Ek is lid van die VLV

Soms, wanneer ek sê dat ek aan die VLV behoort, kry ek skeptiese kyke. Waaroor, weet ek tot vandag toe nog nie. VLV -Vroue Landbou Vereniging

‘Bestáán die VLV dan nog?’ Ja! Die VLV bestaan nog en het sommer ‘n klomp lewendige takke.

‘Is dit nie net ‘n spul ou tannies wat daar sit nie?’ Ja, ons tak het meer ouer persone, maar nie ‘stokou tannies’ nie. Die jonger vroue werk meestal of dalk weet hulle net nie van die VLV nie. En ek, met my grys kop en al, is ook nie die jongste in ons tak nie, daar is nog vroue wat jonger is as ek. En omdat ons dalk ouer is, beteken dit nie dat ons dooierig, simpel of oninteressant is nie.

‘Maar ek hou nie van naaldwerk en kook nie. Wat moet ek daar kom maak?’ Nee, jy hoef nie daarvan te hou om aan die VLV te behoort nie. Ons doen baie meer as net dít. Die vergaderings is vars, interessant en altueel en elke keer het ons baie oulike sprekers wat oor verskillende dinge kom praat of demonstrasies lewer. Die VLV was nog altyd bekend as die Universiteit van die Platteland en daar is altyd iets ouliks aan die gang.

Jy kan ook deelneem aan die jaarlikse kompetisies as jy wil. Daar is blommerangskikking, kuns, skryfkuns, naaldwerk, breiwerk, gebak, borduurwerk, ag nog baie goed om te noem. Deur deel te neem aan die kompetisies leer jy nuwe vaardighede aan en verbreed jy jou horisonne. As dit nie vir die VLV was nie, sou ek nie een van die borduurartikels wat ek gemaak het, gedoen het nie. Ek sou nie weet van Amigurimi en Ierse hekelwerk nie. Ek sou nie leer Swartwerk doen het en al die verskillende borduursteke wat ek bemeester het. Ek sou nie ‘n babakombers brei wat ‘n storie vertel en verskillende breitegnieke daarvoor gebruik het nie. Ek sou nie dit gewaag het om ‘n gedig te skryf nie. My menswees sou nie soveel ontwikkel het nie.

‘Moet ‘n mens dan deelneem aan die kompetisies? En party van die goed wat hulle as kompetisieartikels gee, is so vreemd?’ Nee, jy hoef nie as jy nie wil nie, dis heeltemal vrywillig, maar ek sal jou aanraai om elke jaar ten minste een iets te probeer maak. Dis so verrykend. Net die navorsing, die soek op die internet na patrone, om te sien wat ander doen, maak dit absoluut die moeite werd. Dit dwing jou selfs om soms ‘n bietjie buite jou gemaksone te beweeg. Dit help jou om te groei.

‘Waar leer jy dan die tegnieke aan?’ Behalwe natuurlik op die internet, leer ons ook by mekaar. VLV-lede is nie suinig net hulle kennis nie en ons help mekaar graag. Ons deel ons kennis met mekaar en gee vir mekaar idees om ons produk te verbeter en sodoende hoër hoogtes te bereik. Ons inspireer mekaar. Ons doen ook kursusse en kry kundiges om ons te leer wat om te doen. Vir ons gaan dit glad nie oor die wen nie, al is dit heerlik om te wen. Nee, vir ons gaan dit oor die reis, die saam opgewonde wees.

Is jy nog nie lid van die VLV nie? O, jy verloor groot! Vind ‘n bietjie uit of daar nie ‘n tak naby jou is nie en word deel daarvan. Dit is beslis die moeite werd! En nooi sommer ‘n lekker, lewendige vriendin ook saam. Ek is mal oor ons tak en al die entoesiastiese dames wat daar is en wat mekaar inspireer.

Toortsie

‘n Lekker sirkel

Is dit ‘n sirkel? Of ‘n spiraal? Nee, nie spiraal nie. Met ‘n spiraal gaan jy al in die rondte, maar op of af. Vorentoe of agtertoe.

Ek geniet die VLV baie, en soveel mense vra of die VLV dan nog bestaan? Ja! Op ons dorp bestaan dit beslis en ons het ‘n heerlik lewendige tak waar ons interessante vergaderings het. Daar is altyd interessante sprekers en demonstrasies.

En ons tak het hom nie deur Covid laat afsit nie. Ons eie Aalsie was die baasbrein agter ons virtuele vergaderings. Per whattsapp nogal. Al die sprekers en demonstrasies word vooraf opgeneem per video en op die vergaderingsdag, op die presiese vergaderingstyd, word dit gestuur. Elke lid kyk dit in haar eie tyd. Ons kan natuurlik nou nie meer wág om ‘n regte lewendige vergadering te hou nie.

Die VLV is mos ook al die jare bekend as die Universiteit van die Platteland en daar leer ons naaldwerk doen en bak en brou en blomme rangskik en skilder as ons sou wou. Die hele jaar lank doen ons naaldwerk en brei en borduur vir die groot kompetisie in Maart. Eers word ons artikels op takvlak beoordeel. Dan gaan die drie bestes na die Overbergse konferensie waarna die drie bestes uit die Overberg by die Wes Kaaplandse kongres in Augustus meeding.

Ons tak het ‘n heerlike gees. Ons ding nie regtig teen mekaar mee nie. Ons help mekaar, gee mekaar raad, beur mekaar op, spoor mekaar aan. Ons help ons ‘teenstanders’ om beter produkte te lewer. Werk saam. Ons kyk dat elkeen se artikel volgens die voorskrifte is. En sodoende geniet ons dit verskriklik, is saam opgewonde oor mekaar se suksesse.

Ek moet bysê dat daar nie honderde inskrywings is nie. Mense is net te besig om aan al die tydrowende artikels te werk. Dit is ook duur om die materiaal/wol/gare ens aan te koop. Tog is die kwaliteit van die werk oor die algemeen baie goed en kyk die beoordelaars steeds met dieselfde fyn oog as voorheen.

Ek is trots op ons tak wat uitstekend gedoen het by die konferensie. En my ou goetertjies het ook heel goed gedoen. Ek kan nog nie al my artikels wys nie, want dit moet nog eers kongres toe gaan in Augustus.

My borduurwerk het vyfde gekom en ek wys dit nou graag. Ek is so bly ek het dit gedoen. Ek het in hierdie jaar so baie van Swartwerk geleer en ek sou dit dalk nooit andersins gedoen het nie!

Hoekom het ek begin met ‘n sirkel? Want verlede jaar se sirkel van artikels klaarmaak, werk teen tyd, planne maak, idees op die internet vind, by kerslig sit en werk om betyds klaar te kry, is nou verby. Nou begin die sirkel weer van planne maak, patrone soek … want ek wil weer borduur, weer brei, weer hekel, weer skryf en sommer macrame ook.

Toortsie

Ek is regtig trots op my vissies, die ander was net nóg mooier!

Soek die geldstukkie wat die belasting moes betaal, Jona, die sleutel tot die antwoord, die oorwinnaarskroon, die hoek -vissers van mense, Golgota. Watter vis is die Ruler hier rond en hou niks van Jona in die ander vis se maag nie? En watter vis is hardekwas?

Psssst … die Goue Vroue het goed gedoen in die skryfuitdaging, hoor. Sjuut.

Waenhuiskrans

Ek was saam met die VLV op ‘n uitstappie Waenhuiskrans toe. Ons het ‘n hele ent gestap deur Waenhuiskrans en oom Ferdie Spamer wat hierdie wêreld soos die palm van sy hand ken, het ons baie interessanthede vertel.

Waenhuiskrans het mos nog ‘n naam: Arniston. Hier in ons kontrei praat die Afrikaanssprekendes van Waenhuiskrans, terwyl die Engelse van Arniston praat. Oom Ferdie wys ‘n artikel in Die Burger oor Waenhuiskrans, dat die vissers sê, as hulle duimgooi en ‘n boer stop, kry hulle slegs ‘n saamrygeleentheid as hulle Waenhuiskrans toe ry, nie Arniston toe nie! 🙂

By die hawe met sy kleurvolle, bekende Waenhuiskrans visserskuite, vertel oom Ferdie dat al hierdie skuite deur dieselfde persoon gebou is, en dat hy onlangs dood is. As gevolg van ‘n sandbank, is dit vir die skuite moeilik om in die water te kom. Hulle het ‘n groot katrol (?) in die see gebou waarvandaan hulle die skuite dan oor die sandbank sou sleep. Dit was egter ‘n totale mislukking. Die skuite word met ‘n trekker gestoot tot in die water.

Wat ‘n belewenis was dit nie om deur Kassiesbaai te stap met sy tradisionele Waenhuiskranshuisies nie. Oom Ferdie was tog te spoggerig by sy vissersvriende oor die span vroue wat hy vir homself bymekaar gemaak het. Hy vertel dat die vissers aanvanklik by Oubaai (Roman Beach) gewoon het, maar later hulle kom vestig het in Kassiesbaai. Aanvanklik was dit almal vierkantige riethuise, maar later is die huisies gebou soos dit vandag is. (Ek hoop ek het die storie nou reg oorvertel!)

In Kassiesbaai is ‘n lekker eetplek, Willenes, en daar het ons koek en tee en skons geëet. (Toortsie was baie mooi soet en het ‘n heerlike Kassiesbaai-ontbyt met gebakte eiers, tamatie en ‘n viskoekie geëet.) Daardie viskoekies is ‘n wenner en ons het almal viskoekies saamgebring huis toe ook. Ek sal graag weer daar gaan eet.

Daarná was dit vrugteslaai en roomys by tannie Marie se huis en toe die span moes huistoegaan, het ‘n klompie van ons verdwaal. Ag, te lekker!

Toe kom die skok: Ek het nie ‘n sleutel van die huis gevat nie! En my selfoon is pap, ek kan nie my man bel nie! En dis saaityd, hy sal seker laat by die huis kom! Wat gaan ek maak!!?

Maar die Here het al weer gesorg en wie se bakkie staan voor die huis toe ons daar kom? Manlief s’n! Maar dis nie al genade nie! Die meisie wat my in die huis help, het nie geweet sy moet die honde laat uitgaan toe sy loop nie, so, hulle was in die huis toe hy daar kom! Groot genade dat my sitkamerstel en matte nog nie opgekou was nie!

Wat ‘n heerlike, vervullende dag saam met oulike mense! Ek hét maar mense om my nodig, nie aldag en heeldag nie, maar op ‘n gereelde basis.

Het ek genoem dat dit die VLV Bredasdorp se deelname was aan ‘Women walk around the world’?

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: Elke dogtertjie se droom.

Toortsie se Facebook Page

Toortsie se Bantingresepteboeke Facebook page

TPM Transformasie Gebedsbediening Bredasdorp en Riversdal Facebook Page

Toortsie’s English Blog Posts

Kruinsig Plaasakkommodasie, Riversdal

Toortsie by Finesse voelgoed tydskrif

Radio Tygerberg resensie