Soos baie mense wat hier lees mos noual weet, is dat ek ‘n fasiliteerder (ek sien dat dr Ed Smith, hoof van TPM, eerder die woord ‘Mentor’ verkies) vir TPM is. Transformation Prayer Ministry. Transformasie Gebedsbediening.
Jare gelede het ‘n baie goeie vriendin van my vertel dat sy betrokke is by Theophostic Prayer Ministry. Ek was op daardie stadium besig met ‘n Christelike Nood- en Traumaberadingskursus by die Hugenote Bybelinstituut op Wellington. En daarná het ek by dieselfde kollege hulle Bybel- en godsdienskundekursus gedoen.
Anél het dit duidelik laat deurskemer dat ek dit moet oorweeg om Theophostics ook te doen. Wat my egter afgesit het, was dat die kursus oor ‘n uitgestrekte tyd oor naweke in die Kaap aangebied word en dat ek nie regtig kans sien om vir ‘n lang tyd gereeld vir naweke Kaap toe te moes gaan nie. Ek is nogal heilig op my naweke en die afstand en die koste daarvan het in my pad gestaan.
Tot ek self trauma beleef het. Erge trauma wat ek nie met my eie meganismes kon verwerk nie. Ek het hulp nodig gehad en natuurlik vir Anél geraadpleeg. Wat daardie dag met my in die TPM-kamer gebeur het, is onbeskryflik. God werk op wonderlike maniere! Ek het soveel heling ontvang. Ek het dit vir ander ook gegun. Ek wou TPM aanleer, want hier is soveel mense wat onverwerkte trauma beleef, mense wat dit dalk nie kan bekostig om Kaap toe te moet ry vir so iets nie. Mense wat nie ‘n sielkundige nodig het nie, maar sommer net met God kontak moet maak.
Op ‘n stadium vra ek haar of daar nie ‘n ander manier is om die kursus te doen nie. Dalk kan ek die boeke by my huis lees of so iets? Sy vertel toe dat Theophostics heeltemal verander het. Dit is vereenvoudig, word nou Transformation Prayer Ministry genoem en die kursus kan gratis aanlyn gedoen word. Dadelik het ek belanggestel en het ek die kursusmateriaal begin deurwerk. (Intussen is dit ook al baie meer vaartbelyn gemaak op die rekenaar.)
Net mooi toe ek die internet-kursusmateriaal klaar deurgewerk het, het die boodskap gekom: Daar word ‘n TPM-kursus in die Kaap aangebied. ‘n Verkorte kursus oor twee naweke. ‘n Intensiewe kursus. Ek het gegaan!
Ek doen nie TPM voltyds nie. Hier staan nie rye en rye mense wat wag vir ‘n afspraak nie. Ek wil dit ook nie voltyds doen nie, want ek is al op aftreeouderdom. Maar ek wil graag mense help wat my kontak. Sedertdien het ek al in my eie TPM-sessies met myself en ook met ander soveel wonderwerke beleef, ek staan elke keer net verstom. Om te sien hoe iemand se liggaamstaal verander tydens ‘n TPM-sessie van vrees na vryheid, kan jy nie beskryf nie. Soms sit ek net in verwondering as ek die transformasie wat plaasvind, beleef. En ek kan nie ophou om vir God te dank dat ek dit mag beleef nie, dat ek deel daarvan mag wees, net ‘n stukkie toerusting in Sy hand om mense se harte heel te maak nie.
Alhoewel die gewone TPM heeltemal doenbaar is vir alle ouderdomme, verkies ons om dit slegs vanaf hoërskoolouderdom met mense te doen, tot natuurlik op ‘n baie hoë ouderdom. Kinders praat deur speel en speelgoed is hulle taal, daarom dat ons kinder-TPM deur speel verkies. Want ‘n kind vertel meer deur speel as wat hy altyd die woorde voor het. Of hy weet nie hoe om sy gevoelens in woorde om te sit nie.
Ek is baie opgewonde, want ek is tans intensief besig met die Kinder-TPM kursus. En ek is besig om die speelkamer in te rig. En hierdie ouma hou van speel. Saamspeel. So, as God dit so wil hê en kinders vir my stuur, gaan ons speel!
Dit bring my by die vrae in my hart: My eerste vraag, of ek steeds moet aangaan met TPM, het God baie hard en duidelik vir my verlede naweek geantwoord: Beslis ja. Of ek die koste moet aangaan om ‘n speelkamer in te rig? Sal ek dit ooit soveel benut? En ek wil dit dan nie heeldag en aldag doen nie? Is dit die moeite werd? Is dit die koste werd? Die antwoord: ‘n Besliste ja. Dit is die moeite werd. Al sien ek in my leeftyd NET EEN kind, al kan ek net een kind help om sy seerkry te verwerk, dit wat hom pla ligter te maak, vir hom sy lewenspad vorentoe makliker te maak, is dit beslis oor en oor die moeite werd. Want een kind se lewe is meer werd as die koste van ‘n paar speelgoedjies. Oor en oor baie meer weer werd.
So, vriende, hierdie tannie is besig om allerhande goetertjies bymekaar te maak: ‘n Sandbak, karretjies, poppies, diere, wilde diere, trekkers en plaasimplemente … alles sodat ‘n kindertjie iewers dalk vir my ‘n storie in die sand kan vertel … en ek is baie opgewonde daaroor.
Aan God alleen al die eer. Dit gaan nie oor my nie. Dit gaan oor Hom en die persoon wat Hy vir my stuur.
Toortsie
Ns. TPM is 100% Bybelgefundeerd. By TPM glo ons aan die Drie-Enige God. Ons aanvaar dat God ‘n Persoon in die TPM-kamer is en direk betrokke is by die proses. Ek is slegs die mentor/fasiliteerder tussen die kliënt en God. Ons gebruik geen vreemde tegnieke nie, ons maak nie kontak met dooies nie, ons gee nie raad nie, gebruik nie vreemde okkulte nie, roep nie geeste op nie, voorspel nie die toekoms nie. Dit is nie New Age nie. Dit is suiwer ‘n gebedsessie waar ek eenvoudige vrae vra soos: Hoe voel jy, hoekom voel jy so, is jy kwaad vir iemand, ens.
……..
Intussen het dinge baie hier by my verander. Lees ‘declutter‘.