
Ek geniet hierdie boek, Om lief te hê ten spyte van seerkry, deur Jentezen Franklin, regtig baie. Almal van ons is al iewers in die lewe seergemaak, soveel van ons het al seergekry deur iemand baie naby aan ons.
Ek wil dit vinnig lees omdat dit so maklik en gemaklik lees, maar terselfdertyd wil ek elke woord indrink en oordink omdat dit so treffend is.
Oor vergifnis sê hy: Hou op boekhou en begin tred verloor. Dat, al is ons nie goed met wiskunde nie, ons tog elke stukkie seer wat iemand ons aandoen, in detail onthou en boekhou daarvan. Dat ons soveel keer sukkel om te vergewe.
Hy sê om lief te hê asof ons nog nooit seergekry het nie, moet ons vergewe. Dat vergifnis juis nie gaan om boek te hou nie, maar om tred te verloor.
Seerkry is ‘n werklikheid. Om bitter te word, is ‘n reaksie. Ons kan egter ‘n leefstyl van vergifnis kies.
Hy wys daarop dat onvergifnis onvergeeflik is. Dat God van ons verwag om ander te vergewe, net soos wat Hy ons vergewe.
Hy skryf dat die sterk winde van beproewing wat ons soms moet verduur, ons juis hoër kan lig en die beste in ons na vore laat kom.
Dit neem soms tyd om te vergewe. Dit is soms ‘n proses. Maar jy moet aanhou en aanhou. Weer en weer vergewe, selfs al word jy weer kwaad vir die persoon.
Hy skryf:
‘As jy sukkel om iemand te vergewe, skep moed. Hou aan bid. Hou aan vra. Hou aan soek. Hou aan klop. En bietjie vir bietjie, kloppie vir kloppie, sal God jou help om vergifnis vry te stel. Dit kan tyd neem. Maar moenie ophou nie. Vergifnis sal vloei as jy nie moed opgee nie.’
Mooi né?
In die res van die hoofstuk bespreek hy vergifnis verder, dat dit nie beteken dat jy, wanneer jy iemand vergewe, goedkeur wat hy gedoen het nie. Of dat jy noodwendig sal veegeet wat gebeur het nie. Of dat jy ‘n willose lappop is waarmee die persoon nou kan maak wat hy wil nie. Dit beteken ook nie altyd versoening nie. Dis maar net dat jy die oordeel in God se hande sit.
In die laaste stukkie van die hoofstuk gee hy kosbare raad hoe om dit te doen, hoe om iemand te vergewe selfs al vra hy nie om verskoning nie.
Dis regtig ‘n boek om te lees.
Toortsie
Vir nog van my boekbesprekings, kliek HIER, of volg my by Pinterest.