Hier is nog ‘n ou bloginskrywing in my “waterreeks”, in opdrag van Scrapydo.
Ons is gelukkig om baie lekker water uit die Theewaterskloofdam te kry, maar regtig, party dorpe se water is so sleg dat ek regtig nie iemand kan kwalik neem wat dit nie wil drink nie. Hoekom is ons so stram om water te drink? Ek het al myself gevang dat ek selfs ‘n appel sal eet om my dors te les. Dit het gebeur in ‘n tyd wat ek so min vloeistof ingeneem het, ek het net nie meer my liggaam se pleidooi na water gehoor nie!
My pa het destyds verduidelik dat jou organie water nodig het om te kan werk. Die algemene voorskrif is dat ‘n mens 2 liter water per dag moet drink. 2 Liter!!! 😯 Weet julle hoe baie is dit? Sluit dit dan jou koffie, tee, koeldrank en wat nog uit? Of sluit dit dit in? Ek het al gehoor dat koffie en alkohol ‘n mens nog meer dehidreer en dat jy dit beslis nie as deel van die twee liter kan tel nie. Maar rooibostee aan die ander kant, het soveel goeie eienskappe, en dit mag wel as deel van die 2 liter gereken word. ‘n Mens moet ook versigtig wees dat jy dit nie oordoen nie, hoor! Te veel water is ook nie gesond nie.
Vir gewigsverlies is die drink van water uiters noodsaaklik. Sien, as jy vir jou liggaam laat dink dat jy in ‘n woestyn is omdat jy nie genoeg water drink nie, stoor jou liggaam dan net eenvoudig die water wat jy wel drink. Drink jy egter genoeg water, begin jou liggaam om die water makliker vry te laat. ‘n Klomp gewig dus wat jy afskud.
Dis als goed en wel om al hierdie dinge te weet, maar voor jy jou kom kry is die dag om en het jy nog nie genoeg water gedrink nie. Op ‘n stadium het ek ‘n glas in die badkamer gehad. Elke keer wat ek by die toilet was, het ek sommer ‘n glas water gedrink. Dit werk beslis ook om ‘n beker water en glas in my kantoor te hê. As dit so byderhand is, is dit net soveel makliker om daarvan te drink. Iemand beveel aan dat jy ‘n bierbeker gebruik. Dis soveel groter, so jy het minder glase per dag nodig!!
Wat doen julle om julle water-inname te verhoog?
Woestyntoorts
Toortsie se Faceboekblad.
Toortsie se Banting Boerekos Resepteboek.