Huweliksverryking

Ons is mos nooit te oud om te leer nie, né? Toe ek as 20-jarige die huwelik betree het, het ek nie veel daarvan geweet nie.   Wat ek van die huwelik geleer het, het ek in my eie huwelik geleer en deur dit wat ek by ander gehoor en gesien het. En deur huweliksverrykingskampe en boeke oor die onderwerp.

By die eerste huweliksverrykingskamp het ek die belangrikste les ooit gehoor: Kyk waar kan EK verander, wat doen EK verkeerd, hoe kan EK weer meer aandag aan my man gee, wat is sy behoeftes. Huweliksverrykingskampe werk nie regtig as jou huwelik alreeds totaal verval het nie, maar dis wonderlik om net weer nuwe vuur in jou verhouding te blaas. As jou huwelik alreeds op die rotse is, is ‘n Christelike Berader wat jy nodig het.

Ek glo dat as ‘n mens in  enige iets wil groei, dit help om daaroor te lees. Hier is ‘n klompie boeke wat vir my baie beteken het:

Die Huweliksdaad – Tim en Beverley Lahaye

Toe ons in 1985 getrou het, was hierdie ‘n boek op almal se lippe. Predikante het dit baie aanbeveel. Ek sien die boek nog steeds in boekwinkels. Seks is ‘n geskenk van God aan getroudes. Hierdie boek bespreek egter nie net seks nie, maar die hele huweliksverhouding. Alhoewel ek dit baie baie lank gelede gelees het, kan ek dit nog steeds aanbeveel.

The Five Love Languages
met sy afrikaanse weergawe, Vyf tale van die liefde. Dis beskikbaar in boekvorm en ook as ‘n bybelstudie vir pare of groepe. Dis ongelooflike boeke wat die huwelik en verhoudings uit ‘n heel ander hoek beskou. Ek wil dit regtig aanbeveel. Ons het die bybelstudieboek in ons groep gedoen en ons kan werklik getuig van verandering in ons huwelike.

Vrou na ‘n man se hart. Hierdie is ook ‘n ouerige boek, maar ek sien dat dit nog beskikbaar is as jy dit by Google intik. Hierdie boek bekyk die onderwerp, “onderdanigheid” en ons rol as vrou in die huwelik. Ons as moderne vroue wil nie altyd hoor wat hier geskryf is nie. Toe ek destyds die boek gelees het, het dit vir my baie beteken.

Waag dit om lief te hê. My gunsteling. Uit persoonlike ervaring kan ek getuig watter verskil dit in my huwelik gemaak het. Dis ‘n ongelooflike boek wat dinge op die naam noem waar ons kan verbeter in ons verhouding. Begin met die 40 dae uitdaging, en as dit verby is, lees die dagstukkieboek saam met jou huweliksmaat. Komaan! Waag dit!! 

Haal die konflik uit jou lewe. ‘n Boek oor konflikhantering.

…………………………………………………………………..

Op die internet bied Revive our Hearts wonderlike 30-dae uitdagings wat ek regtig kan aanbeveel.

……………………………………………………………………..

Ons is so gewillig om geld en tyd aan baie dinge te spandeer, maar ons skeep ons huwelike af. Uit ondervinding weet ek dat geen geld of tyd wat ek aan my huwelik spandeer het, leeg teruggekom het nie. Om geld en tyd aan my huwelik te spandeer is oor en oor van die beste beleggings wat ek ooit kon maak. Doen die moeite, verryk jou huwelik. Soveel vreugde soos wat jy daaruit gaan put, gaan jy nêrens anders kry nie.

Toorts

Hoe moedig ons iemand aan?

Ons as ouers weet hoe belangrik dit is om opbouende woorde vir ons kinders te sê. Deur te konsentreer op dit wat hulle mooi doen en reg doen, wys hulle wat die regte ding is om te doen. As ons net kritiseer, weet hulle later nie meer wat om te doen nie! In plaas van aanmekaar te vertel hoe stout die kind is, vertel ons eerder hou oulik die kind is, wat hy/sy reggekry het, hoe trots ons op hom/haar is. En die resultaat? Kind probeer net al hoe meer mooi en reg optree en daardeur kry hy positiewe aandag. As jy dit nog nie so doen nie, kan jy dit gerus probeer! Die resultate is fenominaal.

vyfMaar om een of ander rede dink ons dat ons net ons kinders so moet hanteer. Ons kerm, kla, kritiseer, is ontevrede met als wat ons huweliksmaat nie reg doen nie. Hy sny nie die gras nie. Hy kyk te veel TV. Sy maak nie meer lekker poeding nie, of sy herstel nie die stukkende klere nie. Die ergste nog is dat ons dit vir ons vriende vertel!! Ja! Ons SKINDER oor ons huweliksmaats!! 😡 Ons konsentreer so op die negatiewe dat ons die pogings wat die ander persoon aanwend om reg te doen, miskyk. En die persoon wie se liefdestaal “opbouende woorde” is, voel totaal ongeliefd. My voorstel aan jou is om te SOEK vir positiewe dinge wat jou lewensmaat doen. As jy dalk so gelukkig is om soggens koffie in die bed te kry, bedank hom/haar daarvoor en vertel ook sommer vir jou vriende daarvan! As hy jou huis geverf het, prys hom daarvoor! As jy sien hoe besig sy met die kinders is en hulle help, vertel haar dat jy dit waardeer! Ek belowe jou, sommer gou sal jy ‘n verandering in sy/haar optrede ervaar en sommer gou sal daar ‘n vonkel in julle albei se oë wees. :mrgreen:  Moenie wag dat die ander persoon eers vir jou ‘n kompliment gee nie. Begin vandag en begin jy eerste! Sê: Ek het jou lief. Jy lyk mooi. Jou hare is pragtig. Jy maak my gelukkig. Ek was nog altyd mal oor jou oë. Jy is sexy.

Maar die heel belangrikste is…. Jy moet elke woord bedoel. Komplimente is nie goedkoop nie.! En jy moet NIKS terug verwag nie!!  😳

As jy meer oor hierdie onderwerp wil lees, kry vir jou “Vyf Tale Van die Liefde” deur Gary Chapman.

Groetnis,

Toortsie

**********************************************************************

Pos van die dag onderwerp: Wat is jou gunsteling klank of geluid? Watter geluid het jy nog nooit gehoor nie, maar wil jy graag hoor? Vreugdevolle klanke is vir my baie lekker.

***********************************************************************

Toortsie se Faceboekbladsy

Toortsie se Bantingboerekos