK. Ek moet na myself kyk en ek het nie sulke goed in my lewe nodig nie, daarom onttrek ek my eerder.

In die proses raak ‘n kleinigheidjie ‘n grotigheid en ek wat my afsny, kry die seerste van almal.

Die probleem van prentjie nommer 3 is dat ons bereid is om bymekaar te kom, maar met voorafopgestelde voorwaardes. Eintlik is ons net bereid om bymekaar te kom as al ons eie voorafopgestelde voorwaardes nagekom sal word. Solank die ander persoon maak soos ek wil hê, dan is die saak reg, maar ek gaan nie ‘n vinger verroer nie.

Die wonder van konflikhantering lê ook in prentjies 4 en 5, waar elkeen bereid is om ‘n treetjie mee te gee. Mens gee dalk in die begin net ‘n klein treetjie, dan gee die ander ou ook ‘n klein treetjie, en weer en weer, tot jy by ‘n punt kom waar die twee donkies saam-saam tog te lekker saamvreet aan die heerlike voer met stertjies wat vrolik swaai.

Dit kan egter net gebeur as jy bereid is om te kommunikeer, te vergewe, te besef dat die ander persoon dinge dalk ietwat anders doen as jy, om die ander persoon se pogings tot herstel in die verhouding raak te sien en te erken.

As ‘n mens konflik kan uitsorteer in plaas daarvan om jou rug daarop te draai en mure om jou te bou, sal jy op die ou end baie meer voordeel daaruit trek as wat jy ooit kon dink. Die vrede en geluk wat jy uit die samesyn van jou eertydse vriend of familielid of huweliksmaat gaan kry, is duisendmaal meer werd as die pyn wat afsydigheid bring.

Kom ons maak dinge reg. Asseblief! Kom ons leer oor konflikhantering en maak dinge reg, eerder as om te skei, die rug op mekaar te draai.

Toortsie

Nagedagte: As donkies dit kan regkry, hoekom dan nie ons nie?

27 thoughts on “Die konflikdonkies

  1. In my jonger en nie so jonger dae nie was konfrontasie nie vir my ‘n probleem nie. As ek gevoel het iets is nie reg nie het ek in liefde gaan hoor wat is verkeerd. Tot met die pastoor het ek misverstande uitsorteer. Ek is moeg Toorts…. het op ‘n stadium gekom wat ek net nie meer lus is vir ‘n spul nonsens nie. En dis asof die mense al meer fyngevoelig en vol draadwerk raak. Soos jy sê die EK. Gee my liefde en vrede assseblief!!!!! Genoeg is genoeg.

    Like

          1. Ek is honderd persent vir vrede Toorts. Al die gebakleiery en seergemaakte gevoelens en dikmondgeit bring ‘n mens niks in die sak nie. Kon ons almal maar net die gebod van Liefde uitgelewe het was die wêreld ‘n baie beter plek. Hoekom op hierdie aarde sal jy vir jare vir mense kwaadbly?

            Liked by 1 person

  2. Die konflik situasies wat hier om my gebeur, en waarby ek nie direk betrokke is nie, leer my alweer baie lesse. Om te sien hoe mense konflik hanteer omdat hul toekoms daarvan afhang, is ñ voorreg. Want dan is daar nie tyd vir speletjies en die eie ek nie.

    Liked by 1 person

  3. Soms trek die groot sterk donkie harder as d ander een…. ai. Maar ek ‘n vanoggend n ou wyse Engelse skrywer se woorde gelees: The castle is not safe if the house is not happy. Geld eintlik vir huwelikmaats ook.

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!