Lewe met ‘n lag

imagesEk was nog klein, maar ek onthou hoe sy daar in die kombuisdeur gestaan het; filmster mooi, met ‘n vonkel in haar blou oë, en ‘n breë glimlag om haar mond.  ‘n Donker man het hom by haar aangesluit (my ousus het my vertel dit is haar kêrel.)  Hulle het gegroet, en toe is die twee daar weg om te gaan dans.

Later is hulle getroud; daardie aand is daar tot laat in images (1)Johannesburg se stadsaal gedans.  Die orkes op die verhoog, my oudste niggie stralend in haar bruidsrok, die stil donker man soos ‘n skaduwee aan haar sy, dansende ooms, tannies, neefs en niggies (en daar was baie van hulle,) was voorwaar ‘n feestelike toneel.

Sy het vyf kinders in die wêreld gebring, hulle uitermate geniet, en haar kleinkinders nog meer.  Sy het vir hulle Disney World gaan wys – ‘n plek waarvoor sy besonders 439863-Royalty-Free-RF-Clip-Art-Illustration-Of-A-Cartoon-Enthusiastic-Mother-Dragging-Her-Daughter-Around-A-Theme-Parklief was.  Skaars terug of sy vat weer pad iewers heen.  Dit terwyl die donker man tevrede by die huis en later jare by sy dogter gebly het.  Hy het haar nie probeer tem, of op hok sit nie.  Hy het haar vrye teuels gegee, wetend dat sy altyd na hom toe sal terugkeer.

Die hartseer en teleurstellings in haar lewe het sy nie vir ander gewys nie.  Met ‘n lag image 7om haar mond, en vonkel in die oë het sy in hoofletters GELEWE.  “Dood sal my ma eendag in haar voetspore moet inhaal – maar vir hom sit en wag – dié sal sy nie,” het haar oudste dogter gelag.  Die ouderdom het haar goed behandel, maar was minder genadig met die donker man.  Verswak, het hy in ‘n rystoel gesit en amper geen woord meer gepraat nie. Haar wewenaar broer het by haar kom bly.  Deels oor sy eie eensaamheid, en omdat hy ook versorging nodig gehad het.  Maar grootliks as geselskap.

Op my vraag wat die beste dag sal wees waarop ek vir haar kan kom kuier antwoord sy laggend; “Die beste sal wees as jy vooraf bel dan maak ons ‘n afspraak.  Ek sit nie by die huis en doodgaan nie; nee, ek laai die twee ou omies in die kar en vat hulle Menlyn toe.  Wanneer hulle by die toilet uitkom rits ek hulle toe, en daar gaan ons weer.”

Kort na haar man se dood bel ek, maar sy is by haar seun in Kanada.  Dan by haar suster in die Kaap, dan hier, dan daar.  Hoe vang jy ‘n voël wat nooit ophou vlieg nie?  Sy is op my gedagtes toe ek haar weereens bel.  Haar seun uit Kanada kuier op die oomblik by haar images (7)dogter in die Kaap, sy is oppad lughawe toe.  Volgende week vlieg sy en haar seun saam terug, sal ek asseblief kom kuier, dan kan ek hom ook sien.  Ons spreek af, maar die afspraak is nooit nagekom nie.  Sy is ‘n paar dae later in die Kaap oorlede.  Soos haar dogter voorspel het, is sy in haar voetspore tot stilstand gebring.

Haar begrafnis is nie een van trane nie, maar ‘n “celebration of a life well lived.”  Haar dogter vertel van die dag toe haar ma weer met die twee “ou omies,” Menlyn toe is.  Die images (3)donker man sit inmekaar gesonke in sy rystoel.  Sy vra haar broer om by die rystoel te staan terwyl sy by ‘n winkel ingaan.  Met die uitkomslag  sê sy vir hom, “Draai reg jou glasoog, net die wit wys.”  “Geen wonder die vrou het my R10 in my hand gestop nie,” mompel haar broer terwyl hy sy glasoog regdraai, en toe met meer drif; “Ek staan nie weer by die rystoel en wag vir jou nie.  Hier het ‘n vrou verby geloop, en toe omgedraai en my R10 in die hand kom druk.  Hoe meer ek vir haar sê ek wil nie haar geld hê nie, hoe meer ‘ai siestog’ sy vir my, en ‘die arme man’ in die rystoel.”  Ons lag oor die kostelike prentjie, maar ons lag ook oor haar lewe van 83 jaar wat sy tot op sy bodem leeggedrink het.

10 thoughts on “Lewe met ‘n lag

  1. Ek het so ‘n dierbare vrolike tannie gehad. Sy is net so skielik weg, maar selfs hjaar begrafnis was plesierig. Watter mooi voorbeeld is hulle vir ons ander , meer gewone beswaardes!

    Like

    1. My sus Rika was uit dieselfde materiaal gesny…. met haar artritis lyf het sy laggend deur die lewe gegaan. Haar dokter het vertel dat sy vir hom so ‘n voorbeeld was. Hy was op ‘n vliegtuig en het siek gevoel. Jammer vir homself kom Rika se laggende gesig voor hom op, en net daar skaam hy hom dat hy oor so ‘n nietigheid mor terwyl sy met soveel pyn saam lewe. Lekker mense die laggendes 😆

      Like

    1. Ek het jou so opgesom lekkerjeuk…. iemand wat na die blinkkant van die lewe kyk. Glimlag toe ek nou aan jou op jou knieë in die tuin dink 😆 Dit sommer nou so terloops 😉

      Like

Gesels saam, asseblief!