Lekker Ou Inrydae

Eyeman_A_IcScrapydo se Toeka-Tokkel: Inry-teater.

My stiefouma het die inry-teater aan my probeer verduidelik.  Ek was seker so twaalf-dertien jaar oud, en kon nie verstaan hoe ‘n mens in jou kar kan sit en fliek kyk nie.  Die prentjie wat ek vir myself gemaak het was van ‘n groot gebou; karre wat buitekant parkeer en deur ‘n groot deur fliek kyk… maar hoe hoor hulle?  Na my soveelste vraag het my ouma – seker uit skone moedeloosheid – gesê dat sy die Vrydag wat kom, vir my sal gaan wys hoe lyk ‘n inry-teater.  Sy het woord gehou, en diè Vrydag het ek saam met haar en haar man (Oom Albert) inry toe gegaan.  Dit was alles behalwe wat ek verwag het, maar ek was “gehook.”

Dit was in ‘n inry-teater dat ek ‘n Elvis Presley “fan” geword het.  Voor dit was ek ‘n geswore Pat Boone aanhanger.  ‘n Vriendin nooi my om diè aand saam met haar en haar ouers te gaan fliek.  Ek gaan, maar trek my neus op toe ek hoor dit is ‘n Elvis fliek.  “Jailhouse Rock” wys, en net daar in daardie inryteater raak ek smoorverlief op die mooie, heupswaaiende, Elvis.  Ek onthou nou nog die lighooftigheid, en warm om die hart gevoel waarmee ek huistoe gery het.  Min wetend dat Elvis my hart verower het, vra die tannie so ewe of ek darem die fliek geniet het.  Ai tannie Ida, as jy maar net geweet het!!

Later jare laat bou my ouers ‘n huis in Randburg.  Dit is ‘n nuwe woonbuurt, met min huise.  Ons trek in, en tot ons verbasing word die stilte daardie aand verbreek deur die gedreun van karre.  Nuuskierig kyk ons by die vensters uit, en sien ‘n onophoudelike string ligte in die donker pad.  “Die inry het uitgekom,” som my pa dit op.  ‘n Paar kilometer van ons af – op dieselfde pad waarin ons gebly het – was die Veldskoen inry-teater; dit was duidelik dat ons vrede sou moes maak met die laataand verkeer.  Dit het ons ‘n paar aande se opsit gekos, maar toe raak ons dit gewoond, en slaap deur die “geraas.”

Vrydagaandinry het deel van my bestaan geword.  Eers saam met Andrè, as my kêrel.  Toe as my man, en ons babas was skaars uit die hospitaal of hulle word inry toe gevat.  Soos die kinders groter geword het, het ons vroeër gegaan sodat hulle in die parkie kon gaan speel.  Daar was vir my so ‘n lekker “vibe” rondom ‘n inry-teater.

Toe kom ek en Ken bymekaar uit; gelukkig was hy net so gek daarna soos ek.  Ai, hoe lekker wanneer hy die kar by die Hillfox so trek dat die skerm doer bo sit, en ons bed maak deur die sitplekke te laat sak, en dan lê ons en fliek kyk.  Ons trek tussen die mielielande in.  Daar was net een inryteater en hy was vêr, dus raak inry toe gaan ‘n spesiale uitstappie.  Uit my Veldskoendae het ek geleer dat inry, en kerrie en rys saamgaan.  Daadie jare het ons dit in bakkies by die snoepie gekoop, maar met al die kinders maak ek ‘n pot kerrie en rys, en spring popcorn vir ‘n “armie.”  Dit word in die kar saam met die kinders en hulle maats, en komberse en kussings gelaai, en daar gaan ons.  Die kinders lê voor die kar op komberse; eet popcorn, en kyk fliek.  Pouse kry elkeen ‘n bakkie kerrie en rys; en almal is gelukkig.

Op negentienjarige ouderdom gaan die “verlore seun,” saam met ons inry-teater toe.  By hierdie tyd het ons ‘n kombi gery, en soos altyd is hy tot barstens toe vol gelaai met kinders.  Kom pouse, drom die kinders om my saam waar ek agter die kombi staan en kerrie uitskep.  Die verlore seun, wat tot dusvêr nog nie ‘n treë versit het nie, sê hy is nie honger nie.  Heelwat later met die fliek al goed aan die gang – en die kinders almal op komberse voor die kombi – vra hy of hy nou kerrie mag kry.  Daar bieg hy toe dat hy hom morsdood sou skaam om saam met al die kinders gesien te word.  “Het ma ‘n idee hoe lyk dit wanneer al hierdie kinders by die kombideur uitpeul?”

Dit dan was die lekker ou inrydae.

Advertisements
This entry was posted in 'In opdrag..... Bookmark the permalink.

27 Responses to Lekker Ou Inrydae

  1. 1000p00t sê:

    Lekker ou dae, Toortsie! Mooi herinneringe

    Like

    • Toortsie sê:

      Hierdie was eintlik Kameel. Ons is mos 3 wat hier skryf. Ek, die Toorts, skryf altyd my naam onderaan. Ek weet dis baie verwarrend. As jy wonder wie geskryf het, kyk bo-aan, net onder die opskrif.
      Maar eintlik maak dit nie saak nie, dis net so lekker dat jy inloer. 🙂

      Like

    • Kameel sê:

      Dankie vir die inloer 1000p00t. Verskoon maar as ek volgende keer sê Duisendpoot 🙂 En welkom hier. Ons is twee wat op hierdie blog skryf; Toortsie, en ek Kameel. Toortsie groet altyd ewe ordentlik aan die einde van haar blogs 🙂 Kameel nie. Kameel het hier oor haar verliefdheid op Elvis geskryf. Toortsie sou in haar lewe nooit op Elvis verlief geraak het nie 😯
      Mooi dag vir jou!!!

      Like

      • 1000p00t sê:

        Ja-nee mooi kennismaking Toortsie en Kameel, ego en alter ego; dis duidelik. Spreek my aan met 1000poot, die anner naam, duizendpoot reageer nie as sy so aangespreek word nie, dis nie haar regte naam nie.

        Liked by 1 person

  2. scrapydotwo sê:

    Te heerlik en presies soos dit was. Ek sien jou inry het Moses en The ten Commandments wat wys. Ek was mal oor Charlton Heston en dan Steven Boyed ook. Daardie ou Romeinse flieks was my bestes gewees. Dankie vir deelneem, dit was beslis die moeite werd

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      Dit was ‘n lekker terugdink tyd 🙂 Alhoewel ek nooit self gegaan het nie was dit nogal ‘n troos om te weet daar was nog ‘n inry-teater bo-op Menlyn se dak. Gister sê Ken hy het ook toegemaak. ‘n Mens beweeg maar saam die tegnologie vorentoe… maar ai, om nou sulke lekker dinge agter te laat. 😦

      Like

      • scrapydotwo sê:

        Ek wonder party dae wat vandag se jonges se lekker terugdink tye wees.

        Like

        • Kameel sê:

          Ons het nog gelewe, met mense omgang gehad. Vandag se klomp sit al meer afgesonder voor ‘n “masjientjie.”

          Like

          • Sparkle sê:

            My generasie was maar nog klein toe al die lekker dinge gebeur het. Nou die dag toe vra ek vir Nismark se ma, wie vir jare op ‘n plaas gewoon het wat hulle gemaak het sonder kassie vermaak jare terug. Haar antwoord: “ons, het gekuier!”

            Liked by 1 person

            • Toortsie sê:

              Toemaar, julle sal ook julle lekker stories hê… soos hoe julle met motorfietse gery het in afgeleë paadjies. 🙂
              Ja, ons het gekuier. En gespeel. Onder die boom met klippe, tussen die boomwortels het ons paadjies en huisies gemaak.

              Like

              • Sparkle sê:

                As ek mag…so sien ek mos toe verlede jaar vir die eerste keer hoe dolosse eintlik lyk. Ek het al daarvan gehoor en by myself gedink dis seker ou poppies. Groot is my verbasing gewees toe ek uitvind dat dit eintlik werwel beentjies is wat waarskynlik uit ‘n lekker beespotjie kom!

                Like

                • Kameel sê:

                  Dit was die lekkerste lekker om daardie dolosse in te span, en plaas, plaas daarmee te speel. Anders het die swartkinders wat net velletjies gedra het, vir ons by die kleigate osse uit klei gemaak… en so het ons, ons dae omgespeel.

                  Liked by 1 person

            • Kameel sê:

              Netso…. daar was gekuier, met baie koek en terte!!!

              Like

  3. Toortsie sê:

    Behoorlik lekker! 🙂

    Like

  4. Terug pieng: Toeka-Tokkel 17 : Diere | scrapydotwo

  5. Olga sê:

    Goed so man. My wyse Moedertjie het ook ons eie kos saamgeneem. Ons was vreeslike punteneurige eters. Om 100 kinders in die inry te voer sou ook duur gewees het.

    Liked by 1 person

    • Kameel sê:

      In daardie dae was die geld ook mos maar skraps; ‘n mens moes mooi meet en pas 🙂 Amper sê ek vir jou lekker naweek. Weet nie hoe foeter dit vandag by my dat dit Vrydag is nie.

      Like

  6. oooooo ek het nou al te lekker gelees en onthou!

    Like

  7. Lekker gelees. Dink ons is nou die minderheid wat van daardie goeie ou dae kan gesels.

    Like

  8. Terug pieng: Lekker ou dae… | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie

Gesels saam, asseblief!

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s