Die werksonderhoud

Jy het aansoek gedoen vir ‘n werk en jy is sowaar bevoorreg om genooi te word vir ‘n onderhoud. As jy meer oor die werksaansoek wil lees, kliek hier. Ek noem graag ‘n paar goed wat ek dink uiters belangrik is om te onthou ten opsigte van die werk. Wat ek hier noem, is wat vir my belangrik is as ek by ‘n onderhoud betrokke is, dalk is dit in die stede anders, dalk is dit outyds, ek weet nie.

Wat jy moet onthou: Jy is daar om jouself te bemark. Doen die beste wat jy kan.

Vind vooraf so veel as moontlik uit oor die onderneming waarheen jy vir ‘n onderhoud gaan. Wat is hulle hoof bedryfstakke? Dit skep regtig ‘n goeie indruk as jy ‘n bietjie van die onderneming weet. Moenie jou kennis gaan ten toon stel nie, die onderhoudvoerder sal dit agterkom in jou manier van praat.

Trek netjies aan. Trek aan volgens die beroep, die pos. Ek dink nie ‘n kerkpak is nodig as jy vir ‘n werktuigkundigepos aansoek doen nie. ‘n Kunstenaar gaan dalk ietwat kunstig aantrek. Moenie uitspattig wees in jou klere nie, maar smaakvol. Onthou, jou kleredrag vertel iets van jou. Sorg dat jou hare gewas, jou baard netjies, jou naels skoon is.

Dink vooraf: Wat is daar wat jy oor jouself kan vertel. Wat is jou sterk punte? Wat is jou belangstellings? Is jy lief vir sport? Musiek? Wat laat jou hart vinniger klop? Wat laat jou oë blink? Waaroor is jy regtig opgewonde?

WEES ASSEBLIEF BETYDS! Wees eerder ‘n uur voor die tyd daar en wag iewers in jou motor, as om twee minute laat te wees. Ek wonder hoeveel uitstekende kandidate het al ‘n pos verloor omdat hulle laat was!

Wees eerlik oor jouself en oor dit wat jy sê. Oneerlikheid gaan dalk vir jou die pos besorg, maar gaan vir jou verskriklik baie moeilikheid en ongelukkigheid op die hals dra vorentoe. Moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie.

Wees positief ingestel. Lyk of jy belangstel in die werk. reageer op die vrae.

Dink mooi oor jou redes vir diensverlaat. Moet onder geen omstandighede jou vorige werkgewer slegmaak nie. Regtig nie. Moenie dit doen nie, selfs al het jy alle rede om dit te doen. Moenie. Dit skep ‘n verskriklike slegte indruk.

Watter vrae wil jy dalk jou werkgewer vra? Wat wil jy graag weet oor die werksplek, ure? Waarop fokus hulle?

Hoeveel moet jou pakket wees? Bereken dit vooraf. Hoeveel het jy nodig? Baie werkgewers vra dit. Soms is jy so in nood, jy gee sommer ‘n lae bedrag net om die werk te kry. Oppas! Hulle aanvaar dalk daardie bedrag en dan het jy jouself in die voet geskiet! Wees realisties. Skiet dalk ‘n bietjie hoër, maar weer eens, oppas vir té hoog. Vind uit wat die aanvaarbare bedrag is wat mense van jou beroep, jou posvlak, jou jare ondervinding betaal word.

Sterkte. Mag jy in die pos aangestel word wat vir jou die heel beste is, waar jy baie gelukkig gaan wees, waar jy jou passie kan uitleef.

Groete

Toortsie

Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se Faceboekblad.

Toortsie se Bantingboerekos faceboekblad.

Advertisements

Die werksaansoek

Ons almal weet dat werksgeleenthede skaars is en hoeveel keer ‘n persoon moet aansoek doen vir werk voor hy/sy dit wel kry. Soms is ekself in die posisie waar ek aansoeke moet hanteer. Dan val dit vir my op in hoe ‘n swak toestand soveel van die aansoeke is.

Aansoeker, besef jy dat jy nie die enigste een is wat aansoek doen nie? Daar kom 80 aansoeke! Soms 200!! Daarom is dit uiters belangrik dat jou aansoek keurig versorg is.

Voorop jou CV moet ‘n dekblad wees. Die aansoekbrief, wat aan die firma wie geadverteer het, gerig is. Daarin skryf jy dat jy aansoek doen vir die werk, ‘n paar woorde oor jouself en dat jy beloof om, sou jy aanvaar word vir die pos, jou bes sal lewer. Daar mag nie spelfoute in wees nie! Skryf asseblief hierdie dekbladbrief in die taal waarin die advertensie is, Afrikaans vir ‘n Afrikaanse advertensie, Engels vir ‘n Engelse advertensie.

Die CV. Spelfoute en swak taalgebruik is ONAANVAARBAAR!! ‘n Swak getikte CV maak ‘n swak indruk. Met al die goeie rekenaarprogramme wat deesdae op almal se rekenaars is, is daar geen verskoning vir ‘n swak CV nie! As jyself nie ‘n rekenaar het nie, betaal iemand om dit vir jou te doen! Vra in elk geval iemand betroubaars om jou CV deur te lees en foute reg te maak.

‘n CV moet bondig wees, nie langdradig en onnodig uitgerek nie. Al die nodige inligting MOET daar wees. Korrekte kontakbesonderhede.  Jou matriekuitslae. Enige ander kursus wat jy dalk gedoen het.  Leiersposisies wat jy beklee het. Neem jy aan sport deel? Musiekkwalifikasies? Selfs al is dit nie vir hierdie betrekking van belang nie, moet jy dit invoeg. Dit gee die persoon wat die CV lees, ‘n beter idee van jou.

‘n Lys van werksondervinding, en rede vir diensverlaat. Asseblief! MOENIE jou vorige werkgewer slegmaak nie! Moet NOOIT sleg praat van jou vorige werkgewer nie.

Verwysings! Voeg ‘n lys van betroubare verwysings in, iemand wat die moontlike nuwe werkgewer kan bel wat hy kan vertrou. Soos iemand by die kommentare genoem het, nie ‘n familielid nie. Sit sy naam en telefoonnommer by.

Persoonlik voel ek dat ‘n CV moet wees in die taal waarin die advertensie was. Afrikaans, as dit in ‘n afrikaanse koerant was, Engels as dit in ‘n engelse koerant was.

Sorg dat die adres buite op die koevert netjies geskryf en foutloos is.

Waar moet jy die CV afgee? Dit raak al hoe meer algemeen dat mense hulle CV’s by arbeidsmakelaars afgee. Jy kan dit seker ook maar doen, maar tog dink ek jy moet self soek vir advertensies, of vriende vra om te help soek. Doen SELF aansoek. Dit maak regtig ‘n beter indruk. Stuur self ‘n CV in. Indien dit enigsins moontlik is, skakel die adverteerder en vra hom of dit hom sal pas as jy die CV vir hom in persoon kan kom aflewer. Onthou, die kans dat jy een van die 5 is wat genooi word vir ‘n onderhoud kan dalk skraal wees, en as jy dit dan self afgelewer het, kry jy basies ‘n onderhoud waarvoor jy nie genooi is nie!

Stuur jou CV betyds in. En dan, sorg dat jy jou selfoon altyd by jou het. Moenie daardie belangrike oproep waarin jy genooi kon word vir ‘n onderhoud, mis nie!

Moet nooit vergeet dat die CV vir jou moet praat nie. Jy is nie self daar nie. Daarom is hy so belangrik!

Sterkte!

Toortsie

Toortsie se faceboekblad

Toortsie se Bantingboerekosboek faceboekblad.

Toortsie by Finesse: ‘n Spinnekop het my gebyt!