Die Swartwerkpolisie

Jy kry hulle oral: Die Swartwerkpolisie. Die Taalpolisie. Die Inperkingpolisie. Die Bantingpolisie (húlle is erg!) Almal van hulle, gewoonlik selfaangestel. Julle sal weet van wie ek praat. Die geloofpolisie. Jy mag nie meer sê ‘ongelooflik’ nie, want eintlik moet dit ‘gelooflik’ wees, jy weet? Terwyl ‘ongelooflik’ eintlik heeltemal reg is, want jy kan dit amper nie glo nie.

As gevolg van die Bantingpolisie volg ek al vir baie lank nie meer Bantinggroepe op Facebook nie. Ag, hulle het al op my eie Faceboekblad ook probeer stemdikmaak, maar het nie ver gekom nie. Die ding is, ek kry die idee dat hulle gewoonlik op daardie stadium al so 6 of 7 dae die leefstyl volg en dan BAIE slim is. Kyk, ná amper 6 jaar op Banting steur ek my nie meer aan hulle nie. Hulle is regtig erger as die Mafia.

Die Grendeltydpolisie of inperkingpolisie gebruik die meeste van hulle dag se tyd om ander dop te hou om te kyk of hulle nie dalk ietsie verkeerd doen nie. Per ongeluk ‘n millimeter uit hulle erf is nie. Sonder masker is nie. Buitenstyd loop nie. En maak dan ‘n vreeslike bohaai op Facebook. Ook selfaangestel.

Omdat ons vir volgende jaar se VLV-projek Swartwerk moet doen as borduurwerk, volg ek nou ‘n klompie swartwerkbladsye op Facebook. Ek leer geweldig baie en die mense is baie behulpsaam en vriendelik.

Op een van die groepe, iets soos Blackwork and Stitchlovers, waag ek dit om my ou prentjie op te sit. Daar is mos alle tipes borduurwerk op, onder andere ook ‘n stukkie of twee swartwerk. Ek kry toestemming en die Admin plaas my prentjie. Te mooi. Kry goeie reaksie van oor die wêreld. Ontmoet iemand wat in Slovenië woon wat se nooiensvan ook Burger was. Ensovoorts.

Toe kom die Swartwerkpolisie verby. Oeps. “Where is the blackwork???” Ek antwoord en wys waar oral. “Die hoeke?” “Ja”, sê ek. “Die F-sleutelteken en die hoeke. Die hoeke is ‘n ligte swartwerk invulpatroon.” “As jy so sê“, antwoord sy. (tjorts) Ag, toe sit ek ‘n foto op van die bladsy waarop die patrone is.

Iemand anders wou toe weet uit watter boek dit kom en ek sit die voorblad daarvan op. Natuurlik in Afrikaans. Iemand sê toe sowaar dat die boek ook in Engels is en by Amazon beskikbaar en net daar word Amazon oorval.

Die volgende dag was dieselfde swartwerkopolisiedame by iemand anders ook mislik. Ek het geloer, sy het nog nooit ‘n foto van haar werk opgesit nie. 🙂

Ag wat, ek hoop sy voel gou beter. 🙂 Ek het stilweg in my mou gelag. Soos ek gewoonlik vir selfaangestelde polisie lag. Ekskuus as ek vandag ‘n bietjie sinies was.

Hê ‘n mooi dag, en as jy wil, gaan luister vir Toortsie op potgooi.

Toortsie

18 thoughts on “Die Swartwerkpolisie

  1. Ek verstaan wat jy bedoel. Ons het onlangs so ‘n voorval hier gehad. Ons het ‘n pragtige motorafdakkie voor in die tuin opgesit. ‘n Selfaangestelde bewaker van munisipale reëls, het ons gedreig met die wet as ons dit nie onmiddellik verwyder nie. Hy het selfs ongenooid en ongevraagd in ons erf ingestap om in die res van ons tuin te spioeneer.Vir vredesonthalwe het ons die afdak verwyder. Hy is ‘n ou kalant in ons woonbuurt. Toe ons inwoners die dam en park op ons eie begin skoonmaak, het hy ons aangegee by die munisipaliteit, want daar is regulasies dat sulke werk net deur die munisipale werkers gedoen mag word. Die verwydering van hiasinte in die dam, kon mense laat verdrink….ai toggie!

    Liked by 1 person

        1. Dis volgende jaar se projek. Op my stekelap was daar ‘n stukkie swartwerk. Die musiekstaaf en teken en diegrys omranding.
          Tradisioneel was alles swart op wit, maar deesdae nie meer nie.
          Google bietjie blackwork embroidery.

          Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!