Woordsomme

Ek sien hierdie oulike bloginskrywing oor woordsomme doen op faceboek die rondte.

Woordsomme is een van daardie woorde wat vrees by soveel kinders inboesem. Amper soos die woord, wiskunde. Ek glo regtig dat baie van die vrees en die misverstaan van die woord al by die ouerhuis begin. Dis persepsies. Ja, daar ís baie kinders én ouers wat regtig sukkel met somme, ek besef dit, maar ek wil ook graag glo dat daar soveel kinders is wat daarmee sukkel, wat nie veronderstel is om daarmee te sukkel nie. Sommer net as voorbeeld, ekself het altyd met sinsontleding ‘gesukkel’ omdat my onderwyser in standerd 6 vertel het dat hý daarmee gesukkel het en ek toe by myself besluit het dat ek dit mos nie dan sal regkry nie, of hoe?

Ouers moet, sover hulle kan, probeer om sulke verkeerde persepsies by hul kinders te vermy deur die manier wat hulle daaroor praat. My kinders het vir my kom vertel dat hul nou woordsomme doen en dit moeilik is. (Dit was ‘n erkende feit wat hul by die groter kinders gehoor het.) My uitdaging was om daardie persepsie te verwoes.

In my normale praat sou ek sê:Dawid het drie appels en Koos 2. Hoeveel appels het hulle twee saam? 5! Maklik! Dit was nou net ‘n woordsom, was dit dan moeilik? Nee!

Sodra hul besef het woordsomme is nie moeilik nie, het dit al hoe makliker geword. Hul sou winkel toe gaan met ‘n rand. Ek sou sê, “Hier is ‘n woordsom. Ek gee vir julle twee saam ‘n rand. Hoeveel geld moet elkeen kry?”

Dis soveel keer in hul normale verloop van hul lewe toegepas dat die term, woordsom, geen vrees meer ingeboesem het nie. Om die waarheid te sê, in hul oë was woordsomme maklik en as ‘n mens woordsomme kan doen, kan jy mos wiskunde ook doen, so wiskunde is ook sommer maklik. Weet julle wat die uiteinde is? Die kinders begin glo hul is goed in wiskunde en die wiskundeperiode het nie meer ‘n tier in nie! Beslis die moeite werd om te probeer, selfs vir die onwiskundigste mamma in die land.

Gee jou kind selfvertroue, selfs die selfvertroue wat jyself nie het nie. Rus hulle toe na die beste van jou vermoë. Jy sal nie spyt wees nie, ek belowe!

Toortsie

Toortsie by Finesse: Mammatyd

Finesse Blogger van die week

Toortsie se Faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

Toortsie’s LCHF Journey

 

Advertisements

tafels in die kar

Huiswerk was nie baie hoog op my agenda nie. Ek was ‘n laaste kind, en ek dink my ma het ook maar al lui geraak toe ek skool toe is, net soos ek ook al lui was toe my jongste skool toe is. Sien, die ander was toe al goed op dreef en het hul eie ding gedoen, dit was soos om ‘n enjin wat al lankal koud, dood en verroes is, weer aan die gang te kry…

Ek weet ouers is vandag baie besig. Albei werk voltyds en as ons as gesinnetjie vanmiddag moeg by die huis kom, moet die aanddinge gou gebeur voor slaaptyd, net om môre weer voort te strompel. Of verstaan ek die ding heeltemal verkeerd? Kinders doen hulle huiswerk sommer in die skool klaar, of vanmiddag by die dagsorg.

Tye in die motor was vir my uiters kosbaar. Baie keer was ons sommer net moeg en het die halfuur huis toe in stilte afgelê. Tog was dit die plek waar ek die meeste gesprekke met my kinders gehad het, oor allerhande dinge.

Ek het by tannie Mags en Willa loseer in my jong laerskooldae. My ma het op die dorp skoolgehou. Elke oggend het tannie Mags vir ons tee en beskuit in die bed gebring. Dá het tannie Willa my gepeper met tafels. Dit bring mee dat ek vandag nog kan maal, nie kan deel nie (ek werk dit altyd terug na ‘n maal), en my vingers gebruik vir optel en aftrek. 😯

Tannie Willa het my egter die belangrikste les ooit geleer: Tafels is die grondslag vir BAIE dinge. Jy moet jou tafels KEN. Op die punte van jou vingers. En dit, liewe mammas en pappas is iets wat julle ook kan doen. Soggens op pad skool toe vra jy vir jou kinders tafels. Ja, dit gaan gepaard met ‘n “ag maaaa”, maar dis als reg, op die ou end ken hulle (en jy) daardie tafels! As ‘n kind op ‘n sekere tafel vashaak, kom daardie tafel maar net ‘n paar keer so in die loop van die oggend weer verby. Vra dit deurmekaar, nie in volgorde nie. 5×6; 3*9; ens.

Oor my jongste se wiskunde huiswerk het ek gister in ‘n kommentaar geskryf: “Met my laaste kind was ek al lui wat die huiswerk aanbetref. Die juffrou het dit BAIE goed geweet. Sy sou net vir my sê: Mamma, ons doen nou Dit of Dat in wiskunde. Byvoorbeeld lang deel. Ek moes met haar dorp toe ry vir musieklesse. So, op pad dorp toe, soek sy ‘n stukkie papier. Dan sal ek in die lyn van wat die juffrou gesê het, vir haar eenvoudige somme gee wat sy dan moet doen. Met tyd maak ek dit moeiliker. Teen die tyd dat ons op die dorp kom, het sy al sommer ‘n klomp van hierdie tipe somme speel-speel onder die knie. As sy sê sy het nou genoeg gehad, dan hou ons op. Wat gewoonlik gebeur het, is dat sy die klas dan ver vooruit is, want sy doen dan sommer ‘n paar weke se lesse in een rit dorp toe. Dit het haar ongelooflike selfvertroue gegee, wat haar dwarsdeur matriek en selfs op universiteit gehelp het.”

Dis wat ek gedoen het. Dalk help dit vir jou ook! 🙂

Die belangrikste van alles: Dit moet LIEFDEVOL gebeur. Gee hulle tyd om te dink. Moenie beledigend raak nie. Help selfs so effens…

Toortsie

Lees by gister se bloginskrywing vir idees om wiskunde speel-speel vir jou kind te leer.

Kinders en wiskunde

Ja, daar is regtig mense vir wie Wiskunde moeilik is. Tog glo ek ‘n groot deel van die “moeilik” van wiskunde gaan oor wat kinders hoor: “Wiskunde is MOEILIK.” “Ek sukkel met wiskunde.”…

My kinders het ook kleintyd met storietjies by die huis gekom: “Mamma, ons doen nou treintjiesomme, en dis MOEILIK! 😯 ” Dan sê ek maar net “O?”

Vanmiddag, in mammatyd gaan stap ons, en gesels ons, en speel ons. Ek sal sê: “P, wat is 2+2?”… “4” … “en D, wat is 4+3?” … “7” … “en P, wat is 7 – 2?” … “5” … “en D, wat is 5-1?” … “4” … ens, en ons stap en maak die een som ná die ander. Op ‘n stadium sal ek sê: “Sjoe, ons doen darem lekker treintjiesomme, né?” … “Haai mamma, maar treintjie somme is dan lekker, dis dan nie moeilik nie!”

Dan, liewe vriende is jou kind vir wiskunde 80% gewen. Want treintjiesomme is nie moeilik nie. Eintlik is treintjiesomme lekker, dis ‘n speletjie, en ek kan dit maklik doen en ek kry dit maklik reg, so, ék KAN wiskunde doen, so wiskunde is maklik…

So het ek elke wiskunde probleem wat by die huis opgedaag het, probeer hanteer, net sodat hulle in hulle koppies moet dink en glo: “Ek kan wiskunde doen, ongeag die soort wiskunde.”

Woordsomme is ook een van die soorte somme wat groot oë trek. MOEILIK! Selfs EK het dit geglo, want iemand het dit ook vir my vertel. Woordsomme is moeilik. So, woordsomme het ek gereeld in ons alledaagse lewe ingebring. As die tafel byvoorbeeld gedek moet word, sal ek nie sê dat M die tafel moet dek nie. Ek sal sê: “Hier is vir jou ‘n woordsom. Ons is 5 mense wat moet eet, een mes en een vurk per persoon. Hoeveel messe en vurke moet jy uithaal?” Dis mos MAKLIK, man! Enige kind kan mos weet hoeveel messe en vurke sy moet uithaal, maar in haar koppie vertel haar onderbewussyn vir haar: Woordsomme is MAKLIK.

Dit kan ‘n mens toepas as jy winkel toe gaan, op enige moontlike manier in die alledaagse lewe. Want eintlik is woordsomme die ding wat ons heeldag doen.

Haal die pyn uit wiskunde. Dankie Lomi vir jou interessante blog-inskrywings waarby soveel kan leer.

Die ding is, as die kinders die maklike konsepte van kleintydwiskunde verstaan, sonder om ‘n bohaai daaroor te maak, snap hulle die moeiliker wiskunde van later jare net soveel makliker.

Ook maar net ‘n ma

Toorts