Ek vorder!

Ek dink, as ek die woord, ‘trek’, of ‘uitpak’ of ‘Banting’ skryf, wil julle al skree! Sorrie! Skree maar! En ja, ek is STEEDS besig, al sedert 10 Januarie! Twee maande! Eintlik meer, want in verlede jaar het ek ook al bietjies ingepak.

Nou moet ek sê, die klompie goed wat oor is, sou ek in Februarie in ‘n oggend se tyd uitgepak het. Nou gaan dit stadig. Nee, nie stadig nie, S T A D I G. Want sien, in die begin kon ek vir mense wat inligting wou hê, sê, ‘Sal jy my net gou ‘n kansie gee, ek trek nou.’  Ongelukkig kan ek nou nie meer die mense se geduld verder beproef nie.

Maar ek vorder! Ek dink, as ek hierdie spulletjie goed wat nog hier rondstaan, sommer op ‘n afhoop gooi, sal ek dit dalk nie sommer agterkom nie. Maar julle ken die storie, net môre het ek daai ding nodig wat ek weggegooi het.

Hoor hier, ons is Everest en Ararat en Kilimanjaro oor, en in die proses sommer die Langeberg en Potberg ook! Dit was MASSIVE! Ek was op, my rug was op. Sien, as jy veronderstel is om jou rug 3x per week te oefen en jy doen dit een keer in drie weke, moet jy maar self die gevolge dra, saam met al die bokse en meubels wat jy skuif en alles.

Ek dink my besigheid lyk mooi, as ek dit nou self mag sê. My mooier goed is mos nou meer gekonsentreerd, in die groot plaashuis verdwyn ‘n mooi ding maklik. Die plekke waarheen ek pendel, is ook weer besig om leefbaar te kom, en ek belowe julle, ek het ‘n mobiele kantoor soos min!

Op hierdie stadium is my wens dat hier net elke dag ‘n klein ietsie sal vorder. So, gister het ek my een ‘wall of horror’ se foto’s opgesit, kap, kap, kap. ‘n Slim jongman het my radio aan die werk gesit,hier is geselskap! Ek kon my stukkie kantoorruimte in hierdie huis uiteindelik werkbaar maak. Dit was nog heeltyd agter bokse weggesteek, soveel so dat toe die internet-outjie hier kom, hy nie verstaan het wat ek met ‘kantoor’ bedoel nie, tot ek verduidelik het dat my kantoor agter die bokse is! Dieselfde jongman kon my rekenaar deur die ‘lug’ koppel met my man se drukker in sý kantoor! 🙂 Nou kort ek net ‘n klein, kort mannetjie wat elke keer die papier gaan haal. (My eie drukker is by een van die pendelstasies!) 🙂

Vandag moet hier ‘n gordyn of twee opkom en ADMIN moet gedoen word!

Stadig maar seker wen dikwels die beker!

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Moenie vir jou onderbewussyn jok nie.

Toortsie by Pinterest

24 thoughts on “Ek vorder!

  1. Hie-hie. Oulik geskryf. Stuur dan nou fotos as alles klaar op sy plek is, ‘n vrou bly maar ‘n nuuskierige ding … (Nou die dag tuur ek so na my stoor-kamer. Vir weke belowe ek myself ek gaan tenminste 50% van alles wegsmyt. Agterna het ek darm 10% weggegooi, en alles lyk nog net so vol, alhoewel die goed nooit gebruik word nie.)

    Like

    1. Wat vir my regtig baie gehelp het, was dat ek kon kom uitpak voor die tyd. So ek het groot plastiekkratte by iemand geleen, en ook my eie gekoop. Dit het fantasties gewerk. En sommer lakens as verpakkingsmateriaal gebruik, dieselfde lakens oor en oor. Dit het nogals die uitpakwerk baie makliker gemaak, behalwe as iets lank gelede gebruik was en ek gevoel het ek moes dit eers was.

      Liked by 1 person

      1. Ek het gelukkig die meeste van my goed wat nie alledaags of dikwels in gebruik is nie weggemaak voordat ons uit Gauteng getrek het. My grootste probleem is om elektroniese toerusting op te pak. En hoekom het drie mense soveel klere en persoonlike toiletware?

        Like

        1. Dis wat ek met hierdie trek moes doen: Soveel onnodige opgaargoed van almal wegmaak. Die volgende trek sal al baie makliker wees. Maar as ek die woord ‘hou’ hoor, vir allerhande nonsens, raak ek gou gespanne! Bakleierig.

          Like

        2. Dis wat ek met hierdie trek moes doen: Soveel onnodige opgaargoed van almal wegmaak. Die volgende trek sal al baie makliker wees. Maar as ek die woord ‘hou’ hoor, vir allerhande nonsens, raak ek gou gespanne! Bakleierig.

          Liked by 1 person

          1. Net so! Ek moet mos letterlik my man se ou klere van sy lyf afskeur as ek dit wil vervang. Hy besit ‘n paar Jordanskoene wat ±20 jaar oud is. Toegegee, dit was net een keer gedra, maar ek dink nie hy sal dit ooit weer aantrek nie – te klein geword so saam met die groei van die bunions en liddorings. 😕

            Like

            1. Ek dink ek het hierdie al vertel. Toe my tweeling klein was, het ek vir die drie manne elkeen ‘n sebra pajamapak gemaak. Manlief het dit 20 jaar later nog gedra.
              Toe ons eenkeer met vakansie is, het ek sy beste vriend gevra of hy asb die zebrapak in veilige bewaring sal hou tot ons terug is. Pappa het toe die boodskap gekry!

              Liked by 1 person

  2. Solank jy vorder Toortsie. Trek is niemand se speelmaat nie, en dit voel asof dit ook nie klaarkry nie. Bertus het my nounou hier langs die see vertel dat binne die eerste week by die huis, moet ons stoorkamer uitsorteer. Stoorkamer menende ń hele woonstel nog vol bokse. Ek dink ek gaan net hier bly.

    Like

  3. Ek voel vir jou Toorts…. trek is vir my een van die goorste goed van ons menswees. Net die uitgooi van dinge wat jare ongebruik in kaste staan is lekker. Amper daar!!! 🙂

    Like

Gesels saam, asseblief!