Waar kom groot dinge vandaan?

Ek stap voor kersfees in Struisbaai se kersmark toe hierdie woorde my in my skoene tot stilstand ruk: ‘Great things never came from comfort zones.‘ Sjoe!

Soveel van ons wil groot dinge in die lewe bereik, maar is nie bereid om ‘n tree buite ons gemaksone te gee nie. Ons is selfs jaloers op mense wat groot dinge bereik, onbewus van die harde werk, baie opofferings oor baie jare wat dit verg. Die meeste ‘groot dinge’ gebeur nie oornag nie, dis dalk iets wat opbou oor baie jare, waarvoor hard gewerk is en werk waarvan niemand anders eers bewus was nie, selfs laatnagte. Die meeste keer sien ons net die eindproduk en dink dan maklik: ‘Sjoe, maar daardie ou is gelukkig! Hoekom is hy so gelukkig? Hoekom kry hy dit reg en nie ek nie?’ Soms is dit amper of jy nie dit vir die persoon gun nie. Min wetende.

Ek het dit al baie gesien dat iemand vra: “Hoe doen jy dit?” en as die persoon dan antwoord, onderlangs brom, want eintlik het hy nie bedoel dat hy moet ‘werk’ daarvoor nie.

Great things never came from comfort zones.

Waarvan droom jy? Is daar iets wat jy nog altyd graag wou doen? Hoekom doen jy dit nie? Dis dalk baie nader as wat jy dink, dalk eintlik binne jou bereik as jy net gewillig sou wees om ‘n tree buite jou gemaksone te gee.

Toe ek Amway gedoen het destyds, het ek so baie keer by die ‘Dreambuilders Assosiation’ gehoor: ‘If you want to see things others don’t, then you have to do things others won’t.’

Komaan! Gooi die kombers van jou af! Wees bereid om dalk ‘n uur langer te werk. Kyk minder TV. Doen daardie ding wat tog nie by jou ‘image’ pas nie. Doen dit net! Wat maak dit saak wat ander sê? As jy niemand kry om dit saam met jou te doen nie, doen dit alleen! Ja! Regtig! Sal jy regtig dat ‘n ander persoon jou drome van jou ontneem?

Waag dit. Gee daardie een tree buite jou gemaksone. Jy sal verbaas wees wat dalk daaruit kan ontwikkel.

Groete

Toorts

Toortsie se faceboekblad.

19 thoughts on “Waar kom groot dinge vandaan?

  1. Een aand ‘help’ ek ‘n mot om uit sy papie-kokon te kruip deur ek sy dop versigtig knip en strek en mot so te sê trek. My Pa kom op die spulletjie af en is op die daad vies vir my. Sien daar kan mot se kind se vlerke nie span of vlieg nie. Mot miet deur die drama van daai nour kokon drukgang gaan en ‘struggle’. In die proses word die bloed in die vlerke in geforseer sodat hy later kan uitdroog en vlieg. Mens is ook mot. As dit te maklik is het ons vlerke nie vliegkrag nie.

    Liked by 3 people

  2. Weet jy dis alles waar. Daardie ding van in jou noute te sit en met verlange te wonder hoekom dit nie met jou gebeur nie- breek uit en doen! Jy sou nooit jou boek uitgegee het as jy heeltyd gesit en jaloers wees op ander wat dit al gedoen het nie. Baie kere begin mens bietjie laat in lewe maar dit sê steeds nie jy mag probeer nie!

    Like

    1. Ek kan jou met alle eerlikheid sê: Bykans ELKE tree wat ek met die boek gegee het, veral nadat die resepte op die rekenaar getik is, dit wat daarna moes gebeur – elke tree was BUITE my gemaksone.
      Soms het dit vir my gevoel of ek met ‘n stootskraper gestoot word UIT my gemaksone.
      Ek onthou my skoondogter het een keer gevra of sy die metode se stappe moet nommer, toe sê ek vir haar, NEE. Ek is met ‘n stootskraper uit my gemaksone gestoot, maar nommers by die verskillende stappe? Dis nou net een stappie té ver! Glad nie ek nie. 🙂

      Like

      1. Dis nou mooi gesê- die stootskraper. Dit is met tye so frustrerend om nie te vorder net omdat jy nie die kennis het nie. Dan weer, die volgende kyk wat mens gee gebeur daar weer dinge wat net reg is en dan gaan dit weer reg. So ontdek mens meer en meer van wat mens eintlik wel kan vemag!

        Like

Gesels saam, asseblief!