Die lang afwesigheid

Hierdie skrywe van ‘Wag ‘n bietjie’ is die inspirasie van my bloginskrywing. Dit gaan oor die man wat gedurende die grendeltyd in Amerika nie sy 98- jarige ma kon sien nie, behalwe deur ‘n venster. Uiteindelik kon hy haar sien. Die verbasing op haar gesig spreek boekdele.

My ma is 93 en soos jy kan verwag, is daar agteruitgang. Merkbare agteruitgang. Ek wonder net soms of die agteruitgang wat ek nou by haar bespeur nét as gevolg van die ouderdom is en of dit aangehelp is deur die grendeltyd?

Al voor die grendeltyd kon ons nie meer noodwendig ‘n sinvolle gesprek voer met ‘n klompie feite in nie. Ek het gevind dat, sou jy oor iemand anders gesels, sy nie die mense kon plaas nie. Sy het egter presies geweet wie ek is en waar ek inpas in die prentjie. Of, sou iemand anders daar by haar kom, sou sy die persoon in daardie oomblik kon plaas.

Geselligheid en gasvryheid was altyd een van haar uitstaande eienskappe lewenslank. Sy het gehou van ‘n interessante, stimulerende gesprek. Selfs nou nog, met die geheue wat uiters kort raak, sal sy gasvry probeer optree.

Maaaarrrr…

Sedert die grendeltyd is ek nie meer seker of sy presies weet wie ek is nie. Sy herken my dadelik, sal vra: ‘Madelé, is dit jy?’, terwyl ek twyfel of sy regtig besef dat ek haar dogter is. Party dae kan ek sien dat sy weet wie ek is, maar ander dae sal sy die hele tyd deur ‘n tydskrif blaai en net soms opkyk en my in die oë kyk sonder om ‘n woord te sê. Dis sulke tye wat ek nie kan help om te wonder of dit natuurlike agteruitgang is en of die vereensaming tydens die grendeltyd nie sy ysterkloue ingeslaan het nie?

Ek aanvaar heeltemal die maatreëls wat ingestel moes word. Ons bejaardes moet beskerm word, veral omdat ‘n toeloop van besoekers by ‘n tehuis chaos kon veroorsaak as die virus vryelik toegang kon hê. My dankbaarheid teenoor die liefdevolle personeel kan ek nie in woorde omsit nie.

Tog werk doofheid en ouderdom en maskers en sosiale afstand en besoeke in vreemde omstandighede nie goed saam nie.

Toortsie

Skuldgevoel en genade

Ek lees tans Sabbatsreis van Annelie Botes wat handel oor die jaar wat sy ‘n ouma opgepas het in Engeland en ek voel skuldig omdat ek nie genoeg doen vir my eie bejaarde ma en skoonma nie. Ek is ‘n swak versorger en hoe verder ek lees, hoe skuldiger voel ek. Ek voel amper net so pateties soos die patetiese vrou wie se ma dit is. Hoor hier dis ‘n fantastiese boek, julle moet dit regtig lees, ek kan dit amper nie neersit nie.

Terselfdertyd voel ek dankbaarder by die sekond vir die uitstekende versorging wat my twee ma’s geniet by ons ouetehuis. Elke oggend kom trek hulle my ma’s aan, maak hulle netjies vir die dag, sorg dat die kamers skoon en netjies is. Hulle sit by my ma om te verseker dat sy haar kos eet en hulle kyk dat sy die nodige water inneem en wat sy ookal nodig het.

Ek is nie een wat piekel om ‘n persoon nie en my ma het ook nooit daarvan gehou as daar die hele tyd om haar getrippel word nie. Skielik het sy ‘n massiewe terugslag en kan ek maar net by haar gaan sit en haar probeer kalmeer.

Maar ons vakansieplanne is reeds bespreek en betaal en met ‘n swaar hart vertrek ons. Toe ons omtrent duisend kilometers van die huis af is, kom die oproep: My ma het nog meer verswak en moet gehospitaliseer word.

Die skuldgevoelens loop hoog: Al is ek nie ‘n oppieper nie, is my plek nou langs my ma se bed, en soos die sekondes aanloop, ry ons net verder van haar af.

Laatmiddag bel ek die hospitaal waar hulle my verseker dat sy rustiger is en begin reageer op die medikasie. Ons gesels tog te lekker op die foon. Van die kleinkinders belowe om daar te gaan inloer en ek het my planne reg om ‘n vriendin te vra om daagliks by haar te gaan inloer sodra sy terug is

Ek kan nie anders nie as om te dink: Dankie vir platteland. Dankie vir wonderlike mense wat raakvat waar jy nie kan nie. Dankie vir ‘n Here wat kyk.

Toortsie

Die antwoord lê in …

In blogland is dit mos geen geheim meer dat ek regtig erg sukkel om name te onthou nie. Hou dit in gedagte as ek julle vertel wat my so verskriklik beindruk het, hoor! 😉

Toe ons vir meisiekind by die koshuis gaan aflaai, het iemand vir ons die kamer gaan wys. Nadat als uitgepak is, stap ons weer terug voordeur toe. Daar staan die primaria en dadelik groet sy my dogter OP HAAR NAAM! 🙂 Dis die eerste keer wat sy haar sien! EN sy weet wie haar kamermaat is, vra of sy haar al ontmoet het. Sy het NIKS voor haar gehad nie.

Ja, ja, ja!! Ek weet! Ek weet dat die huiskomiteelede vooraf die name leer, dit koppel met die foto’s, ens. Maar tog. Ek dink dis FANTASTIES en ek weet dat ek dit haar nie sou kon nadoen nie.

Van studente na oumense. My ma en skoonma leef nog. Albei in goeie gesondheid, so op die oog af. Maar as ‘n mens gereeld met hulle te doen kry, raak die agteruitgang al hoe meer sigbaar. Hulle wêreldjies raak al kleiner, die gesels raak al minder, dieselfde vrae word oor en oor gevra, dieselfde storie word oor en oor vertel, sommige word nie meer vertel nie….  Ek het altyd probeer om so een maal per week ‘n uur by elkeen van hulle te spandeer. Die laaste tyd raak ‘n halfuur lank… die gesels min… dit raak ongemaklik.

‘n Vriendin wie haar ma daagliks gaan besoek het in die ouetehuis en ook vir baie lang ure daag gebly het, gee toe goeie raad. Sy sê sy en haar ma het gesit en brei! 🙂 Dan is albei besig met iets, en die gesels vloei makliker. Watter wonderlike raad! Ek het my ma gebel en gesê sy moes haar breiwerkies reghou… En skielik is ‘n uur weer gou om.

Maklik, né?

Toortsie