Vas

Vas. Onderbroke vas. Uitgerekte vas. Geloofsvas. Dít is die verskillende vorme van vas waarvan ek weet, maar ek weet ook deesdae dat daar van elke ding nog honderde ander variasies daarvan is.

Jare gelede, lank voordat ek in Banting (Keto) begin belangstel het, het die Here vir my bewus gemaak van gebed en vas. In die denominasie waarvan ek lid is, is vas nie ‘n algemene gebruik nie. Nee wag! Nog lank voor dít het ons bybelstudiegroep een keer tydens die lydensweek iets opgegee. Ek het koffie opgegee. Dis ‘n gebruik wat ek nog gereeld jaarliks doen. Deesdae gee ek alle drinkgoed, behalwe water, op in daardie tyd. Wat ‘n heerlike tyd van hart skoonmaak, liggaam skoonmaak, siel skoonmaak.

Toe ek nog ‘n aktiewe suikerverslaafde was, was ek honger in die oggend as ek wakker word. Dit maak nie saak hoe laat nie, die eerste ding wat ek moes doen, was eet. Dus, toe God vir my bewusmaak van ‘n geloofsvas, was dit vir my verskriklik om die vorige aand laast te eet en te moes vas tot … 10 vm! Ek het gebewe. Ek was honger.

Die volgende keer het ek tot middagete, rondom 12:30 gevas (van die vorige aand so 7 nm af). Ek het die horlosie dopgehou. Tóé het ek gewaag van 7 nm tot 6 nm. Die laaste paar ure het ek keer op keer op die horlosie gekyk. Later minute afgetel.

Toe begin ek met Banting. En die vas raak makliker. Want die kos wat ek eet hou langer. Later was ‘n tot 6 nm vas glad nie moeilik nie.

Intussen het ek begin om slegs 2 keer per dag te eet. Nie amptelike Intermittent Fasting nie, maar 2 keer om my afskeiding van insulien totaal te minimaliseer. Ek kry dit nogal heel maklik reg solank ek net nie aan IETS proe of knibbel nie, dan is my vas gebreek.

Ek volg graag Less of Lee se blog, ‘n persoon wat vertel van sy reis met gewigsverlies. In hierdie bloginskrywing vertel hy van sy gereelde uitgebreide vas. Ek dink hy vas 3 DAE aanmekaar! Dit het my ‘n bietjie laat oplees hieroor. Uitgebreide vas. Extended fasting. Interessant genoeg sê hulle dat jy dit nie sommer die eerste keer sal regkry as jy nog nooit gevas het nie. Jy moet ook vasfiks wees.

Wel, ek het net daar besluit om dit te probeer. Nie 3 dae nie, maar 36 uur. Die 36 uur sou vanoggend half 8 oorskry wees. Intussen het ek besluit om tot half 1 te wag, want anders gooi ek weer my normale eetpatroon van 2 keer per dag, slegs middag- en aandete, uit. Ek trek nou by 38 en ‘n half uur en doen regtig goed. Om die waarheid te sê, voel ek regtig nie honger nie. Wel, ek moenie aan kos dink of dit sien nie, dan sal die prentjie dalk anders lyk. Dis wat hulle sê, dat jy net honger sal voel wanneer dit jou normale etenstye is. Ek voel nie bewerig nie. Net lekker.

In hierdie tyd drink ek baie water, ook tee en gisteraand het ek ‘n bietjie bone broth (aftreksel) gedrink wat dalk ook nie regtig nodig was nie.

Toortsie

Ns. Dit was toe ‘n 41-uur vas en as ek eerlik moet sê sou ek nog kon hou tot vanaand. Hopelik is daar ‘n bietjie tussen die vetreserses gedelf …

Vasdag vir die droogte: 9 Augustus 2017

Wanneer die woord, vas, genoem word, begin die koppe oortyd werk aan redes hoekom ons dit nie hoef te doen nie. Dis Ou Testamenties.

Derek Prince sê op die agterblad van hierdie boek: ‘There is no way to measure the tremendous power released by prayer and fasting when practiced with right motives and in accordance with the principles of scripture.’

Vas is lewensveranderend. Dit bring jou tot ‘n dieper verhouding met God.

Vas is nie Ou Testamenties nie. Om die waarheid te sê, Jesus self het gevas vir 40 dae voor Hy met Sy bediening begin  het. Die dissipels het gevas voor hulle groot besluite geneem het.

Twee van die bekendste geskiedenisveranderende vas-gebeurtenisse is Esther en Jona. Jona kondig vir 40 dae in die bose stad, Nineve aan dat die stad verwoes gaan word, tensy hulle tot bekering kom. Die mense begin gehoor gee, kom tot bekering, begin vas. Die koning hoor daarvan en kondig ‘n vasdag af. Niemand mag iets eet of drink nie, selfs nie eers die diere nie. Hulle verander hulle weë. Hulle kom tot bekering. Hulle vas. Die stad word gered.

In die geval van Esther sou die Jode uitgemoor word. Esther vra dat die hele Joodse gemeenskap vir 3 dae sal vas, dan sal sy haar lewe waag en die koning ongenooid nader en praat met hom. Die mense vas. God gee gehoor. Die wet word verander, iets wat totaal ongehoord is en die Joodse gemeenskap kon hulleself verdedig.

God hoor as ons bid. God sien as ons vas met die regte gesindheid. God antwoord gebede.

Nou wonder ek sommer net, hierdie knellende droogte wat die Kaap en die Karoo en sommer die hele land beleef. Is dit nie tyd om ‘n vasdag uit te roep nie? Is dit nie tyd om vir God te sê, ons voel regtig ernstig hieroor nie. Ons is ernstig en wil graag regmaak wat ons verbrou. Ons wil in die regte verhouding met U leef. Ons hoor wat U vir ons wil sê deur hierdie droogte. Ons voel só ernstig hieroor dat ons bereid is om ‘n dag vir U af te sonder waarin ons van die oggend wanneer ons wakker word tot die aand 6 nm, niks sal eet of drink nie, behalwe water, water wat ons binneste sal skoonwas sodat ons nuwe mense anderkant uitkom nie. Wat dink julle? Gaan lees asseblief Joël. Woensdag 9 Augustus 2017 is die dag. Dis vrywillig. Het ek maats wat dit saam met my gaan doen?

Derek Prince skryf: ‘There is a desperate need for men of God in leadership who, by example, will show God’s people this pattern of collective prayer and fasting to seek God’s intervention on behalf of His people.’ 

Tot nou toe het ek stilweg, alleen vir goed gevas. Wie is saam met my in hierdie ding? Woensdag 9 Augustus 2017, heeldag tot 6 nm.

Facebook Event: Vasdag vir die droogte

Meer oor Vas

The first time you fast, it may feel a bit foggy, but it gets better every time you fast again.

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

 

Vas in die lydenstyd

Ons is in die lydenstyd waar ons die laaste dae van Jesus Christus op aarde herdenk. In hierdie tyd is hy versoek, vervolg, verloon, verraai. Hy het die slegste dinge denkbaar deurgegaan terwyl Hy presies geweet het wat op Hom wag. Asof dit nie genoeg was nie, het die duiwel ook alles in sy vermoë probeer om Hom weg te van die kruis, want deur Sy dood aan die kruis en Sy opstanding uit die dood, het Hy vir Satan oorwin.

Baie gelowiges het die gebruik om tydens die lydenstyd op een of ander manier te vas. Dit kan op verskillende maniere gedoen word.

Wat is daar wat jy dalk in hierdie tyd sal opgee om sodoende Jesus se lyding te herdenk? Wat is daar wat vir jou regtig moeilik sal wees om sonder klaar te kom? Is dit dalk jou blog? Facebook? Iets in die koslyn, soos vleis? Wat van sjokolade? Dalk jou glasie rooiwyn saans? Skeer jy elke dag? Dalk wil jy in hierdie tyd nie skeer nie?

Natuurlik is ‘n vas altyd vrywillig en moet ‘n mens dit doen met die regte gesindheid. Nie omdat die Toortsie gesê het jy moet dit doen nie!

Daar mag baie redes wees hoekom jy dit wil doen. Dalk wil jy jou verhouding met God in hierdie tyd verdiep. Dalk is daar iets spesifieks waarvoor jy wil bid en elke keer wat hierdie ding wat jy afgee jou roep, onthou jy dan om te bid vir hierdie saak. Dalk wil jy net in die opbou tot Paasfees, deel voel van hierdie gebeure.

Matt 6:17-18: ‘As jy vas, versorg jou hare en was jou gesig sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. ‘

Groetnis

Toortsie

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Toe kom die lorrie

Toortsie by Pinterest


Vasdag – Vrywillig

Ek wil vra, die van julle wat wil, of julle nie môre (Donderdag 15 November) saam met my wil vas nie. Ons vas vir ons land, dat hier weer vrede en liefde en verdraagsaamheid sal kom. Of jy kan vas vir wat jy ook al wil. As jy hierdie blogstuk eers gedurende die dag lees, wat van Vrydag? Of daarná ook as jy wil…  Op hierdie stadium wil ek nie meer ‘n datum hieraan koppel nie. Enige dag wat jy voel jy wil vas of deel word hiervan. Asseblief!!

My gedagte is om, vandat ek opstaan, niks te eet of drink, behalwe water en rooibostee nie, tot môre-aand 6 nm.

Wanneer ‘n mens vas, is die doel daarvan om voor God te buig, in nederigheid, om sy Almag te bevestig. Op dié manier bevestig ons ons Hoop op Hom. Deur te vas, fokus jy ook meer op die geestelike.

Indien moontlik is dit ook goed om op so ‘n vasdag meer tyd in God se geselskap deur te bring. Sing geestelike liedere, sommer so jy alleen. Lees meer in jou Bybel en dalk ‘n geestelike boek. Bid…. bid…..bid. Fokus op God. En elke keer as die hongerpyn kom, onthou hoekom jy vas. Bid dan weer.

Selfs as jy moet gaan werk kan jy, indien jou werksomstandighede dit toelaat, vas. Niemand hoef dit te weet nie. En weer eens, as die hongerpyne kom, bid, sommer stilweg en net daar by jouself.

Derek Prince skryf in “Fasting”:  “I believe there is no way to measure the power released by prayer and fasting when practiced with right motives and in accordance with the principles of Scripture. The power thus released can change nog only individuals or families, but CITIES, NATIONS, OR EVEN ENTIRE CIVILIZATIONS.”

“God is looking for men and women like Esther who realize the critical nature of our situation and turn to God  with their fellow believers in prayer and fasting. Prayer and fasting can still call forth divine intervention on behalf of His people and the critical situation in the world today, just as much as it did in the days of Esther. “

“God’s remedy is to consecrate a fast and then seek God with desperate prayer. ‘Consecrate/ here means to set apart a time for God when you will fast.”

“He is waiting for leaders who, in humility, will lead God’s people in united prayer and fasting. Then He promises to hear, to forgive, and to heal the land.”

Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. Kom ons staan saam en bid vir ons mooi SA! En as jy wel deel hiervan wil wees, wil jy dit nie ook onder jou vriende bekend maak nie? Asseblief? Pas asb die vas aan as jou gesondheid nie ‘n volledige vas toelaat nie. Vas dan net iets waarvoor jy baie lief is, soos sjokolade…

Dankie

Toorts

Iemand het op facebook ‘n geleentheid geskep: Internasionale Biddag vir Suid-Afrika. (Stop misdaad). 2 Des 2012, 9-11 vm. As julle wil deel word hiervan, volg hierdie skakel.