Verklaring oor my taal…

Aangesien dit vandag Internasionale Moedertaaldag is, pos ek graag weer hierdie bloginskrywing wat ek baie lank gelede geskryf het. Hierdie bloginskrywing word steeds daagliks gelees en, van al my skryfwerk, die een wat die tweede meeste gelees word. Soos Wolfie sê, kom ons wees trots op ons taal!

Afrikaans is my taal. My Moedertaal. Die taal waarvoor ek lief is. Die taal wat ek nog my lewe lank in die huis praat, waarin ek skool gegaan het en waarin ek onderrig is op universiteit. Ek is NIE ‘n taalkundige nie en is baie meer syfervaardig en musikaal as taalvaardig. Maar dis my taal. Dis die taal waarin ek blog. Ek lees wel soms Engels en praat dit ook as dit nodig is sonder verset, maar ek verkies beslis ‘n Afrikaanse boek. As ‘n boek oorspronklik in ‘n ander taal geskryf is, en oorvertaal is na Afrikaans, verkies ek die Afrikaanse weergawe. Dis die taal waarin ek gemaklik is.

Al kry ek al die kritiek in die wêreld, al dink ander dalk dis ‘n kombuistaal, sal ek, sover moontlik, vir die res van my lewe Afrikaans praat en dit probeer bevorder op alle terreine binne my bereik. Ek kan met trots sê dat ons plaaskinders se taalgebruik verbeter danksy my betrokkenheid. Ek het al ‘n Xhosa-sprekende kind op ‘n eistedfodd laat sing: “So ry die trein.” Pragtig!

Ek GUN elke persoon in die wêreld om die taal van sy keuse te praat. Ek dink nie Afrikaans is ‘n beter taal as ander tale nie. Maar ek verkies Afrikaans!!

Wie weet wat op die maagkant van hierdie T-hemp staan??? 😀

Groete

Toortsie

Toortsie by Finesse: Toe kom die reën

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Transformation Prayer Ministry: Bredasdorp en Riversdal

As Afrikaans sou uitsterf – lê jou eier oor jou erfenis

Hul vra ons om ‘n bietjie te dink: as Afrikaans sou uitsterf, wat sal jy mis?

My hele lewe is Afrikaans. My huistaal is Afrikaans, my gesin is Afrikaans. Ek bly in ‘n dorp waar ons Afrikaans praat. Ek kan my nie indink hoe ons mense sal regkom sonder Afrikaans nie.

Ons straatname is Afrikaans. Wat word van Breëstraat, Parkstraat, Rivierstraat, Kerkstraat? En plaasname? Uitkyk. Gaan Boschfontein, wat eintlik Hollands is, Bush Fountain word? Karsrivier Kars River? Dan praat ons nie eers van dorpsname nie! Riviersonderend. Putsonderwater. Verlorenfontein. Bredasdorp. Dit is Afrikaanse name wat ons net op geen manier kan verEngels of verwatookal nie!

Ek vry in Afrikaans. Ek kan my net nie indink om vir my man in enige ander taal as Afrikaans te sê hoe ek oor hom voel en dat dit dieselfde sal wees nie.

Afrikaanse humor. Het julle al probeer om ‘n Afrikaanse grap in Engels te vertel? Dit wérk net nie? Soos die destydse Minister van Landbou, wat gesê het die Kapenaars het nie bogrond nie, nie ondergrond nie, maar darem ‘n bietjie agtergrond. Vertaal dit gou ‘n bietjie na Engels! Toe!

Ek kan nie kosmaak in Engels nie. Ek het een Engelse resepteboek iewers gekry en hy het lankal op die ashoop beland. Daarteenoor het ek ‘n stapelvol Afrikaanses. Geen vergelyking nie.

Toortsie probeer soms in Engels blog. Mensdom! Wát ‘n gesukkel!

Ek dink ek het my punt gemaak. Ek droom in Afrikaans, lag in Afrikaans, speel in Afrikaans, het lief in Afrikaans, word kwaad in Afrikaans, gaan kerk in Afrikaans, dien God in Afrikaans. Afrikaans is my taal. Ek is lief vir Afrikaans.

Wat van jou? Sou Afrikaans uitsterf, wat sou jy mis? Skryf dit op jou blog. Skryf elke dag iets anders op jou Facebook. Op Instagram. Op Twitter. Vertel dit om die braaivleisvuur. Wat is Afrikaans vir jou? Sê dit. Maak Afrikaanssprekendes bewus van ons mooi taal en dat ons dit moet oppas en liefhê en versorg sodat dit kan groei en ons nageslag ook nog die voordeel daarvan kan hê. Merk dit elke keer #Afrikaans #Onmisbaar

En terwyl ek dan nou my eier kan lë oor erfgoed, Afrikaans is my erfenis, en soos die res van my erfgoed, probeer ek mooi kyk na my taal. If you are Afrikaans speaking, be loyal to your ancesters: Speak Afrikaans! 😁

Ek daag jou uit!

Toortsie

Lees ook: Verklaring oor my taal.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22). 

Wat tik mense by die soekenjins in om by hierdie blog uit te kom?

Wat tik mense in om by ons blog uit te kom?

“Mondelinge onderwerpe”. Lank gelede het ek geskryf oor onderwerpe waaroor ek as kind moes praat. 40 Jaar later het dit sekerlik baie verander. Ek voel mondelingonderwerpe moet op laerskoolvlak binne die kind se ervaringswêreld wees. In die hoërskool, dink ek, kan dit meer uitdagend raak sodat die kinders ‘n bietjie navorsing kan doen. My groot pleidooi bly steeds: Mammas, dis nie JULLE taak om die mondeling te skryf nie, dis jou KIND se taak en as JY dit skryf, ontneem jy jou kind ‘n geleentheid om sy eie verstand te gebruik en ontwikkel. Moenie van jou kind ‘n papegaai maak deur net te herhaal wat jy sê nie. Klaar gepreek! Watter voorstelle het julle vir mondelingonderwerpe?

Taste Life - Healing the Wounded
Taste Life – Healing the Wounded
“Here, help my“. Hier is groot nood in ons ou wêreld! Mense weet nie meer watter kant toe nie. Ek hoop en bid dat die persone wel by iets of iemand uitkom wat hulle kan help. Tans lees ek hierdie fantastiese boek van Francois Mostert, Taste Life – Healing the wounded Ek besef net al hoe meer dat ons onsself sal móét bemagtig. Eerstens doen ons dit deur daagliks by God aan te klop, maar dit help ook om boeke te lees wat ons van lewenshantering leer.

Iemand vra: “Hoe begin jy ‘n nuwe blog?” Toortsie het jare gelede al hieroor geskryf. Maar Toortsie het nie net hieroor geskryf nie, so met die tyd het sy verskillende blograad uitgedeel. Kliek ‘n bietjie HIER. Ek sien daar is alreeds 80 bloginskrywings wat blograad bevat. Genade, Toortsie!?

Raad vir muise in jou huis.” Muise en rotte bly maar net ‘n probleem, en ekself het regtig nie raad nie! Maar al wat ek weet, hulle is NIE die liewe diertjies wat kinderboeke probeer voorstel nie. Muise en rotte dra siektes aan en verniel jou goed. So, as hulle in jou huis is, moet hulle uitgeroei word! Klankmasjientjies? Gif? Katte? Peppermentgeursel op watte? Valletjies, lyk my, werk nog die heel beste, want ‘n dooie muis is ‘n dooie muis is ‘n dooie muis. Lok uile na jou tuin toe! Watter raad het julle?

Hoe werk jongmense se koppe?” Ek weet nie, ek het ook nie al die antwoorde nie, maar hulle wil graag erken word as mens, te midde van al hulle onsekerhede en vrese. Maak ‘n tiener jou vriend, dis die moeite werd!

Het julle raad vir hierdie een? “Hoe kry jy kinders uit die huis wat nie werk nie en klaar is met skool?” 

Daily prompt: Overwhelming. Sometines, keeping up your blogging may be overwhelming, but most times it is pure pleasure. 

Groete

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Op jou merke!

Toortsie by Pinterest

Toortsie by LCHF E-zine: Oorvol, maar steeds honger

 

 

 

Aandagafleibaarheid

Aandagafleibaarheid is deel van my persoonlikheidstipe. Natuurlik is daar baie grade van aandagafleibaarheid, ek is seker daar is mense wat baie erger is as ek, en net soveel mense wat glad nie aandagafleibaar is nie. Genadiglik was dit nog nie ‘n term wat bekend was in my kinderjare nie, so ek kon as ‘n normale kind my skoolloopbaan voltooi.

Ek ervaar nogals dat sommige mense dit as ‘n swakplek in my mondering sien, ‘n plek as hulle met ‘n stok wil slaan. Gelukkig is daar goed soos persepsies. Gelukkig pla my aandagafleibaarheid my glad nie. Dit moet net bestuur word!

Vir ‘n aandagafleibare is dit nogals ‘n uitdaging om ‘n groot taak te voltooi. Ons het net soveel goed wat ons graag wil doen en so min ure! 🙂 Ek glo dat my aandagafleibaarheid juis ‘n eienskap is wat my help om kop bo water te hou in moeilike omstandighede. Wanneer almal sit en fokus op hulle probleempie, is die aandagafleibare een die een wat skarrel (tot almal se irritasie), maar deur die geskarrel kry sy dinge gedoen! My ‘vlinder-geaardheid’ maak dat, selfs al is ek ernstig besig met iets, en my man kom skielik met ‘n ander iets wat dringend gedoen word, dat ek dit kan doen. Ek raak nie so maklik gespanne as iemand my in die middel van ‘n taak pla met ‘n ander taak nie. Raak dit die aand 9 uur en my man laat weet my daar is twee ekstra manne wat vanaand moet kos kry, help my aandagafleibaarheid om nie ‘n pop uit ‘n kot te gooi nie. My aandagafleibaarheid het my geleer om vinnig te werk, deeglik te werk, solank die aandag hou!

Ja, ek werk dalk op ander se senuwees, ek doen dalk nie dinge soos ander sou dink dit gedoen moes word nie, ek neem dalk soms langer om ‘n taak te voltooi omdat daar soveel onderbrekings tussenin was, tog kry ek dinge gedoen. Groot dinge. Op my manier, op my tyd.

So vir my is my aandagafleibaarheid ‘n bate! Dit help tog dat ek bewus is daarvan en soms hard moet konsentreer, maar aandagafleibaarheid kan tot voordeel van jouself en ander aangewend word. Vir ander lyk ek dalk deurmekaar, ekself weet presies wie en wat en waar ek is! 🙂 Ander dink dalk ek kan nie fokus nie, ek doen dit dalk net op ‘n ander manier!

Mooi loop!

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

Die geheim? Maak van jou verleentheid ‘n geleentheid.

Oor tweelinge

So dertig jaar gelede het ek elke stukkie inligting wat ek kon kry oor tweelinge opgeslurp. Dit was maar min, maar ek het dit soos goud in my hart gebêre. Oor jare het ek begin wonder of my inligting ooit reg is. Dit wat ek hier neerskryf is AL wat ek weet, maar vir my baie interessant. Dis hoe ek dit op die boeremanier verstaan, en die doel hiervan is nie om ‘n wetenskaplike verhandeling te gee nie.

In my soeke oor die kween (Coetzee het vir my die regte spelling gegee), begin ek sommer oplees oor tweelinge.

‘n Mens kry identiese en nie-identiese tweelinge. Dit gaan nie oor hoe baie hulle na mekaar lyk nie. Identies beteken nie op ‘n haar na mekaar nie, maar baie na mekaar.

Nie-identiese tweelinge ontstaan wanneer die moeder twee eierselle afskei. Dis twee babas wat elkeen onafhanklik van mekaar ontwikkel.

Alles wat ek verder skryf het betrekking op identiese tweelinge.

Identiese tweelinge ontstaan wanneer die bevrugte eiersel skei en twee babas vorm. Afhangende van hoe gou na bevrugting die eiersel skei, hoe meer of minder lyk die tweeling na mekaar. As die eiersel vroeg skei, lyk hulle minder na mekaar, hoe later die eiersel skei, hoe meer lyk hulle na mekaar, want sodra die selle geskei het begin elkeen op sy eie ontwikkel.

Monochorionic Twinsdeel dieselfde plasenta, maar is elkeen in sy eie vrugsak. Hulle is steeds identiese tweelinge. Hierdie verdeling vind, volgens hierdie artikel op Wikipedia ongeveer 3 dae na bevrugting plaas. Monoamniotic twins deel ook die vrugsak, en dan het die verdeling van die sel heelwat later plaasgevind. Soms vind die verdeling nie volledig plaas nie en dan word siamese tweelinge gebore. Soms kan dit wel gebeur dat dit eintlik ‘n nie-identiese tweeling is, maar dat die plasentas van die twee babas in mekaar gegroei het. Wat wel belangrik is om te onthou, is dat die identiesheid of nie-identiesheid geklassifiseer word deur die plasenta. Een plasenta – identies; twee plasentas, nie-identies.

Sommer interessante feite wat ek hier raakgelees het, is dat identiese tweelinge by ongeveer drie uit 1000 swangerskappe plaasvind en dat identiese dogtertjies meer algemeen is as identiese seuntjies. Identiese tweelinge se gene is AMPER dieselfde, maar nie 100% nie. Omdat elkeen op sy eie ontwikkel, mag dit wees dat identiese tweelinge glad nie identies voorkom nie. Tweelinge kom dwarsoor die wêreld voor en kom nie in sekere rasse of stamme meer voor nie. Danksy al die hulpmiddels wat daar deesdae is om vroue swanger te kry, is die voorkoms van tweelinge deesdae hoër.

I am the mother of identical twins.

Groete

Toortsie

%d bloggers like this: