Betrokke

Vir ‘n hele klompie dae draai die gedagte om God se betrokkenheid in ons lewens in my kop. Dit voel of dit by my mond wil uitborrel, ek wens ek weet wat om te maak dat mense sal besef hoé betrokke Hy elke sekond in ons lewens is. Hier skryf Woordnoot sowaar oor hoe God vir haar in woorde kom vertel het hoe Hy by haar betrokke is, die verhouding wat Hy en sy het.

Gisteraand was die woorde in my kop: ‘Ek wens ek mag vir julle vertel hoe God tydens TPM-sessies met ons praat, nie net met die kliënt nie, maar ook met my, hoe Hy met elkeen op Sy besonderse manier praat soos wat dit by elke persoon pas. Ek wens ek kan vir julle vertel hoe Hy vir die verwerpte persoon vertel hoe kosbaar sy vir Hom is. Vir die een wat voel sy het geleenthede deur haar vingers laat glip, wys Hy dat daar nog baie ander geleenthede is, dat Hy groot planne vir haar het. Hoe Hy, soms deur dit wat Hy vir die kliënt sê, ook vir my dinge bevestig. Hoe ek ná elke TPM-sessie waar ek kon sien hoe ‘n persoon vorentoe beweeg, voel of ek wil vlieg. ‘

Ongelukkig mag ek nie daardie stories vertel soos dit regtig gebeur nie omdat dit nie my stories is nie, maar ander mense s’n.

Ek mag wel vertel hoe God vir die Toortsie wat met haar kop weet sy is nie dom nie, maar diep in haar hart dit glo omdat sy dinge sê wat ander nie van hou nie, soveel keer anders optree en dink as ander mense, dat God self vir haar tydens ‘n TPM-sessie kom vertel het dat dit nie domheid is nie, maar juis is dat sy haar verstand gebruik en dat sy juis daaroor soms anders gaan dink en doen as ander mense. En skielik verander Hy kopkennis in hartskennis en glo die Toortsie dit nou diep in haar hart ook, daar waar net God ons kan oortuig van die waarheid.

God is betrokke by ons, in goeie én in slegte tye, of ons dit wil erken, of nie. Hy is betrokke en as ons ons oë en harte daarvoor oopstel, sal ons al hoe meer bewus raak daarvan en keer op keer in verwondering staan.

Hê ‘n mooi dag. Mag God jou vandag seën en mag jy vandag Sy betrokkenheid in jou lewe beleef.

Toortsie

Advertisements

Hoe doen ek dit?

Wat maak ek as ek nou in hierdie krisis is, ek het dalk nie ‘n verhouding met God nie, om die waarheid te sê, vir die afgelope hoeveel jaar lees ek in elk geval nie die Bybel nie, wat nog te sê bid? En die krisis hou aan en ek wonder: Wat doen ek verkeerd? Hoekom antwoord God nie? Wat gaan aan? Die gelowiges antwoord: Nee, ons weet nie wat jy verkeerd doen nie. Maar dit help vir ons om stil te word by God, om by Sy voete te sit, want Hy bring genesing.

Makliker gesê as gedaan!!! Want hoe op aarde doen mens dit? En erken ek nou dat ek nie weet nie, wys ek mos dat ek nie ‘n verhouding met Hom het nie. HOE DOEN MENS DIT?

Ek, Toorts, gaan nou probeer prakties raak. Ek kan maar net vertel wat vir my werk, en ek belowe julle, daar is nog duisende ander maniere, so elkeen vind die een wat vir homself werk. Ek is nie een wat goed is met mooi en lang gebede nie. Maar die geluk is, God luister na ELKE woord, selfs net ‘n asseblief, Here!! Want ons, selfs al het ons ‘n lewende verhouding met God, kan kom op ‘n punt wat die krisis so erg is dat ons nie weet HOE en WAT om te bid nie!

Vir my is die Bybel die beginpunt. Die eindpunt. Die Antwoord. Die Woord van God. So, ek vat daardie Bybel, gaan sit op ‘n plek waar niemand my sal steur nie, waar ek GENOEG TYD het en RUSTIG sal kan wees. Ek bid dalk net ‘n sinnetjie, soos “Here, ek kan nie meer nie. Ek weet nie hoe verder nie. Help my asseblief.” of ENIGE woorde wat in jou hart is. En dan begin ek lees. Enige plek. As jy lank laas gelees het, begin sommer in Matteus 1 en hou net aan en aan en aan….. Of lees die Psalms. En as jy op enige plek ‘n versugting in jou hart het, soos “Ja, Here”, of “Asseblief Here” of “Here, dit wil ek regtig graag”, dan sê jy dit vir Hom.  Dit doen jy vir hoe lank jy wil, maar gee genoeg tyd. Môre doen jy dit weer, en die volgende dag…….. Luister na die stemmetjie in jou kop. Raak jy dalk rustiger oor die probleem? Begin jy dalk nuwe insig kry? Voel jy vervuld, selfs al gaan jy oor ‘n halfuur dalk weer bekommerd wees?

Bou daardie verhouding met God. Dis die beste beste verhouding wat jy in jou lewe kan bou.  Spandeer tyd met Hom. Soveel as moontlik sodat Hy jou beste maat word, die Een wat altyd by jou is, selfs in die slegste tye….

Sterkte.

Toorts