Oor “groups”

“Groups” en “Pages” is nou aan die orde van die dag, en ek dink dit kan baie goed werk, of nie.

Ekself het al ‘n Watsapp groepie of twee gestig, vir as daar ‘n gemeenskaplike groep mense is wat almal dieselfde boodskap moet kry. Dit vergemaklik net die taak as almal sommer met dieselfde boodskap bereik kan word. Dis ‘n funksionele groep, en gewoonlik moet ‘n mens by so ‘n groep probeer om by die doel van die groep te bly en om nie persoonlike geselsies aan te knoop nie. Ek is seker daar is seker “chat-groups” waar daar weer lekker oor en weer gekekkel kan word. Elke groep het seker sy voorkeure en doel.

Rondomtaliedraai praat ook van groepies…

Ek het geleer om baie versigtig by sulke groepe te wees. Die oorspronklike stigter van die groep het soms baie spesifieke gedagtes rondom die werking van die groep, wat dalk nie so goed gekommunikeer word nie. So kan dit dan gebeur dat goedbedoelendes foto’s en opmerkings plaas wat hul voel by die groep hoort, terwyl die opsteller anders voel. Nou wonder ek net, hóé hanteer ‘n mens dit dan? Verwyder jy dan net die inskrywing stilletjies? Of sit jy die reëls DUIDELIK UITGESPEL, op die groep? Praat jy die mense aan of ignoreer jy dit eerder?

Selfs op my faceboekblad is ek nie altyd seker nie: Share ek te veel? Of share ek te min? Sien, almal se behoeftes verskil!

Ek is lid by meer as een hekelgroep. Ek plaas nie vreeslik pragstukke op die groep nie, want myne is mos nie eintlik volgens die reëls gehekel nie, ek maak askies- en aspriskombersies, wat ek nie voel om te plaas nie. Ek hou by die reël, wat herhaaldelik uitbasuin word, dat jy NIE die patrone mag vra nie, soms lewer ek kommentaar. Dis net vir my lekker om te sien wat mense maak, wat die nuwe modes is, watter wolle die mense gebruik. Ek leer by die ander. Nou sien ek dat die een groep “secret” gemaak is. Daar staan ‘n boodskap dat hul ‘n nuwe groep gaan stig, dat jy slegs op uitnodiging daarvan deel kan wees, en dan moet jy afmerk: Jy sal by die reëls hou, jy sal aktief deelneem… Ag wat, toe het ek myself net daar “ungroup”… want, WAT is aktief deelneem?  Wanneer raak dit too much of a muchness?

Ek gee nie om as my vriende my by hulle groepies wil insluit nie, dis mos my keuse of ek wil deelneem of nie. Ek skakel net dadelik al die kennisgewings af, so eintlik pla hulle my nie… Maar nie ALMAL voel so daaroor nie. Party mense voel wel hulle word oorval as hulle keer op keer genooi word om by ‘n groepie aan te sluit.

Maar ja, as jy gedink het jy moet mooi trap op Faceboek… wees EKSTRA versigtig met die trappery by groepies… of jy word sommer UNGROUP voor jy nog daarvoor gevra het! 🙂

Toorts

.

 

30 thoughts on “Oor “groups”

  1. Oe hierdie is sensitiewe onderwerp.. hmmm , ek dink ek het eendag vir jou ook vertel- ek het myself uitgenooi na ‘n groep om net so effens op die vingers getik te word ..eintlik moet iemand jou aanbeveel! Ag wat soveel mense soveel smake. Ek dink ek moet gaan loer by die groepe..

    Like

        1. Ja en jy neem deel ook! Ek dink net die goed wat ek daar share, het jy al ALMAL gesien voor ek dit nog sien! Maar ek sit dit op omdat daar ook nie-bloggers is wat dalk nie weet waar om ander Afrikaanse blogs raak te loop nie.

          Like

  2. Met whatsup id dit regtig lekker om sommer 1 boodsk vir die hele omgeegroep te gee, of my hele gesin. Net facebook is dit lekker om te sien wat is alles tuis te koop hier of wat die Suidpunt inwonersvereniging beplan. Maar secret groups om watter rede hulle ookal secret is, moet maar sonder my secret en private bly. Dis net te veel moeite.

    Like

  3. Jy weet mos van my probleme so iewat meer as ‘n jaar terug? Chanté sit ons hele huisgesin toe op ‘n groepie…. aan die begin proe-proe elkeen versigtig daaraan; bang om op tone te trap, maar dit raak al makliker. Nou is dit iets wat ons huisgesin op ‘n wonderlike manier saambind. Ons gesels, terg, en deel ondervindinge.
    Ek is bly jy het hieroor geskryf want ek het gewonder oor ‘n ander groep waarop ek ongevraagd beland het. ‘n Nie te naby vriendin en haar man is vir drie maande Amerika toe. Sy stig toe dié groep sodat sy sommer so met almal in kontak kan bly. Niemand ken niemand op die groep nie, maar almal plaas al wat ‘n ding is op die groepie (meestal geestelike dinge.) Ek wonder toe of ek iets makeer want ek trap baie versigtig; vir my is dit dan gestig dat ons kan sien wat maak Ronel oorsee…. en nou dit. Moet ek maar uitreik en vriende probeer maak met die klomp… of hou ek my maar eenkant en vra net so nou en dan vir Ronel ‘n vraag?

    Like

    1. Ons het ook ‘n gesinsgroepie waar ons almal saamgesels oor dinge wat net vir ons van belang is. Maklik en vinnig om ‘n boodskap te los of vakansiereëlings te tref. My houding omtrent my eie bladsy is – ek plaas wat ek wil en as jy in dieselfde goed belangstel, gesels saam. Indien nie, skakel die “notifications” af.

      Liked by 1 person

      1. Hester, die klomp gesels partykeer so vining dat hulle al klaar by ‘n ander onderwerp is voordat ek nog iets by die eerste kon sê. So skryf ek nou die dag “Met julle vining geseKsery, kan ek nie byhou nie, en voordat ek klaar is, is julle alweer op ‘n ander onderwerp.” Kan jy jou die kommentare hierop indink?

        Liked by 1 person

  4. Ek is maar ‘n enkeling wat my eie ding doen.Ek hou ook nie van verenigings en selgroepe nie,nie eers in die vlees nie 😆 Maar ek dink tog daar is ‘n plek hiervoor,solank dit nie die doel mis nie.Geheime groepe klink vir my so middeleeus.

    Liked by 1 person

  5. Dis nou n ding wat vir my baie tydrowend is om by te hou by sulke groepe. Ek het op n stadium ernstig deelgeneem aan sekeres. Dit het soveel tyd in beslag geneem dat ek maar opgehou het daarmee. Ek doen so baie moeite vir een bydrae dat daar nie tyd is vir my eie persoonlike dinge nie. (Is maar stadig as dit by besluite neem kom!!!)

    Liked by 1 person

  6. Ek is basies ‘n “loner.” Ek aanvaar as ek “genooi” word, maar vir al die res, het ek nog nooit self ‘n groep gestig nie. Nie op mXit, Whats App, Facebook of Bbm nie. Ons sal nou mooi moet dink wat ons in sulke groepe sê. Het gister op die nuus gehoor ons liewe regering gaan nou “Soshal Networks” monitor om mense wie teen of namens die regering praat aan die man te bring. BRING IT ON!!!!!!!!!!

    Like

  7. Nee wat ek sê maklik nee-dankie veral as hulle goed verkoop As dit enigsins ‘n politieke of selfs ‘n kultuur geurtjie het bly ek ook weg. Ek behoort aan een fotografie groep en die skoolgoep waar ek skoll gehou het – verder nee – dit vat te veel tyd

    Like

  8. My sus het ‘n groter Whatsapp familiegroep gestig waar daar ‘n hele klomp oues en jonges bymekaar is en wissel van vroegopstaners tot laatgaanslapers, met die gevolg dat die piengs met tye behoorlik trek. Ek het die ene met stomheid geslaan tot oor ‘n jaar en elke nou en dan gaan loer ek. Vir ons eie gesin het ons ook ‘n groep en daar deel ons die alles-in-een-nusies. MAAR, die vingertjies het al lekker geglip, soos toe Oudste op die groter groep laat weet: Tweeling, ek kry julle oor ‘n halfuur en ek wil nie weer wag nie! Tweeling is nie eers op die groep nie. Ek self het al ‘n foto van die skilderytjie waarmee ek besig is vir die Familie i.p.v. net my sus gestuur. Was erg verleë, want toe voel dit soos spog! Nou maak ek mooi seker waarheen daai boodskap gaan!

    Liked by 1 person

  9. Ek behoort aan ‘n paar motorfietsgroepe en ons gesels al te lekker saam oor wat raas, waar ons ry en waar om goedkoper parte of bande te koop. Dan word daar raad en opinies ook gevra waarvoor altyd meer as genoeg antwoorde is. Al wat my vies maak is as mense advertensies post om geld uit die storie te maak. Dis ook altyd die enigste keer wat die mense gewoonlik “saampraat” Daai, is verkeerd.

    Like

  10. he he – lyk my dis maar ‘n sensitiewe onderwerp hierdie. sommige is lekker, sommige is boring, maar ek dink ook dit hang af in watter seisoen ‘n mens is in jou eie lewe? partykeer is ek net soos in glad nie lus vir enige issues of nonsens nie, dan bly ek maar weg. ander kere voel ek weer neutraal, dan loer ek maar weer.

    klink my ons het almal ondervinding van groepe. as ek dit dalk net van ‘n “admin” se punt af kan stel – ek is een van die admins van ‘n groep wat nou net oor die 600 lede gegaan het. dis ‘n baie sensitiewe onderwerp met mense van verskillende rasse, so jong – glo my, dis harde werk om een van “die base” te wees. ons reels is uiteengesit en ons remind maar mense so elke nou en dan daaraan. ons probeer om nie te kwaai wees nie, maar julle – ‘n mens kry weird mense. partykeer moet jy baie vinnig ‘n post afhaal voordat daar nog ‘n oorlog is. en dan kry die mense wat heeltyd skoor soek ens ens. ‘n grap is dit nie. my man is ‘n admin van ‘n groep waar daar meer as 2000 lede is – so julle kan imagine wat daar aangaan.

    dit is lekker en ons geniet dit, maar dis ook baie uitputtend as ‘n mens met mense sukkel. so ja – dis maar net van die ander kant af wat ek bietjie deel. 🙂

    ek het ‘n ander groep ook wat lekker lig is, so daar is nie te veel issues nie – ek het iemand anders ook as admin aangestel, en hy geniet homself gate uit.

    ek moet ook erken – ek behoort aan twee “secret” groepe … ek dink die rede is maar omdat daar soveel issues in groepe is. veral as daar so baie mense is, dan is dit ‘n groot mors van tyd, dan kies party admins maar om ‘n ander secret groep te stig met mense wat hy/sy ken.

    dis nie dat ek dit nou net defend nie, wou dit maar net deel … 🙂

    Like

Gesels saam, asseblief!