Wat ons glo

Ek lees tans die boek, Dink jouself gelukkig, deur Dr Pieter van Jaarsveld.

Screenshot_2017-09-15-07-43-45

Ek kan nie anders as om keer op keer net my kop in bevestiging te skud nie. Ons is wat ons dink! Ons is wat ons glo! Dit ís moontlik om, deur op positiewe dinge te konsentreer, ‘n positiewer mens te word, hy noem dit om die brein te herbedraad.

Gister het ek geskryf oor die bagasie wat ons saamsleep en hoe ek vir byna my hele lewe lank geglo het ek is nie goed genoeg nie. Ek weet dit is nie net ek wat so voel nie, eintlik is dit ‘n regtig algemene ding om so te voel. Ek gewaar dit by soveel mense, suksesvolle mense, die bestes wat jy kan kry, maar steeds voel hulle hulle is nie goed genoeg nie. Verlede jaar het ek op ‘n stadium geskryf dat ek oorlog verklaar teen hierdie gevoel wat net by soveel mense teenwoordig is.

Daarom is dit so belangrik dat ons let op wat ons vir ons kinders sê, en ekself het ook maar baie foute gemaak. Soms bedoel ons so goed en wil ons ons kinders eintlik net aanpor om beter te doen, maar hulle ervaar dit dat hulle steeds nie goed genoeg is nie.

As ons herhaaldelik vir ons kinders sê dat hulle stout is, of ‘ou dommie’, selfs al sê ons dit grappenderwys, glo hulle dit en begin daarvolgens optree.  Ons moet dink aan positiewe boodskappe, ‘soos jy is slim’, of, ‘sjoe, jy maak my trots’, of ‘jy is regtig goed’, ‘jy is mooi’, ‘ek is mal oor jou’, ek is lief vir jou’, ‘jy kán darem ‘n bal slaan’, en ons kinders daarmee opbou, en hulle gaan daarvolgens begin optree.

Kom ons begin konsentreer op goed voel, op positiewe gedagtes, op lekker dinge. Van Jaarsveld sê dat as jy weet wat jou gelukkig maak, jy moet probeer om soveel as moontlik daarvan te beleef. Hy sê ook dat om gelukkig te wees en lewensvreugde te beleef, begin by die verandering van ons gedagtes. Dalk ís ons behoorlik gefoemfaai deur negatiewe mense wat oor en oor vir ons negatiewe dinge toegesnou het en wat ons ons lewe lank glo, maar ons kan steeds kies om nou op positiwiteit te konsentreer, werk te maak van die leuens wat ons glo en nuwe mense te word, mense sonder bagasie en met ‘n wip in die stap.

Kom ons doen dit. Kom ons raak positief. Kom ons herbedraad ons breine sodat ons die geluk wat ons s’n is, kan toeeïen.

Groetnis

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Finesse: Het julle al gehoor van ‘n vreugdevas?

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

positief? of negatief?

Alhoewel ek my bes doen om op positiwiteit te konsentreer en daaroor te skryf, het ek ook maar my afdae. Dae waarop ek alles behalwe positief is, dae wat ek kwaad is vir my man, dae wat ek moedeloos is, dae wat ek nie weet watter kant toe nie. Soms voel ek ek loop teen ‘n muur vas. Soms gaan als seepglad, in my huis, lewe, huwelik, met die kinders. Ander dae weer loop als net verkeerd, wil niks werk nie. Is jou beste pogings nie goed genoeg nie.  Voel ek ‘n mislukking. Flop die verhoudings. Lig my huis se dak.

Party dae skryf ek oor positiewe dinge en gee raad omdat dit raad is wat al vir my gewerk het en ek hoop dat dit vir ander kan help. Soms werk my eie raad nie eers vir my nie! Soms wil ek nie luister na my eie raad nie!! Soms skryf ek sommer net vir myself in ‘n poging om my kop skoon te kry, of om weer op positiewe dinge te fokus, of om weer perspektief te kry.

Al wat ek weet is dat ‘n mens kies wat jy skryf, wat jy vir die buitewêreld wil wys. Ek glo dat dit wat ek vir die buitewêreld wys, die waarheid is, maar party dae lyk dinge so anders dat ek amper myself nie ken nie!! Dalk wys ek nie heeltemal ALLES nie, soos ek glo ook julle nie doen nie?

Soms is ek positief omdat ek van nature meer na die positiewe neig, soms het ek ‘n hand nodig om my op te trek, soms is net God oor. Maar steeds kies ek positiwiteit, en mag God my help om altyd by hierdie keuse te bly!!  Mag daar altyd ‘n goue randjie om elke donker wolk wees! – vir my, maar ook vir jou wat hier lees!!

Party dae sleep God my letterlik aan my groottoon om my uit my negatiwiteit te kry.

Is julle ook so? Party dae positief en ander dae foeter dit??

Toortsie

Toortsie se Faceboekblad

Positiwiteit is ‘n keuse

Ja! Positiwiteit is ‘n KEUSE! Dit het ‘n KOPSKUIF nodig! ‘n Wilsbesluit.

Daar het miskien lank gelede iets in jou lewe gebeur wat jy nog altyd met jou saamdra. Jou skouers is al seer van die gewig en hoe langer jy dit met jou saamdra, hoe swaarder word dit. Later voel dit of jy wil knak onder die gewig.

Miskien is dit iemand wat jou baie seergemaak het wat jy nie wil vergewe nie. Miskien het jy amper jou werk verloor, of dalk HET jy jou werk verloor en daarvandaan was dinge net nooit weer dieselfde nie. Jy het dalk in ‘n nuwe werk beland tussen mense van wie jy nie hou nie. Jy hou dalk nie van jou senior nie, om watter rede ook al.

Maar JY en JY ALLEEN het die KEUSE of jy die res van jou lewe daardie pakket met jou gaan saamdra. JY moet besluit of jy die persoon gaan vergewe, of hy dit verdien of nie. Jy het die keuse om te sê: “Tot hier toe en nie verder nie. Ek gaan nie meer toelaat dat slegte dinge in die verlede my hele lewe versuur nie. Ek gaan nie meer onder die wolk van die verlede lewe nie. Van vandag af gaan ek aan my eie toekoms werk, aan my eie voorspoed.”

Want, as jy aanhou toelaat dat die slegte ding jou onderdruk, help jy eintlik dat omstandighede vir jou baie erger is as wat dit behoort te wees.

‘n Positiewe gesindheid maak alles makliker! Neem daardie besluit VANDAG! Hou op kla! Omring jou met positiewe mense! Soek ELKE dag vir minstens EEN positiewe ding wat jy raaksien. Lees en lees jou Bybel met nuwe oë – daar is nie ‘n meer inspirerende boek in die wêreld nie. Kry jou krag by Jesus.

Dis my gebed dat elke persoon in ons land van vandag af sal begin werk aan ‘n positiewe toekoms vir ons almal. Elkeen van ons KAN ‘n verskil maak. Dit maak nie saak hoe GROOT of klein die verskil is nie – maak daardie verskil!! 😀  En gaan lees gou wat sê Jer 29: 11-14!

Nagedagte: Hanteer daardie issues waaraan jy so swaar dra deur ‘n TPM fasiliteerder te raadpleeg. Dis ‘n seker, maklike manier vir ‘n eerste stap tot positiwiteit.

**********************************************************************

Postaday onderwerp:   Who are the three funniest people in the world? Who are the three funniest people you know personally?  Wie is die snaakste mens wat jy ken? O, ek het ‘n vriend daar in Hopetown vir wie ons VREESLIK geniet. Hy laat net NIEMAND met rus met sy sêgoed nie. Totdat ‘n zebra een dag besluit het om vir hom terug te kry vir als wat hy altyd aanvang. Julle wil nie weet wat daardie zebra gedoen het nie!!! 😈

Troutip vir die dag:  Die OPMAAK is sooooo lekker!! 💡

Groetnis

Toortsie

Toorsie sefaceboekblad.

TPM Riversdal en Bredasdorp