Die beginsel van oortuiging en keuse (TPM)

Hierdie bloginskrywing skryf ek aan die hand van die TPM (Transformasie gebedsbediening SA) se studentehandleiding, maar ook uit die ondervinding wat ek reeds deur TPM-sessies met myself en andere opgedoen het.

Wat ons voel, hoe ons reageer op iets, is nie die gevolg van wat iemand anders aan ons gedoen het nie, maar wel van wat ons werklik glo. Wat ons glo, die kernoortuiging wat ons het wat ons laat reageer soos wat ons wel reageer, kom die meeste van die tyd uit iets wat gebeur het toe ons nog klein was, gewoonlik onder die ouderdom van 12 jaar. Baie keer is die insident nie eers verwant aan wat ons nou ontstel nie. (Ja, ander mense kan baie lelike dinge met ons doen, daaroor stry ek nie! Wat ons egter daaroor voel is ons eie.)

Wat gebeur is dat daar kleintyd iets gebeur het, soms selfs iets belagliks, soos dat ek op verkeerde tyd iets gesê het in my kleinkindonkunde en dan begin glo dat ek ALTYD die verkeerde ding sê. Of iemand het nie met my gespeel nie en nou glo ek dat ek NIE GOED GENOEG IS NIE. Of watter rede ookal. Soms het daar regtig slegte dinge met my gebeur wat ek verkies om eerder in die drein af te gooi en die dreindeksel daarop te hou en dit NOOIT WEER op te tel nie.

Ongelukkig bly ons daardie waninterpretasie wat ons dalk gemaak het wat nie waar is nie, glo en sou ons as volwassene daarna kyk, kan ons in ons kop die waarheid weet, maar wanneer iets gebeur, kom daardie ou geloofsoortuiging weer op die voorgrond en tree ons op volgens daardie oortuiging, selfs al is dit nie waar nie.

Daarom is dit nodig dat wanneer ons ontsteld raak oor iets, ons ondersoek instel oor hoekom is ons regtig ontsteld. Was dit ‘n geval dat ek onseker gevoel het? Of nie goed genoeg nie? Laat dit my soos ‘n niks voel? Asof ek geen beheer het nie? Asof ek totaal alleen gelaat is? Bang om ‘n fout te maak? Wat is die regte rede dat ek so voel?

Met TPM (Transformation Prayer Ministry) gebruik ons die toerusting in ons hand in samewerking met God tydens ‘n gebedsessie en die regte vrae en as die kliënt kies om daardie deksel op te lig en die pyn in die oë te kyk, by die wortel van daardie leuen uit wat ons glo, daardie leuen wat vir ons die waarheid is. God gee dan vir die persoon perspektief. Die persoon kry nuwe waarheid en word dit wat sy deur haar ervaring altyd verkeerd geglo het, reggestel. Met God se hulp. Op God se manier. En dis een van die dinge waaroor ek keer op keer in verwondering staan: Hy praat met elke persoon op ‘n manier wat daardie persoon sal verstaan. Nie noodwendig wat ek verstaan nie, maar wat vir daardie persoon sal werk. Op sy eie manier.

En wanneer die persoon eers sy kernoortuiging deur ervaring en waarheid van God verander, is dit soos dominoes wat val. Elke keer wat die persoon daardie leuen geglo het in sy lewe, elke keer wat daardie spesifieke leuen hom ontstel het, is skielik opgelos omdat die persoon nuwe waarheid ontdek het. Elke keer het die persoon ‘n treetjie vorentoe gegee. Onmiddellik en totaal opgelos. Soms word daar egter ‘n hele paar leuens tydens so ‘n kinderjaregebeurtenis geglo en mag daar weer in ‘n volgende sessie na dieselfde gebeurtenis verwys word om die ander leuens ook uit te sorteer.

Dit bly egter die kliënt se eie keuse of hy die deksel gaan optel of nie. Of hy bereid is om sy pyn in die oë te kyk of nie. Want God is ‘n Ware Heer, ‘n Gentleman wat Homself nooit op mense afdwing nie. Maar vir die persoon wat bereid is om vorentoe te stap, selfs te vergewe waar nodig, bring Hy ongelooflike verligting. Heling.

Tydens ‘n TPM-sessie beweeg ons op heilige grond en ons respekteer dit en hanteer dit met die grootste deernis, respek en heiligheid.

Toortsie

Ja, ander mense tree nie altyd reg teenoor ons op nie. En as ons deur TPM daarna kyk, maak dit nie die ander persoon se verkeerde optrede reg nie. Wat egter gebeur is dat ek heel word, ek God toelaat om my pyn reg te maak.

Nou se kwaad is nie regtig nou se kwaad nie

Ons het mos al baie keer gepraat daaroor hoeveel keer herinneringe van gebeure van lank gelede net skielik in jou brein inspring, uit die bloute en jy kan nie altyd dink wáár dit vandaan kom nie.


Die menslike brein is darem ‘n wonderlike ding. Alles wat met jou gebeur, word gestoor. Jy mag dalk dink dat jy iets vergeet het, agter jou gesit het, maar die brein stoor dit, sodat, sou jy weer in ‘n soortgelyke situasie kom, hy ‘n verwysingsraamwerk het.

Iemand het jou dalk al kleintyd baie seer gemaak en jy was baie kwaad en het die persoon nie regtig heeltemal vergewe nie. Intussen het ‘n paar amper soortgelyke dinge gebeur wat dieselfde gevoel by jou wakker gemaak het, ook dinge wat jy nie heeltemal vergewe het nie.

Al daardie gebeurtenisse en die emosie wat daarmee saamgegaan het, het jou brein iewers gestoor!

En vandag, heeltemal onskuldig, doen iemand dalk vir jou iets wat jou op een of ander duister manier dieselfde emosie laat ontlok, en jy is kwaad. Woedend. Woedend verby! En hierdie persoon is die skuim van die aarde.

Die waarheid is egter dat dit die woede en onvergifnis en baie dinge is wat bietjies-bietjies oor jare opgebou het en in ‘n tydbom ontwikkel het en net gewag het vir die regte vlammetjie om dit heeltemal te laat ontplof!

Ek leer so baie uit Taste Life.

Die ding is, dis nodig om te gaan dink hoekom jy regtig so kwaad is. Want as jy eerlik daaroor begin dink sal jy dalk agterkom dat hierdie nou eintlik ‘n kleinigheid is, maar dat daar ‘n groot wolf met slagtande agter dit skuil en dis by daardie wolf wat jy moet uitkom.

Daardie ou wolf uit die verlede, want as jy by hom uitkom en dalk met jou meer volwasse perspektief daarna kyk; as jy daardie óú seer vir die Here gee en Hy Sy lig daarop laat skyn, kry jy Waarheid wat vir jou nuwe perspektief sal gee. Daardeur kan jy dan ‘n reeks gebeure verwerk en sal jy sien dat die huidige situasie dalk nie naastenby so erg is soos jy gedink het nie.

Ek het dit vanjaar al ‘n paar keer toegepas met verrassende en bevrydende gevolge. Ek kon saam met iemand tee drink met wie ek vir meer as 12 jaar vermy het en ons kon gesels soos van ouds. Die mooiste was dat ek goed en lekker gevoel het daarná met die besef: Die ou dinge het verby gegaan, die nuwes het gekom omdat Jesus my bevry het van ‘n leuengedagte, ‘n onvergewensgesindheid. 

Mag God jou ook bevry van laste en bagasie wat jy al vir soveel jare met jou saamdra. Gee dit vir Hom, Hy wil jou só graag help!

Toortsie

English Blog Posts

Toortsie se Bantingboerekosboek Facebook page

Toortsie se  Facebook page

Finesse Blogger of the week

Finesse: Nie meer ‘n slaaf van vrees nie. 

Toortsie by Pinterest

Plaasakkomodasie by Riversdal, Wes-Kaap

Goed genoeg?

Maankind het ‘n baie interessante bloginskrywing gemaak oor temas wat homself herhaal in jou lewe. Om die waarheid te sê, haar inskrywings is altyd interessant. Of ek en sy ooreenstem oor die gedagte van reïnkernasie, is nie nou ter sprake nie, ons het nog altyd mekaar se sienings gerespekteer.  Ek het by haar gereageer en is bang ek neem haar hele blog oor, daarom hierdie inskrywing van my.

My hele lewe lank kom die gedagte telkemale in my kop op: “Ek is nie goed genoeg nie”. Niemand het dit nog ooit vir my gesê nie, maar enige niksbedoelde opmerking kon dalk in my hart opgeneem word as nie goed genoeg nie. En dis nie ‘n geval van selfgesentreerdheid nie.

As jongste kind het ek ook mos maar nie eintlik ‘n sê gehad nie en wanneer ek my vreemde idees geopper het, is dit deur iemand geveto. Maar dit was okay, ek ís mos immers die jongste!

My broer was ook baie slimmer as ek en ook dit was regtig nie vir my ‘n probleem nie, ek het presteer op my eie manier.

Tog, in ander situasies, sal die stemmetjie telkemale vir my sê, nie goed genoeg nie, en dit het al hoe erger geraak soos ek ouer word, terwyl ek regtig al so lank daarteen veg. Ek het kursusse gedoen sodat ek in my eie hart kredietwaardigheid kan hê. Ek het dit sielkundig benader, met myself gepraat, geraas, soveel so dat ek myself eintlik heeltemal oortuig het, ek is goed genoeg. Sonder dat mense dit besef, probeer hul my ook oortuig, goed genoeg, goed genoeg, goed genoeg … ja ja jaaaaaa!

Maar waar lê die fout?

My HART!

Dit help nie ek doen alles in die wêreld om myself te oortuig nie, dit help nie ek doen my uiterste bes nie, dit help nie my oë sien dit en my ore hoor dit en my verstand word oortuig daarvan nie, maar my HART wonder nog daaroor nie.

Dís waar die gebedsberading inkom. ( Transformation Prayer Ministry) Daardeur kon ek die leuen sien wat ek glo. Die leuen is nie dat ek nie hard genoeg probeer nie, of wat ook al nie, die leuen wat as sewejarige in my kop sy vastrapplek gekry het, is dat ek glo ek nie goed genoeg is nie, en omdat ek nie goed genoeg is nie maak ander mense hul make, wat totale NONSENS is.

En God SELF kom wys my dat ek goed genoeg is, dat ek behoort, goed wat ek tog WEET, en omdat Hyself vir my dit wys en sê, hoe kan ek dit dan nie glo nie? En weet julle watter verligting is dit? Skielik kom ander goed ook reg, goed wat al vir 30 jaar massiewe probleme in my hart en lewe veroorsaak het, omdat ek dit nou die heel eerste keer in my Hart glo.

So dis my storie! Wat is joune? Watter leuen glo jý dalk jou lewe lank, iets wat jou vreugde op soveel gebiede steel, wat veroorsaak dat jy nie jou volle potensiaal bereik nie, wat maak dat jy dalk soveel harder moet probeer as wat nodig is? Kom by iemand uit wat jou kan help, hoor God se hart en sien hoe kosbaar jy vir Hom is.

Groetnis

Toortsie

Toortsie by Finesse: So nou sal ek seker maar die pannekoek moet bak?

Toortsie se Faceboekpage

Toortsie se Bantingboerekos faceboekpage

Toortsie’s LCHF Journey

Finesse Blogger van die week. 

Toortsie se getuienis: Radio Tygerberg