Hoekom loop mense met hulle honde?

Blykbaar sodat die honde op ander mense se erwe kan poef.

Genade! Kan jy nou meer?

Dis regtig ‘n opmerking wat ek al hoe meer plekke raaklees en raakhoor.

Nou wonder ek: Het die honde die heeldag ‘n wasgoedpennetjie by die polliehollie en wanneer hulle dan gaan stap, bly die wasgoedpennetjie by die huis?

Of, kom roep die hond jou elke keer as hy wil poef en dan gaan walkies julle tweetjies?

Poef honde net een maal per dag?

(Dit laat my dink aan mense wat daarby sweer dat hulle kinders in die oggend poef net na hulle wakker geword het! Dalk was ek maar net onkundig, maar dit het nie in my huis so gewerk nie!) Ook nie met my honde nie!

Ekskuus dat ek nou vandag so poeferig skryf, maar die toppunt was toe iemand dit nou die dag ook vir my baie oortuigend sê dat die rede hoekom mense met hulle honde loop, vir hierdie een rede is. Ek het besef ek het nie ‘n kat se kans om enigsins die teendeel te probeer bewys nie, selfs nadat ek haar vertel het dat ek twee groot honde het en hulle my in allerhande rigtings rem nie, dat ek so mooi moet kyk waar ek loop sodat hulle my nie laat val nie, en voor ek my kom kry, is ek vasgevang, vasgedraai in twee leibande om my bene.

‘n Mens het nog ‘n hand nodig om die stok vas te hou wat jy veronderstel is om saam te dra om die honde wat jou bestorm of aanval, weg te hou.

Jy het nóg ‘n hand of twee nodig om die plastieksak wat jy saamdra om die poef wat jou hond mag laat, op te tel, plus so ‘n plastiekding, wat die optel vergemaklik.

Intussen moet mens darem vriendelik ook wees en vir almal langs die pad waai. 🙂

Ag, en dan het jy nóg ‘n hand nodig vir ‘n diktafoon, want sien, jou beste blogstories kom terwyl jy stap en as jy by die huis kom, het jy lankal die woorde verloor.

So, ek weet nie hoekom ander mense stap met hulle honde nie, ons doen dit sommer net vir die lekker en die uitkomkans, en by die huis tel ek al die landmyne op en begrawe dit onder die boom. Dis uitstekende bemesting, sien!

As julle wonder waar ek die volgende ses weke heen verdwyn, ek gaan vir my nog arms laat aansit.

Groetnis

Toortsie

Heel toevallig kan ek hierdie bloginskrywing gebruik in Scrapydo se bloguitdaging vir die week: Dieremaniere.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

Jou InLinkz skakel is http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=780871

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Toortsie by Finesse: Die jongman by #Imagine

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie

22 thoughts on “Hoekom loop mense met hulle honde?

  1. Goeiêmôre Toorts….. oeps tel net gou daai poef op dan lees jy verder. Jy is braaf om met groot honde te gaan stap. Vandat ons rottweiler my uit my skoene geruk het (en dit by ons eie hek) waag ek dit nie eers om hulle aan hulle nekbande vas te hou nie.

    Liked by 1 person

  2. Jy gesels nou by ‘n dowe en onsimpatieke oor. Wanneer ek mense met sulke groot honde sien stap, gaan daar net een ding deur my brein: “Daar gaan ‘n ongeluk wat plek soek om te gebeur”. Ek is bang vir groot honde, want ek het al gesien hoe selfs die mees vreedsaamste van hulle mekaar en ander honde verskeur, ook hoe hulle mense (hulle eie base ingesluit) byt wanneer hulle probeer inmeng (dis die “pack instinct”). Dis ‘n groot probleem hier en was ook ‘n groot probleem daar waar ons tussen honderde ander groot honde gewoon het in Gauteng. Daai stokkie sal nie veel help nie, veral nie as jy nie regtig beheer kan hou oor die honde nie. As jy dus vir Hester sien in die straat, kyk hoe bibber haar beentjies en skreeu vir haar om ‘n ander rigting in te slaan.

    Like

      1. Weet jy, ek kan mos nie sommer mense herken nie. As jy nie op die normale plek is waar ek jou verwag nie, sal ek geen idee hê wie jy is nie. Ons het al my dokter in PnP raakgeloop en toe groet hy ewe vriendelik. My dogter moes my knyp en fluister “Ma, dis ons huisdokter” voordat ek tot verhaal gekom het.

        Liked by 2 people

        1. Hester, ek het daardie selfde probleem! Ek het dit net gister vertel. As ek iemand op ‘verkeerde’ plek raakloop, kan ek hulle nie plaas nie. Ek vra sommer vir hulle horkom ek hulle ken! 😂

          Liked by 2 people

          1. Ek het in ‘n bankgroep se kampus in JHB gewerk vir jare. Ongeveer tienduisend mense in 3 geboue daardie jare. As ek soggens my voet op die roltrap gesit het, het verskeie mense my by die naam gegroet. Ek het geleer om vir almal te glimlag, hartlik te groet , ‘n aanmerking oor die weer te maak en hulle ‘n lieflike dag toe te wens, alles sonder om ‘n naam te noem, want ek kon nie.

            Liked by 1 person

  3. Ek kan my verkyk aan die oulike mense wat so met hul honde stap. Hier in Kosmos is daar geen hondereëls nie, so meeste erwe is oop en die woefs doen net wat hul wil. Daarom waag ek dit nie met Emma in die strate nie. Sy bly maar net agter ons heinings, en swem in die dam as ons langs die water is. Ek is self ook baie skrikkerig vir vreemde honde.

    Liked by 1 person

  4. Ek het deesdae nie eens tyd vir gaan stappies nie, maar ons erf is gelukkig groot. Ons tuin ook en ek vermoed ons woefter maak dit vir my maklik en poef in die tuin, want op die gras kry ek geen landmyne nie. Dalk was sy ‘n kat in haar vorige lewe?
    My dogtertjie het elke maand ‘n ander poef tyd. Een maand vroeg oggend, ander maand by die skool, ander maand in die aand. Weirdness van self as jy my vra. 😜

    Liked by 1 person

  5. Hierdie honde en hul maniere gee mens nogal heelwat stof tot nadenke! In SA het ek ook maar n groot hond en dan twee kleiners gehad. Toe ek in n meethuis intrek is hul saam. Ek moes net met hul loop. Gelukkig kon ek hul oplaai en lekker ver gaan stap in die bosse. Daardie stormende groot honde uit die erf uit maak my ook bang! Hier is die honde baie beter opgevoed as die eienaars. Hul gaan leerskool toe en leer om hul te gedra- behalwe as hul saam met hul bombastiese base loop. Dan wil hul alles gryp. Daardie ouens wat hul honde so op die sypaadjie laat nood verlig en dit nie optel nie is stinkend erg. Veral in die aand, loop mens maklik daarin. Trompie vertel my gelukkig betyds as daar iets in pad is. Hy loop n wye draai of weier om daar verby te loop. Dankie vir jou vertelling en deelneem aan die Safarie!

    Liked by 1 person

Gesels saam, asseblief!