Waar kry jy die tyd?

Ek voel altyd skuldig wanneer ek oor ons blogs en veral ons spelery en nonsens praat op blogs vertel en iemand vra vir my waar ek die tyd kry. Ek voel altyd of ek kosbare tyd op die virtuele wêreld vermors.

Toe ek destyds begin blog het, het ek baie skuldig gevoel. Tóé was ek regtig verslaaf daaraan en het belangrike goed verwaarloos en sekerlik gebruik ek steeds heelwat tyd om blogs te lees. Ek reageer ook graag op blogs omdat dit vir my lekker is as iemand by my reageer, geen mens hou mos daarvan om net met homself te gesels nie! Ek is ook redelik ‘sigbaar’ op Facebook, ek is nie ‘n roofkyker nie!

Waneer nie-bloggers dit dan hoor, klink dit erg.

Dan besef ek net weer eens: Ons is almal baie besig en as iemand iets doen waarby jy nie uitkom in jou besige wêreld nie, wonder jy waar sy die tyd kry. Die waarheid is dat ons ook almal tyd maak vir ontspanning en dat dit nie noodwendig dieselfde is wat ons doen nie.

Ek besef dat ek geen rede het om skuldig te voel nie. Ek is mooi groot genoeg om my tyd self te bestuur, al bestuur ek dit soms sleg omdat ek dalk ‘n bietjie aandagafleibaar is. Ek is lief vir lees en danksy blogs het ek soveel van mense geleer, dit het wêrelde vir my oopgemaak.

Behalwe dit rig ek nogals ‘n klomp uit in ‘n dag en is ek trots op wat ek wel vermag, asof ek nou enigsins nodig het om myself en my blogging te regverdig! Deur blogging het ek my skryfvaardigheid ontdek, waarvan ek nooit eers bewus was nie en dit het vir my soveel nuwe deure oopgemaak.

Nee wat, hierdie skuldigvoelery is sommer nonsens en ek moet sommer hier en nou dit in die kiem smoor.

Waar ek tyd kry daarvoor? Ek weet nie! Dalk kyk ek nie so baie TV nie! 😁 Gelukkig laat my leefstyl toe dat ek tussenin nog kan blog ook!

Waar kry julle tyd daarvoor? Koop julle dit, of steel julle dit?

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Het julle al gehoor van ‘n vreugdevas?

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

23 thoughts on “Waar kry jy die tyd?

  1. 8 ure vir slaap, 8 ure vir werk en 8 ure vir ontspanning. Een van die min voordele van jou eie baas wees is dat jy kan kies hoe jy daardie ure meng, solank elkeen sy toegekende kwota kry.

    Liked by 1 person

    1. Die fout wat ek soms maak, is dat ek ‘werk’ net reken as dit my kantoorwerk vir ons besigheid is, wat nie 8 ure per dag is nie. Gelukkig het ek nie 8 ure per dag daarvoor nodig nie. As ek in my huis werk, is dit ook mos werk! Verder is ek bevoorreg genoeg om nie heeldag kantoorwerk te hoef doen nie.

      Like

  2. Ek het oorgenoeg tyd gedurende die dag om te blog. Hier is darem nie heeltyd mense in en uit by die winkel nie, maar ek moet die deure oophou. Sentrum reëls. Kan dus nêrens heen wegloop vir ñ vinnige halfuur nie. Net hier bly. Heerlik. Oorgenoeg tyd om by julle almal te kuier. GEEN skuldgevoelens nie.

    Liked by 1 person

  3. Ek het die TV se draadjie geknip in April 2016 en AL wat ons regtig gemis het, was die laaste paar episodes van Masterchef Awestroilea. Billy het toe gewen, sterk plaaskind. Maar dit het ek gegoogle.

    Tyd vir blog is daar steeds nie, want my data werk eintlik snags en wie wil regopsit net daarvoor? Tog ervaar ek daar is dinge waaroor mense vrae vra, of wat hulle prikkel, dan blog ons maar. As die diabetes en my niere my eers wakker het, wel, nouja.

    Vandag is ek tuis om weke se verlore slaap in te haal, kyk net wat doen ek. Jy weet, mens se rol op aarde is om ander aan te raak, om die muur, die stad, die tempel te bou. Dalk maak mens ook tyd vir dit wat jou passie is.

    Liked by 1 person

  4. Ek steel ‘n bietjie hier en leen ‘n bietjie daar. Ek is ‘n vinnige werker, so my werk is altyd lank voor die sperdatums klaar gedoen en dan gaan sit ek met my tablet terwyl ek gou ‘n koffie breek vat. Soms sit ek by die huis in die son en ek kan nie net niks doen nie, so dan skryf ek ook.

    Liked by 1 person

      1. Kom nie by ‘n antwoord uit nie. Kuier lekker met die mense…. maar het dit enige betekenis. Ek voel mos my lewe moet ‘n doel hê. Ag dis te gekompliseerd.

        Like

  5. Ek lees blogs of skryf self so tussen my werk deur wanneer ek programme af- en oplaai. Ek steel tyd in die middel van die dag om in die natuur te gaan rondloop. En nee, ek voel nie skuldig nie, net jammer dat ek nie genoeg tyd kry om boeke te lees nie. TV – lankal opgeskop.

    Liked by 1 person

  6. Ek blog meestal oor boeke wat ek lees, en dit is baie! Soms sommer direk op Facebook. Ek weier om daaroor skuldig te voel. Waaroor ek wel wroeg, is dat daar soms ure verdwyn tussen Facebooklees deur. Ek kon daardie tyd wel beter benut het. Vir my is ‘n goeie maatstaf nogal om te kan wys wat ek met my tyd gemaak het, en dan kwalifiseer ‘n bloginskrywing mos een honderd persent!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!