Melkboer

Toe ons die plaas in 1999 gekoop het, het dit reeds ‘n jaar leeg gestaan wat daar nie op geboer was nie. Hier was wel ‘n geraamte van ‘n melkstal…

As ‘n mens so grond koop, is daar altyd mense wat belangstel om dit te kom bestuur. Ons stel toe iemand aan om te help boer, en hy was baie erstig dat hier GEMELK moet word op die plaas. Ek is nie seker waar hy in sy jongdae gewerk het nie, maar ek het hom leer ken toe hy op die oliebore by Mosselbaai gewerk het. Nadat hy genoeg geld gemaak het en afgetree het, wou hy toe sy jarelange droom uitvoer. Hy wou BOER en nie net boer nie!!! Nee! Hy wou MELK! Want hy het nog altyd gedroom oor ‘n melkery.

Wel, my man besluit toe om tog die melkstal aan die gang te kry. Dit is natuurlik ‘n proses op sy eie. Die stal self moet behoorlik oorgebou word en toegerus word met ‘n melkmasjien, melktenke, en wat nog alles nodig is. Toe begin die koei-kopery. Daar word Vrystaat toe gery vir veilings, op Stellenbosch verkoop iemand sy kudde, ens….

Uiteindelik kom die eerste beeste hier aan. 8 van hulle. Maar om totaal vreemde beeste in ‘n vreemde stal in te bring is nie enige ou se werk nie. Dit het omtrent ‘n uur en ‘n half geneem net om die klompie beeste in die stal te kry en hulle gemelk te kry. Dit was die aand. Die volgende oggend was die gesukkel maar weer. Die volgende dag sou die volgende groepie beeste kom – 14. Die aand nadat die 8 toe gemelk is, bedank die melkboer en dis onmiddellik van krag…. Toe hy gedroom het van melk, het hy nie bedoel daar moet honderde beeste gemelk word nie. Nee, ek dink hy het gedink aan op die stoep sit met Blommetjie wat daar wei, en dat hy soggens en saans vir hulle ‘n lekker emmer melk sal gaan uitmelk…

So is daar baie mense wat hulle idees het van hoe daar geboer moet word… Skoenmaker, hou jou by jou lees, en laat die boerdery oor aan die kundiges wat weet wat hulle doen!!

16 thoughts on “Melkboer

  1. Ek het sommer nou kliphard gesit en lag, want jy het my laat onthou van my eerste ervaring op ‘n konstruksie terrein. Ek kom daar aan, vrot van die boekekennis en die slimste ou daar rond. Na ongeveer twee weke het ek ernstig begin besin of ek nie maar eerder vir ‘n boekhouer moes gaan leer het nie.
    Nee ek het my les geleer, maar ek sal steeds graag wou boer. Want dit is ‘n eerlike bestaan, nie maklik nie, maar eerlik.

    Like

      1. O, ja, PJ, solank jy DEURDRUK met wat jy begin….. dan is daar nie probleme nie!! Want ons ALMAL moet IEWERS begin!! Ek was ook maar ‘n dom, onervare, SUPERSLIM skooljuffrou op my dae…

        Like

      2. Ek doen alles stadig. Ek praat stadig, en tik stadig, ek loop stadig. Al wat ek vinnig doen is moeg word. Ek dink ek los eerder maar boer vir dié wat kan. :mrgreen:

        Like

      3. Ek wéét ek sal, egosentries soos dit ookal mag klink.
        Maar.
        Ek haal aan vanuit my blog profiel “…n Hart wat smag na die oopte en die “breathing space” van die plaas maar vasgevang in die finansiele sekuriteit van ‘n stadsbestaan.”
        ‘n Mens speel die hand wat vir jou uitgedeel is.

        Like

      4. Ja, so met die sweepslag van haar stert deur jou gesig terwyl jy die emmer tussen jou kniee vasknyp… dis nou as jy vergeet het om daai stert vas te maak.

        Like

  2. Ja – ek dink ons het almal ‘n ietwat geromantiseerde idee van wat “boer” nou eintlik behels.

    Boer is ook in my bloed, maar ek weet nie of ek ‘n goeie boer sou wees nie. Vir harde werk is ek nie bang nie, maar dis die natuur se gang wat my sou onderkry – diere wat doodgaan, droogtes, haelstorms ens. Ek haal my hoed af vir julle boere wat maar altyd weer opstaan na die brand of die vloed of wat ookal. Hoeveel keer hoor mens van oes na oes wat misluk of beeste wat almal gelyk vrek en dié ouens gaan maar net aan.

    Lank lewe ons SA boere!

    Like

  3. Dis interessant hoe dinge van land tot land verskil. Switserland is baie vooruit, jy weet 😉 maar hier is nie plek nie. Of dalk as hulle die land plat stryk dat die berge plat is, sal dit baie groter wees. I.e.g. dis op plekke waar lekker groen grassies en blomme groei, BAIE steil (ons het al beeste gesien wat wei op ‘n 30° helling…). En as dit nat en glad is, kan ‘n bees haarself sleg beseer in ‘n skeur of net plein afdinges van die krans af. Switserland is beroemd vir tonele met dooie of lewendige beeste wat aan harnasse met helikopters uit die berge gevlieg word. Dink die dooies is dalk gelukkiger in die geval – dit moet vreesaanjaend wees vir so dier, maar ja, ‘n 600 kg dier uitdra op ‘n draagbaar is nie regtig moontlik nie. So, dis een rede waarom beeste in die berge in stalle aangehou word waar hulle nie baie kan beweeg nie.
    Noudie dag in die dieregedrag klas vertel die dosent dat hulle in ‘n ander berggebied met oop stalle eksperimenteer het, waar daar vars lug in die stalle kom en die beeste gesonder is, en kan rondloop en als. Baie gaaf, maar dit word so koud in die winter dat alles vries – natuurlik die water, maar ook die mis. En hoe kry jy nou ‘n berg gevriesde mis weg van die stalle af? Wag vir somer?

    Ek sal ‘n regte hippy boer wees, so ek hou maar ook my vingers weg. Ek is dankbaar vir boeremense soos julle toortsie, wat mooi kyk na julle beeste – kyk daai uitsig!

    Like

      1. ah well, jy is die boer se vrou, so dit tel vir iets. sou hy so goed vir die beeste kon sorg as hy nie lekker kos op die tafel gehad het nie, of kook hy graag soos my man?

        Like

  4. Sal myself nou nie as ‘n kenner van boerdery uitgee nie, maar ek en Wiskunde is nog altyd maatjies. Ek verstaan nie hoe boere oorleef nie. Die Inset kostes styg jaar na jaar die verkoopspryse daal. Meer uitgawes en minder wins kom gewoonlik op ‘n negatief uit.

    Like

    1. ek verstaan ook nie hoe die somme werk nie. Dis nou weer ‘n geval van melkpryse wat nie opgaan nie, maar die voere se prys is gelig…. maar iewers oorleef mens tog. weet nie hoe nie, maar wel… Seker maar die Genade!!

      Like

      1. ‘n Mens dink altyd hoe lekker dit moet wees om op ‘n plaas te bly- ek sal mal wees daaroor, maar nooit aan al die swaarkry wat die boer moet deurmaak nie! Dis goed om so ‘n glimpsie te kry. Ek dink egter ek sal goed aard op ‘n plaas, as die swaarky net nie te veel is nie. Die alleenheid sal my egter nie pla nie.

        Like

  5. Ek het op ‘n plaas grootgeword en, glo my, ons het geboer. Klein-klein beeste gaan haal en trekkers bestuur en besproeiingspype rondgedra deur die warm sand. Gemelk het ons egter nooit. Ek het glad nie ‘n geromantiseerde beeld van boer nie. Dis vrek harde werk met min beloning en more moet jy dit maar weer doen. Ons was boonop brandarm. Maar ek mis dit soms. En ek mis dit veral vir my kinders.

    Like

Gesels saam, asseblief!