Ja, daar is van ons wat swem, maar ek hou glad nie van swem nie en my pa het nie eers met sy voete in die water geloop of visgevang nie. Dis eintlik ‘n skande as jy daaraan dink dat ons omtrent teen die see gewoon het en my ma tog baie lief was vir swem. Maar nee, my oom het verdrink en daarom is ons almal nou bang vir water. En net indien jy wonder, dit was laaaaank voor my geboorte, my pa was maar ‘n skrale 5 jaartjies oud. En nee, oom Daantjie het nie geswem en verdrink nie. Hy het visgevang toe ‘n fratsgolf hom in die see ingeslaan het en te pletter teen die rotse en hulle nooit sy liggaam kon vind nie. Sies tog, dit moes ‘n groot skok vir my oupa-hulle wees wat toe sekerlik maar gekeer het dat hulle kinders onnodig in die water ingaan.
So kyk ek baie keer hoe ander mense hulleself in die swembad of see geniet, maar die moed is net nie genoeg om self ook in te klim nie, selfs al is die lus daar. En as hulle my nog natspat of net waag om aan my te raak, raak die angsvlakke so hoog, ek klim sommer uit.
‘n Belaglike opmerking wat iemand vir my op die verkeerde tyd gegee het, het my laat wonder hoekom dit my so ontstel en ek ondersoek dit toe maar op my ou manier: TPM (Transformation Prayer Ministry). Soos ek al voorheen gesê het, is TPM ‘n voordurende proses wat iemand wat die proses aangeleer het, ook op homself kan toepas. En dit is nie altyd die voor die hand liggende goed wat uitspring nie, maar soms dinge wat jy nie eers geweet het bestaan nie. En God praat met elke persoon op Sy eie manier, soms op regtig vreemde maniere.
In my TPM-gesprek met God kom ek uit by ‘n vreemde leuen: Onbevoeg, en dat ons familie nie kan swem nie. En ons kom by ‘n insident uit wat al voorheen sy kop uitgesteek het, maar in ‘n ander hoedanigheid: Die dag toe ek in standerd twee my kop onder die water moes druk om te leer asemhaal onder water. Die vorige keer het God vir my gewys dat ek kán dryf en effens swem, geen rede dus tot angs nie.
Hierdie keer ervaar ek dat ek diep onder die see in ‘n emmer sit. Heeltemal veilig. Die emmer se deksel is op, daar is genoeg suurstof en ek kan heeltemal gemaklik in hom sit. Maar terwyl ek daar sit, mis ek al die pret. Wil ek daar bly sit, of wil ek die deksel afhaal en uitkom? Deksel afhaal beteken water wat instroom, beteken ek word nat, my gesig ook. God wys my dat ek bevoeg is om die deksel af te haal, om vry te kom van ‘n familieleuen, maar ek en slegs ek kan die deksel afhaal. Ek stamp die deksel af en gaan vanself na bo, want ek kán mos dryf! En soos ek boontoe beweeg voel ek hoe ek bevry word.
Watter familieleuen dra jy met jou saam? Is julle familie maar stadig? Dom? Meestal minderwaardig? Is mense met jou naam geneig tot selfmoord? Het jy ‘n sterk angel omdat jy ‘n Skerpioen is? Is jullle familie slim, maar verkies om eerder julle talente weg te steek? Of is julle maar sommer ‘n voorbarige klomp? Kan julle nie eintlik stories vertel nie terwyl jy in der waarheid met ‘n sak vol stories in jou rondloop? Of ons familie sal altyd sukkelaars bly. Ons hou ons geloofslewe privaat en praat nie daaroor nie. Watter familieleuen bind jou vas? Pootjie jou? Druk jou in ‘n emmer? Dalk is dit tyd om dit af te skud. 🙂
En nee, ek gaan nie nou skielik ‘n Springbokswemmer raak nie, maar ek dink dat, as die water nie te koud is nie, ek dalk meermale in ‘n swembad mag klim in die toekoms.
Toortsie