Wat word van ons mense?

Iets waaroor ek soms dink, is, “Wat word van ons mense op geestelike vlak as hulle emigreer?” Die vraag kan natuurlik op baie maniere vertolk word. Wat word van hulle as hulle in ons land van dorp na dorp verhuis? Ek dink net dit is baie maklik om in SA weer by ‘n kerk in te skakel. Maar hier beland jy vreemd in ‘n vreemde land. Skakel jy by ‘n kerk in? Of is jy in die begin te vreemd en weet nie waar om in te skakel nie, en later is jy so in die gewoonte dat jy nie meer die behoefte kry om ‘n kerk te soek nie? Ek wonder net, ek was mos nooit in daardie situasie nie.

Jare gelede het ‘n predikant by ons in die kerk kom preek. Hy was in ons studentedae een van ons predikante in die studentekerk. Op daardie stadium was hy in Washington en het gewerk onder die Suid-Afrikaners. Hy het vertel hoe omstandighede daar is en ek was toe nog te jonk om werklik te besef hoe fantasties dit is dat daar iemand is wat na ons mense omsien.

Wat my tot hierdie skrywe gedwing het, was ‘n artikel wat in Die Kerkbode verskyn het. (Hoop die skakel werk!!) Hulle is in die proses om ‘n vierde Suid-Afrikaanse gemeente in Perth te stig! Ek is hartseer dat daar so baie van ons mense is, maar so dankbaar, SO DANKBAAR dat daar geestelik na hulle omgesien word! Sjoe! 4 gemeentes NET IN PERTH!

So ‘n rukkie gelede het ek ‘n persoon ontmoet wat in ‘n Arabiese land jeugwerk doen onder ons Suid-Afrikaanse kinders. Kinders van Suid-Afrikaners wat daar werk. Sy reik regtig uit na hulle en hulle doen groot werk. Fantasties!

Van watter plekke weet julle???