Oorvet – Vetsugtig – Morbidly obese

Ons kyk gisteraand op TV na ‘n program van ‘n oor-oorvet persoon en die pad wat sy gestap het, die hulp wat sy gaan inroep het, die operasie wat sy ondergaan het en haar pad van herstel. Aan die einde van die program was sy steeds geweldig groot, maar het sy reeds al ‘n ongelooflike ver ent gekom om daar te wees waar sy wel was.

My hart het geskree vir haar. Ek het haar so verskriklik jammer gekry. Terselfdertyd het ek God gedank dat Hy my betyds gehelp het, dat ek nooit so geweldig vet geword het nie, dat daar vir my ‘n oplossing gekom het net toe ek beheer begin verloor het. Ek dank Hom dat ek wel die ‘vetsugtige grens’ oorgesteek het en weet hoe dit voel, maar dat daar betyds vir my ‘n antwoord gekom het wat vir my werk.

My hart huil vir daardie vrou en elke erg vetsugtige persoon vir al die slegte dinge wat hulle deurgaan: die vernedering, opmerkings van onsensitiewe persone, ook opmerkings van mense wat hulle dalk probeer help. My hart huil die meeste omdat ek wéét hulle wil dit ook nie so hê nie, hulle wil ook gemaklik voel in hul eie lyf, maar dat hul regtig nie kan help nie.

My hart huil ook vir hul families wat ook saam seerkry.

Ek het nie mediese kennis nie, hierdie is maar net my eie opinie, maar ek glo dat dit meestal die gevolg is van verslawing. Kosverslawing. Suikerverslawing. Watter ander verslawing? Dalk is daar ‘n diepe hartseer of pyn of onsekerheid in die persoon se hart wat deur kos gestil word?

Van kosverslawing weet ek. Van suikerverslawing. En soveel keer as ek praat van suikerverslawing, dink mense aan suiker.  Gewone suiker en koek en tert en tjoklits. Ongelukkig sluit suikerverslawing ook stysels in. Brood. Aartappels. Pasta. Pakkies sop wat jy in jou kos gooi.

Van altyd honger wees, weet ek. Selfs net nadat ek twee groot borde kos verorber het.  Van skaam wees daaroor, van wonder, wat gaan met my aan? Van klere wat ongemaklik sit.

Ek het eenkeer gelees hóé moeilik dit vir ‘n totaal oorvet persoon is om te vlieg. Ons dink net aan die vliegtuigsitplek, maar dit behels ver loop op die lughawe, terwyl die liggaam dit nie toelaat nie, ‘n te klein rolstoel wat deur ‘n piepklein persoon gestoot word, vernedings die een ná die ander. Iemand wat nog nie dáár was nie, het nie ‘n idee waaroor dit gaan nie.

Ek dank die Here vir Banting wat oor my pad gekom het. Dit het my betyds gehelp. Ek kan geen waarborg gee dat dit vir enige ander persoon sal werk nie en as iemand dit wil probeer, sal ek altyd aanbeveel dat hul eers hul dokter raadpleeg. Ek aanvaar ook geen verantwoordelikheid daarvoor nie, maar as ek sien watter verskil dit aan my en soveel ander mense gemaak het, dink ek dit is regtig iets om te oorweeg.

Uiters belangrik: As ‘n mens Banting volg, moet jy dit 100 persent doen, anders gaan jy stoel! Jy kan nie oorskakel na ryk kosse en terselfdertyd stysels en suikers inneem nie, dit spel probleme!

Onthou ook dat almal nie onmiddellik resultate sien nie, dis immers ‘n gesondheidsprogram, gewigsverlies is net een van die newe-effekte!

Sterkte vir jou pad, wat dit ookal is!


Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Om te pendel saam met jou man

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

Advertisements