Skielik is dit oor

Ek is baie lief vir mense, maar ook vir my stiltye. Mense gee my energie. Laat my waardevol voel. Deel voel. Dat ek behoort.

Kyk, vroëer jare het ek hard gespeel en hard gewerk. Baie hard. Ek hét al rustiger geraak, glo dit as jy wil. Baie van my werk afgeskaal. Speel ook nie meer heeltemal so hard nie. Want ek kan nie meer so byhou nie. Het ook rustydjies tussenin nodig.

Hierdie afgelope paar weke was dit nou weer so, maar in middeljarige terme. Hard gewerk en hard gespeel. Heerlik. Ons gesin was mos op ‘n gesinsvakansie, maar heeltemal onverwags, onbepland was die hele lot ook die naweek vóór ons weg is, almal saam. Nie dat hierdie ouma omgee nie! Veral nie as daar nog so ‘n paar dae werkstyd tussenin is en ouma net weer haar punte bymekaar kan trek nie.

En nou, ná 2 weke se hard speel, (nee! Hard WERK!🙈) was die hele lot weer bymekaar. Met ‘n naweek wat sommer ‘n lekker langnaweek geword het vir my. Want ‘n Aussie niggie en neef en kleinding het kom kuier. My span was al huis toe, en ons kon toe lekker saamkuier met die Aussies. Sommer van die juwele in ons distrik geniet, soos die De Hoop Natuurreservaat. Ag, dis elke keer lekker om daar te kom. Die elande, die bontebokke … Hy laat my neerlê in groen weivelde, na waters waar rus is lei Hy my heen. Koppie Alleen, die seeplekkie met sy ongerepte see wat om persoonlike redes vir my baie ná aan die hart lê. Ons kon walvisse sien water spuit, maar nie een het bo die water uitgekom nie. Malgas met sy pont is altyd lekker. Selfs nou met die pont wat met diesel aangedryf word en nie meer met die hand getrek word nie.

En nou is almal weer weg. Ouma kan weer haar punte bymekaar kry. Dalk ‘n ruskansie ook …, die ouderdom is ook maar hier.

Maar my hart is vol. Ek is ryk aan liefde. My hart klop lekker. Want dit was heerlik verby. Met sommer van die niggies en nefies wat hier in my dorp woon wat ook ingeval en ingeloer het. Wat meer kan jy vra?

Mag ons nooit ophou om by mekaar te kuier nie. Selfs nie in hierdie ekstra besige wêreld waarin ons tans leef nie. Want mense is nie gemaak om alleenlopers te wees nie. En jy kan sê van familie wat jy wil, familiekuiers is net anders. Want ons wortels lê diep. Om die waarheid te sê, ons hét dieselfde wortels. En dís die verskil.

Toortsie

Die waarde van verniet werk

‘Shadow’ noem hulle dit deesdae. Om jou dienste gratis aan te bied.

Jy het geld nodig om van te lewe, watter simpel idee is dit om verniet te gaan werk?

Die probleem is mos dat werkloosheid ‘n realiteit is in ons land. Daar is soveel mense wat smag na ‘n werk, maar dit nie kry nie, om verskillende redes. Dalk is die politiek teen hulle. Dalk is hulle te oud, te jonk, te duur, sonder ondervinding, sonder opleiding. Dalk hét jy al daardie goed in plek, maar jy kry steeds nie ‘n werk nie. Jammer dat ek dit sê, maar dalk is jy te neusoptrekkerig!

My raad? Kyk waar daar ‘n behoefte is wat jy kan vervul en bied dit gratis aan. Sê vir die persoon jy kan hom help en hy hoef jou nie te betaal nie. En dan help jy hom met ‘n mooi gesindheid na die beste van jou vermoë.

Trek vir jou skoon aan, was en kam jou hare, borsel jou tande, sorg dat jou baard netjies is. Onthou, jy is besig om jouself te bemark! Jy weet nie wie anders sien jou dalk raak as potensiële werknemer nie. Dalk is hierdie ‘gratis werkgewer’ van jou só beïndruk met wat jy doen, dat hy jou betaal net omdat jy so oulik is, of bied vir jou werk aan.

En dís die waarde van gratis werk: Jy kry soveel meer. Jy doen in die proses ‘n bietjie mensekennis op, jy kry ‘n bietjie ondervinding, jy voel waardevol en dalk, net dalk sien jy iets interessants raak wat jy kan doen. Intussen wys jy vir mense wat in jou steek en iemand ken dalk net vir iemand wat vir iemand ken wat vir jou ‘n werk kan aanbied.

Doen dit! Ek het dit ook gedoen.

Groetnis

Toortsie

Oor werk

Ek is tans besig met Amos Agrimin se 40 dae gebedsfokus op die landbou oor arbeidsverhoudinge.

Die skrywer, Hennie Viljoen, bevestig dit uit die Woord dat werk nie die gevolg is van die sondeval nie en dat dit nie sleg en negatief is nie. Werk het wel swaar en moeilik geraak as gevolg van die sondeval, maar al sou Adam en Eva nooit gesondig het nie, ons steeds sou werk. God het reeds voor die sondeval al die opdrag gegee dat ons die aarde moet bewerk.

Om in vandag se tye ‘n werk te hê, is ‘n genadegawe van God. Dit was immers nog altyd ‘n genadegawe van God en deur jou werk met lus te doen, jou beste te gee in jou werkplek, verheerlik jy vir God daardeur. Dis ‘n voorreg om te kan werk, nie ‘n straf nie.

Viljoen moedig ons aan om God te dank as ons ‘n werk het. Daarmee saam vra ek dat God ons gewillig sal maak om ons werk goed te doen, dat werkneners regoor ons land hulle beste sal begin lewer sodat ons besighede weer produktief sal word, winste begin toon en meer werksgeleenthede sal skep. Ek bid ook dat werknemers en werkgewers mekaar sal eer en weer begin vertrou en dat hier weer ‘n eerlike en gesonde werkskultuur in ons land geskep sal word.

Kom, ek en jy begin weer ons volle deel doen, dalk doen ons dit reeds, kom ons steek iemand aan om weer sy of haar beste te doen in die werksplek. Kom ons raak positief oor werk en moedig ander aan en motiveer hulle om ook só te voel oor hul werk. Kom man, ons kan mos!

Onthou, ons werk is ons trots en as ons ons werk met oorgawe doen, vereer ons nie net God nie, onsself verdien ook daardeur respek by ander.

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Elke vasgeleentheid is uniek

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap