Tannie Tossel se Trolstorie

Die blokmaatjies hou eintlik nie van baklei nie. Dis net soms dat hulle geen ander plan het nie, soos die dag met die trol. ‘n Dag of wat later het hulle begin bekommerd raak oor die trol…

Adoonsie en sy maats het lekker in die bome rondgeswaai toe hulle die vreemde gedrog sien lê. Hy was heeltemal in ‘n beswyming. So iets het hulle nog nooit gesien nie! Behalwe dat hy verskriklik lelik is, vol puisies en vratte soos Slakkelak beskryf, was sy vinger af en dit het so ‘n nare roof op gehad. Sy liggaam was verskriklik gekneus, sy lip geswel. Sy hand was vol etter van al die turksvydorings, sy oor potblou. En sy lip het sommer dik gestaan! Gelukkig was Jagter daar in die rondte en hy het besef dat die arme ding hulp nodig het. Bileam het hom op sy donkiekar gelaai en hospitaal toe geneem.

Aanvanklik het hulle hom net probeer red teen die vergiftiging, hy was vir weke in ‘n beswyming terwyl hy die vreemdste geluide gemaak het. Hul het ook dadelik die vinger verbind. Toe hy egter herstel het van die vergiftiging, het hulle ontdek dat hy ‘n paar rugwerwels seergemaak het. Toe moes hy sowaar nog ‘n diskusvervanging ook kry! Sies tog! Hy was lank in die hospitaal!

Maar…. daar is NOG ‘n nadraai.

Eers wil ek vir julle vertel hoe dit in Trolleland werk. Elke keer wat jy iemand seermaak, of ongeskik is kry jy nog ‘n puisie of eelt of vrat by. Hoe meer eelte en vratte jy het, hoe ‘n belangriker trol is jy. As jy egter goed doen, verdwyn van hierdie vratte en dit wil trolle ten alle koste vermy!!

Terwyl die trol toe so in die hospitaal lê en homself bejammer, het die blokmaatjies  vir hom kom kuier. Hy was mos deel van hulle gemeenskap, al was hy so ongemanierd! En vir die eerste keer in Trollie se lewe, ervaar hy toe liefde! Sies Tog! Hy het nie maklike kinderjare gehad nie, hulle was 6 trolkinders en sy trol-ouers het nie eintlik aandag aan hom gegee nie. Al wanneer hy belangrik gevoel het, was wanneer hy die ander maatjies geboelie het. Dis ook al wanneer hy aandag gekry het van die groot trolle!

In die hospitaal het hy het begin reageer op al die liefde wat hy ontvang het, en het gesien dat, elke keer wat hy liefdevol reageer, hy mooier raak!! Maar as hy lelik en ongeskik is, kry hy ‘n vrat by!! Hy wou nie meer ‘n lelike trol wees nie!! Hy het hard gewerk om liefdevol te wees. Hy het geleer dat die lewe nie net om HOM en SY IDEES draai nie, en dat ander mense ook soms ‘n goeie idee het.  En voor hy hom kom kry, was hy net so mooi soos al die ander blokmaatjies!! En toe was almal sommer mal oor hom!!

Sien, deur LIEFDE bereik ons baie meer!!

Tannie Tossel se blokstorie

Eendag lank, lank gelede was daar ‘n klompie maats in blokland. Hulle het elke dag by mekaar gespeel. Partykeer het hulle rooi koeldrank gedrink en koekies geëet, partykeer het hulle sommer net lekker gesit en gesels. Als was net baie lekker.

Toe, een dag, kom daar ‘n TROL uit Litteland!! 😯 Hierdie trol het almal kom omkrap. Trol wou vir hulle vertel hoe ‘n mens eintlik moet speel in blokland. Trol wou net baklei, lelike dinge sê en het almal hartseer gemaak. Later was die maatjies ook sommer kwaad vir mekaar en dit oor kabouterpoefies!!

En dis net daar wat die blokmaatjies besluit: Tot hier toe en nie verder nie!!! Hulle het Trol in ‘n lokval gelei. Bossie Blomme het vir Trol genooi vir groen koeldrank en roomys. Pikkels en Murphy het ook saamgekuier. Hulle het in die kombuis by die tafel gaan sit. Hy kon  nie sy oë glo toe hy die meermin sien wat ook daar is nie! Wat hy nie geweet het nie, was dat die droplekker nie regtig ‘n droplekker was nie en toe hy dit wil byt, boks Droppie hom op die mond! Gogga wat onder die tafel weggekruip het, gee hom toe ‘n giftige byt aan sy been. Turksvy het ewe onskuldig daar gelê, maar het gesorg dat daar ‘n klomp dorings in sy hand beland. Hy wou nog nie hoor nie en sit toe sowaar die hoed (wat eintlik ‘n blokmaatjie is) op sy kop! Maar Krappie, wie in die hoed weggekruip het, knyp hom toe aan die oor.

Trol besluit toe dat dit nie meer pret is nie. Hy spring op, gryp die heks se besem en probeer daarop vlieg, wat hy natuurlik nie kon regkry nie. Die twee beeste, en nog een melkkoei wat buite staan en wei het, gee hom ‘n lekker trap, hy spring op die perd wat hom dadelik afgooi. Hy sien daar staan ‘n donkie en probeer op hom klim, maar donkie byt sy vinger af en gee hom ‘n lekker skop.  Al raad wat Trol het is om te hardloop, maar Slakkelak het gesorg vir genoeg slym en hy gly sowaar en beland weer eens op sy boude. 😆

Dis toe dat dit al begin donker raak. Daar in die verte sien  hy ‘n liggie flits! DIS waar hy gaan hulp kry! Toe hy by die lighuis kom is daar geen mens nie. Daar brand net een ou kersie. Skielik loer daar ‘n Spookgesig om die deur, die pampoenskulpie in die venster roer vreemd, en die kerslig gaan dood. Weer hardloop hy, terwyl hy met Klippies bestook word en ‘n Rooi Duiweltjie se lag hom agtervolg.

Die volgende dag was daar geen Trol in sig nie, slegs ‘n vlieëer wat vriendelik wapper in die son…..

Daar was nog ‘n hele klomp ander blogmaatjies ook wat gehelp het!!! So, TROLLE, wees gewaarsku!!!!   😉

As jy hier genoem is en nog nie deur iemand anders ge”tag” is nie, moet jy asb vir ons in opdrag van Merriegriet, ‘n kinderstorie skryf.

Ns. Hier en daar het ek ‘n term of beskrywing by ander blogs geleen…