Vermeerdering van kos

As gevolg van die grendeltyd en soveel mense wat skielik sonder werk en inkomste is, het ons dorp nou ‘n baie aktiewe sopkombuis wat deur die hele gemeenskap, ook al die kerke bedryf word. Van verlede week af help ek met die uitdeel van die kos en is dit nou ‘n verrykende ervaring! Dis sulke tye wat ‘n mens ekstra bewus is van God se genade.

Die ordelikheid van die mense beïndruk my elke keer. Hulle val outomaties in rye in en kom kry hulle bakkie kos, vrug en snytjies brood. Hier en daar sê een dankie. Die Here sal u seën. Daar is gereeld een van die mense wat kom kos haal, wat sommer begin om te help met die uitdeel daarvan, soms tot groot vermaak van ons almal.

Maandag het ek sop geskep. Daar was aanvanklik ‘n klompie mense en toe hulle weg is, roep ek dat die mense moet kom sop haal. Die volgende oomblik is daar ‘n lang ry. Skielik is die brood en die appels op en ek en die ander kosuitdeler besef dat die sop ook te min gaan wees. Die laaste emmer is reeds ‘n klomp van uitgeskep. Hy sê dat ek dalk minder moet skep per persoon, maar ek kry dit nie oor my hart nie. Ek vra toe maar saggies vir God om te help, skep steeds die bakkies en bekers vol, herinner die mense keer op keer dat hulle die Here moet dankie sê voor hulle eet. Toe ek die laaste bietjie sop uit die emmer skep, was dit vir die heel laaste persoon in die ry. Almal het gekry.

Lank gelede was ons by Landelike Stigting, ‘n organisasie wat die opbou van plaaswerkers ten doel gehad het. Hulle het sportdae gehou, opheffingswerk gedoen, die mense leer lees, brei, hekel, kook, ens. Slegs die boere het gewoonlik die jaarvergadering bygewoon.

Daardie jaar is daar besluit dat die plaaswerkerverteenwoordigers ook na die vergadering kon kom. Ons het altyd ‘n ete ook bedien. Ons het die getal mense gehad wat geantwoord het en vir hulle kos gemaak. Iewers daardie dag het ek besef dat daar dalk meer mense kan kom en maak toe ‘n bietjie ekstra kos.

Daardie aand daag daar dubbeld die aantal mense op wat geantwoord het. Ons het sekerlik ‘n bietjie ligter geskep as wat ons andersins sou, maar daardie aand het dieselfde gebeur. Almal het kos gekry, genoeg kos, en toe die laaste kos ingeskep is, was daar nie meer mense oor wat moes kry nie.

Vermeerdering van die kos op ‘n wonderbaarlike manier? Ek wil dit regtig glo.

Toortsie