Dís hoe ek gedink het, totdat Kameel vir my ‘n ander storie vertel het. Hierdie droom van die lang, wit rok wat jy op jou troue gaan aanhê. Toe ek destyds skool gehou het, het een van my kollegas se vrou vir my foto’s van haar bloedrooi trourok gewys. Let wel, dit was nie in ‘n gewone snit nie, maar PRESIES soos ‘n trourok lyk, met ‘n lang, rooi, sleep en al… Karen wys my haar pragtige, amper landelike idee, maar onmiskenbaar bruid.
Saam met die idee van die lang, wit, trourok, is die prentjie dat dit in ‘n kerk gebeur. Ek het gedink dat as jy vinnig voor die landdros trou, jy nie so erg klassiek sal aantrek nie. Tog het ek al troufoto’s gesien van mense wat in volle gewaad voor die landdros trou. Wel, elkeen het sekerlik sy eie gedagte en kan beslis maak soos hy/sy wil!
So het ek en my vriendin besluit ons gaan ons eie trourokke maak. Dis nou nie dat ons uitsonderlike naaldwerksters was nie, ons het nie eens naaldwerk op skool gehad nie!! Maar ek het my kop daarop gesit, en my ma moes net bes gee. By ‘n bruidswinkel is die patroon, satyn, is dit Georgette wat bo-oor kom?, die allermooiste kant ten duurste gekoop. My ma het baie twyfel in haar hart gehad en het so met die wegry gesê dat, sou dit nie werk nie, hulle vir my ‘n ander rok sal koop.
Pa het voorgestel dat tannie Johanna vir my sal help om dit te knip. So gemaak. √
Daarná is ek met sterre in my oë, geknipte trourok in die hand, Bedford toe om daar te gaan skoolhou. Kort voor lank het ek besef dis ‘n MASSIEWE taak wat ek aangepak het. Genadiglik was daar ‘n René de Klerk, die naaldwerkjuffrou byderhand. Op die ou end het ek saans by hulle gaan werk en sommer daar geslaap. Ek het steeds die rok gemaak, maar haar kundigheid was uiters waardevol.
Snags het ek gedroom…. Eers het ek in die kerkpaadjie afgestap met net ‘n borsstukkie aan. Later, in my droom, het daar darem ‘n rompgedeelte ook aangekom, maar die rafels het so agter my aangesleep.
Later is rok bedags saam skool toe sodat ek in my af-periodes die meters en meters kant wat onderom moes aankom, met die hand kon vaswerk. Die dag voor die troue is die laaste blommetjie op die bors vasgewerk.
Met die troumars…. het ek aan die hand van my pa, ons altwee slukkend aan die knop in ons keel, die paadjie afgeloop…. my droom vervul…. die droom van die wit, wasige rok, maar ook die droom dat ek dit self gemaak het…. 🙂




En nou? Nou hang die rok in my gang, saam met my skoonma s’n. Ja, hulle vergaar stof, maar in die kas sou die motte dit in elk geval opgevreet het.
witwasigetoorts