Net een soen

Scrypydo se toeka-tokkel: Eerste soen

Ek was die dogtertjie wie se ooms haar nek met ‘n bokdrolletjie wou afskiet, en wie hulle “tinktinkie” genoem het, omdat my bene so lank en maer was.  Sit hierby vaal dun haartjies, ‘n kleurlose vel, en ligbruin oë en jy verstaan hoekom ek nie in standard vyf liefdesbriefies van seuns af gekry het nie.  Nie dat dit my gepla het nie, terwyl my maats al giggelend van seuns gepraat het, het ek nog oor die feëtjies wat op die plaas woon gedroom.

Op vyftienjarige ouderdom nooi ek Aletta, ‘n vriendin wat van kleintyd af nie ‘n tekort aan kêrels gehad het nie – saam plaas toe.  Ons staan in die gangetjie van die trein en uitkyk hoe die wêreld by ons verbyflits.  Met die gesels leun ek onbewustelik teen ‘n kompartementsdeur; die volgende oomblik gaan die deur oop, en ek struikel-val ‘n kompartement vol laggende universiteitsstudente binne.  Dit is duidelik dat hulle aspris die deur oopgemaak het.  Gelukkig is ek gewoond aan groter nefies wat lief is om te terg, dus skaam ek my nie morsdood nie.  Ons kompartement is net langsaan, so deur die verloop van die dag wissel ons so af en toe ‘n woord of twee met die studente.  Alles doodonskuldig, en daardie aand gaan slaap ek sonder ‘n tweede gedagte aan ‘n student, min wetend dat ek more uit my dogtertjiewêreld geruk gaan word.

Een van die studente; ‘n blondekop, blouoog goed geboude jongman was besonders gaaf met my.  Ek het dit in presies dieselfde lig gesien as ‘n neef wat my aandag gee.  Toe die tyd nader kom vir hom om van die trein af te klim, stap ek saam met hom na die einde van die wa toe.  Ons staan op die klein platvorm, en wag vir die trein om die stasie binne te stoom.  Die volgende oomblik draai hy om, sy lyf is teen myne, en sy asem is in my gesig; toe buk hy af, en vir een kort oomblik brand sy lippe op myne.  Met sy tong maak hy my mond net effens oop.  Die trein kom tot stilstand; hy beweeg van my af weg, en spring uit op die platvorm.  Met sy kuif wat in die wind waai, en ‘n breë glimlag op sy gesig waai hy vir my, en toe is hy weg.

Een soen het my hele wêreld verander.  Ek het uit ‘n diep slaap wakker geword, en ‘n vuurtjie is binne my aangesteek.  Die hele vakansie bly sy beeld my by, en brand sy soen op my lippe.  Met die terugkomslag kom haal my pa ons op Johannesburgstasie.  Ek stap langs hom die trappe op na die wêreld daar buite, en druk onwillekeurig my hand op my mond.  Die soen het nie sy vuur verloor nie, en ek besef dat ek die wêreld nooit weer deur dieselfde oë sal sien nie.

 

Advertisements

27 thoughts on “Net een soen

    1. Jy onthou tot die naam!!! Dit doen my hart goed om te hoor die manne onthoi ook. Werklik gedink julle beweeg maar van blom tot blom sonder veel onthou. 🙂

      Like

  1. Ek wonder altyd of sulke jong manne se selfvertroue spoed optel na so vasvat soen? Dis net so – mens vergeet nooit daardie eerste soen nie! Dat een enkele soen mens vir dae lank deur die lug kan laat sweef… Interessant daardie blonde student – Don Guan of Steve Hoffmeyer?

    Like

  2. Ons moes almal so ‘n bietjie uit ons kassie klim, maar dit is goed so. Onder dit wat ons vir die mense wys is ‘n regte mens, met ware lewenservaringe. Dinge wat ons almal deurmaak, en partykeer goed is om te deel. Dit is die eerste keer dat ek die ervaring van my deel. Het nie eers vir Aletta daarvan vertel nie…. dit was ‘n te diep ervaring om ligtelik daaroor te praat.

    Like

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s