‘n Nuwe gonswoord?

Tye kom en tye gaan. En saam met die tye kom en gaan modes en siektes en sindrome en nog baie ander dinge.

Jare gelede het elke tweede persoon juppie-griep gehad. Ja, ek glo beslis dat daar mense was wat dit wel gehad het, ander het dalk uitbranding gehad, of is dit dieselfde ding? Ander was dalk moeg of depressief, of sommer net in die mode. Sjoe! Nou waag ek dit op gewyse grond! Ek is geen dokter of sielkundige nie, ek mag totaal verkeerd wees, dis maar net my gewaarwording.

Ek gewaar deesdae ‘n nuwe woord om elke hoek en draai: Narcissis. Dit wil vir my lyk of elke derde persoon deesdae ‘n Narcissis is! Wat gaan aan? Daar is wel ‘n verskil: Dis gewoonlik iemand anders wat die persoon daarvan beskuldig. Sjoe! Ek loop kaalvoet tussen pendorings!

Ek onthou, in die laerskool iewers, was daar die storie van die outjie wat gedink het hy is so mooi en homself heeltyd in die rivierwaterspieël bewonder het. Narcissis. Vandaar die naam van die persoonlikheidsafwyking: Narcissisme. Iemand met ‘n oordrewe gevoel van belangrikheid. Niemand kom naby hom nie. Niemand kan so goed soos hy wees nie. Hy is die Alfa en die Omega.

Ek lees:

Narcissistic personality disorder is found more commonly in men. The cause is unknown but likely involves a combination of genetic and environmental factors.

Symptoms include an excessive need for admiration, disregard for others’ feelings, an inability to handle any criticism and a sense of entitlement.

The disorder needs to be diagnosed by a professional. Treatment involves talk therapy.

Toegegee: Mense hét deesdae ‘n groter behoefte aan aandag en erkennig, om baie redes. Dalk het hul nie die erkenning as klein kindjie gekry nie. Dalk was hul oorgestimuleer as kind. Dalk was hul verneder as kind en sit met selfbeeldprobleme?

Toegegee: Baie van ons hét dalk Narcissistiese neigings, ek ook! Ek hou van aandag, dis vir my lekker, maar maak dit van my ‘n Narcissis?

Maak dit van iemand ‘n Narcissis as hy gedrewe is om sukses te behaal? Of as hy regtig aan homself werk omdat hy homself wil verbeter en goed wil wees in wat hy doen, selfs die beste in sy vakgebied? Maak dit van hom ‘n Narcissus as hy graag sy doelwitte wil bereik, goed van sy emmerlysie wil aftiek?

Is jy noodwendig ‘n Narcissis as jy wel soms selfsugtig is in jou doelwitte, selfs soms op tone trap, mense bestuur om dit te bereik en as jou doelwit beslis vir jou goed is, maar ook vir ander mense? Is ‘n ou noodwendig ‘n Narcissis as hy eintlik net selfsugtig is?

Ek is nie ‘n kenner nie, maar het gesonde verstand gekry by die Liewe Vader. Ek het ook nie die antwoorde nie, maar my mond hang soms oop. Hier is selfs blogs wat daagliks skryf: Hoe om die Narcissis uit te vang. Hoe om van die Narcissis ontslae te raak. Hoe om die Narcissis te dit en te dat, soveel so dat ek soms wonder, wié is nou die Narcissis, die Narcissis of die Narcissisjagter?

Maar nou ja, vele dae, vele dinge. Ook hierdie gaan oorwaai. Jammer as ek op tone getrap het, ek is soms maar lomp met waar ek trap.

Toortsie

31 thoughts on “‘n Nuwe gonswoord?

  1. Toorts, etikette wat die wêreld vol so maklik sonder kwalifisering om mense se nekke gehang word, laat my ook sommer vlam vat. Lankal het ek so by myself gedink dat al die polities-korrektheid op alle vlakke van menswees ons nog baie skade gaan berokken. Jy mag amper nie asemhaal nie, dan kan een of ander etiket jou omgehang word. Banger nog, elke tweede ou op die sosiale media is aanklaer, regter en laksman. Wat narciste betref – ek dink daai ene word heeltemal te maklik rondgegooi omdat soveel van ons nie hou van wat ons self in die spieël sien nie. Projeksie is ‘n lelike ene. Skuus, ek relaas sommer nou aan. Laaik hoe jou toorts oral skyn. Groetnis.

    Like

    1. Ek hou daarvsn dat jy aanlas.
      Weet jy, die ergste van Narcissisme is, dat jy nie medies getoets hoef te word nie, enige persoon kan jou diagnoseer en nog erger, ‘n Narcissis sal dit nooit erken dat hy een is nie, nog meer skietgoed!
      Dit voel ook vir my dat hulle wat die aanklaers is, wag, laat ek eerder dadelik stilbly! Toortsie! Prop watte in jou mond! Dadelik! En bind jou vingers styf vas dat jy nie kan tik nie!
      Dankie vir die inloer.

      Liked by 1 person

  2. Om te blog is om jou eie sê te sê uit jou eie oogpunt uit … mense hoef nie saam te stem nie. Jou weergawe kan waar, onwaar of persoonlik wees. En dit is ‘fine’. Dit is wat die lewe interresant maak – mense dink en ervaar en sien dinge in die lewe verskillend: uit hul eie oogpunt of ervaring uit.

    Liked by 1 person

  3. Ek dink etikettering is die tendens van hierfie eeu. Weet nie hoekom wil mense hul kinders belas met ń etiket nie, ook noie hoekom die mensdom mekaar wil etiketteer nie. God het ons uniek en wonderlik geskape, nie om met ń etiket om die nek te loop nie.

    Liked by 1 person

  4. Ek hou van hoe jy dit stel: loop op pendorings rond! Ek sit en grinnik oor al die slildklier-aunties se grille en die ADD en disleksiese mense wat hulleself en hulle kinders self gediagnoseer het. Ha, praat van self behandeling ook…

    Like

  5. Wie het gesê jy het ‘n Jezebelgees?
    Toorts die mensdom hardloop al vinniger aftraandepad. Dis hartseer maar dis wat ons kan verwag…. en dit gaan nog erger word. Liefde en respek vir jou medemens het skaars geword. Ons was gewaarsku!!!

    Like

  6. Selfsugitigheid of Narcissis. Miskien hel hierdie ou na naar nars: man en vrou het blind date by restaurant en vir eerste 40 vertel hy haar van al sy wonderlike hoedanighede. Dan skielik onderbreek hy homself. “Hier praat ek heeltyd sonder om jou kans te gee! Wat dink jy van my?”

    Like

  7. Ongelukkig glo ek hulle is nog altyd met ons en tussen ons soos wat Andrè Le Roux in sy laaste nie fiksie boek skryf, net meer opsigtelik danksy sosiale media.
    Vir my en my gesin is dit nie net nog ‘n gonswoord nie – want as jou hele lewe deur so persoon geraak is sal jy hulle op ‘n myl kan identifiseer. Hul charisma, hulle voorliefde vir hulself, prestasies selfs die sg prestasies wat aan die klok gehang word, oorname van enige geselskap en die uitermate gepraat oorself en geen rerige belangstelling in ander is so tasbaar selfs ‘n blinde persoon kan hulle herken in hul praatwyse.
    Ongelukkig gaan psigopatie en narsisme op die beste van tye hand aan hand vlg die slimmense en horde studies wat ek al gelees het rondom die aaklige persoonlikheidstipe. En weet verseker as so iemand jou pad gekruis het sal jy vir altyd daarna die effek daarvan ruik, sien en voel in jou lewe. HULLE IS ORAL.

    Like

    1. Ek glo ju. Ek weet hulle is daar, net gedink dit word dalk meer gediagnoseer as nodig. Vir iemand wat dit aan sy eie vel beleef het, kan ek net dink hoe dit moet voel! Baie syerkte vir julle wat weet hoe dit voel.

      Like

Gesels saam, asseblief!